AMPTELIK: Nuwe Suzuki Vitara geprys

Manskap,suzuki,vitara,suzuki vitara,suid-afrika,south africa,suv,new vehicle,
Foto: Suzuki SA

Die hersiene Suzuki Vitara word eersdaags in Suid-Afrika bekendgestel en alhoewel daar nog nie enige amptelike persverklarings oor hierdie nuwe SUV is nie, kan ons hier by Manskap met sekerheid sê dat ons pryse vir die nuwe reeks bekom het.

Die nuwe Vitara word slegs deur ʼn nie-turbo 1.6-liter petrol enjin aangevuur en lewer dit 86kW en 151Nm se wringkrag. ʼn Vyfspoed hand- of ses-spoed outomatiese ratkas kan aan die enjin gekoppel word met krag wat na die voorwiele gestuur word. Slegs die handrat GLX is met Suzuki se AllGrip 4×4 stelsel beskikbaar. Op die 4×2 modelle word petrolverbruik as 5.8 L/100km aangegee en vir die 4×4 6.0 L/100km.

Daar was sprake dat Suzuki dalk ʼn turbo enjin by die reeks sou voeg, maar die Suzuki Suid-Afrika webblad maak nie daarvan melding nie.

AllGrip vir Vitara

Die AllGrip stelsel wat Suzuki in die Vitara gebruik is dieselfde stelsel wat ook in die uiters gewilde Jimny diens doen, maar in die Vitara se geval is daar vier moduse waaruit bestuurders kan kies: Auto, Sport, Mud/Snow, en Lock Mode. In Auto trek die SUV deur die voorwiele, maar sodra dit enige tekort aan greep optel stuur dit dadelik krag na die agterwiele.

Sport, sê Suzuki op hul amptelike webblad, maak dat die enjin en ratkas met meer dringendheid reageer en neem die traksiebeheer ook langer om in te skop. Mud/Snow is op glad en glyerige oppervlaktes gemik en stuur hoofsaaklik al die wringkrag na die agterwiele. Lock Mode stuur konstant die grootste hoeveelheid wringkrag na die agterwiele.

Lees: Suzuki slaan uitklophou met nuwe Jimny

Rakende die praktiese kant van die Vitara bied dit 375L van laairuimte, maar dit vergroot natuurlik met die plat vou van die agterste sitplekke. Sewe lugsakke vind ook hul weg na die binneruim en is daar heelwat elektronika om seker te maak dat jy veilig op die pad is.

Manskap,suzuki,vitara,suzuki vitara,suid-afrika,south africa,suv,new vehicle,
Foto: Suzuki SA

Pryse

Volgens wat Suzuki SA op hul webblad aangee, prys die nuwe Vitara vanaf R281 900 vir die 1.6 GL 5MT tot R374 900 vir die 1.6 GLX 5MT AllGrip. Die prys sluit ʼn vier-jaar/60 000km diensplan en padbystand in.

  • Vitara 1.6 GL 5MT – R281 900
  • Vitara 1.6 GL+ 5MT – R318 900
  • Vitara 1.6 GL+ 6AT – R337 900
  • Vitara 1.6 GLX 6AT – R359 900
  • Vitara 1.6 GLX 5MT AllGrip – R374 900