Afdak BMW die regte medisyne

BMW m240i, convertible,manskap
Foto: Charlen Raymond

Somer is amper hier – okay, nog ʼn paar maande – maar tot dan moet die winterson tot die uiterste benut word. Dit beteken dat jy sonder ʼn hoed kan rondloop en nie té veel oor sonsteek bekommerd hoef te wees nie. Of dat jy kan bepaal hoe warm of koud jy wil kry deur die hoeveelheid kledingstukke aan jou lyf. Of nog beter, jy kan besluit of jy jou kar se dak op of af wil hê. ʼn Kar soos die BMW M240i afslaandak.

Hiér is nou vir jou ʼn lekker kar wat die koppe vir die regte redes laat draai. Nie oor wat nie, maar omdat jy in oortrokke weer rustig teen die kus kan ry sonder om jou oor ʼn warm son te bekommer. Dis ʼn tipe personifikasie van moeitelose afdak rygenot.

Slaan hom plat

Die afdak M240i, of M240i convertible as ons nou sy doopnaam gebruik, is ʼn besonderse kar. Dit kondig sy teenwoordigheid aan deur net stil te staan. In daardie grys verf staan dit uit en trek dit aandag om elke hoek en draai. Die wielboë vou uit hul nate en pas die 18-duim bande mooi volrond daarin. Dit herinner sterk aan die M240i M Performance wat ons laas jaar onder hande geneem het, maar dit moet klaarkom sonder die spesiale afwerking.

Dis nie ʼn baie vinnige proses nie, maar wanneer die BMW sy dak laat sak maak dit ʼn ander wêreld oop. ʼn Nuwe wêreld. Die lapdak vou oop en na etlike sekondes word dit in die kattebak versteek. Dan dans die poppe; dan laat vaar Rooikappie haar kapsel en is sy nóg sexier vir die wolf se smeulende oë. Daar is net iets omtrent hierdie kar wanneer alles ontbloot is. Die reguit lyne, die aaneen voue in die bakwerk. Alles werk net!

LEES: Hardekwas BMW ʼn M in skaapsklere

Wat dit ook toelaat is dat mens nou ʼn direkte blik op die binneruim het. Die leer sitplekke is uitnodigend en sit lekker, maar die binneruim is maar tipies BMW: verbeeldingloos en eentonig. Dit staan nie uit nie, maar dit bied darem ʼn bekendheid wat help dat mens maklik jou weg oor die kontroles en stelsels kan vind. En vir die geld kry jy ook nie elektriese sitplekke nie, maar moet dit met die hand verstel word. Gelukkig kan mens lekker diep sit wanneer jy agter die stuur in skoffel.

Suiker padlangs

Die M240i word voort gestu deur BMW se bekende 3.0-liter ses-silinder enjin. Wat ʼn juweel! Og, die gemak waarteen die kar beweeg wanneer al daardie perde op ʼn gallop is! Soos ʼn stoomtrein wat se kool in oormaat is. 250kW en 500Nm word na die agterwiele gepomp en omdat die dryfas agter en die enjin voor is, is daar ʼn lekker balans tot die kar. En die agt-spoed outomatiese ratkas is gladder as seep, ongeag die ritmodus.

En dit help wanneer die langpad voor jou ooplê. Nou, BMW sê dat hulle die kar se topspoed tot 250km/h beperk het, maar daar is en was net nooit rede om dit te beproef nie. Die manier hoe die kar teen nasionale snelhede draf het opgemaak daarvoor. Dis diep lekker, en selfs in Eco modus is daar genoeg krag wanneer jy dit nodig. Die versneller is wel minder sensitief, maar jy raak gewoont daaraan. Maar skakel dit oor in Sport modus en alles word wakker. Nie M2 wakker nie, maar lewendig! Dan word heuwels en passe vir ontbyt verorber.

En die dak? Wel, dit was op én af. Maar meestal op. Want sien, om die langpad teen 5vm te vat is nie speletjies nie. Die Noord-Kaap se temperature kén van rondom 0°C tol en dis ʼn bibberende affêre om daai tyd van die oggend jou dak te laat sak. Iemand met ʼn bles sal binne sekondes ʼn potblou kol op sy hofie hê.

Slotsom

Dit moet sekerlik een van die lekkerste motors wees wat BMW tans bied, maar daar is tekortkominge. Passasiers agter, byvoorbeeld, se beenruimte is erg beperk en maak dit lang ritte bykans ondraaglik. Al word daar elke twee ure/200km gestop, bly die ongemak daar. Teen 430L is die kattebak lekker groot, maar die ruimte waarin die lapdak wegvou neem heelwat van daardie ruimte op. Mens kan die motor met die druk van ʼn knoppie aanskakel, maar sleutellose toegang tot die kajuit is opsioneel beskikbaar.

Afgesien hiervan bly die afdak M240i ʼn uiters lekker kar… vir twee. Ongeag die bestuurstyl wat jou oorval, pas die kar daarby aan. In die stad is dit nie soos ʼn vis uit die water nie, en op die oop pad, waar jy gou-gou die 4.7 sekonde 0-100km/h-lopie kan beproef, is dit nóg beter. Vir die prys sou mens dalkʼn bietjie meer elektronika verwag, maar hierdie BMW bied ongetwyfeld ʼn baie lekker rit.

Prys: R815 999 (Junie 2018)