Audi A5 ʼn genotvolle ryding

Audi A5
Foto: Charlen Raymond

Ek gaan nie doekies omdraai nie: híérdie Audi A5 TDI het my bekoor. Nie omdat dit stylvol, mooi en aantreklik is nie, maar omdat ek elke rit agter die stuur geniet het. Maar laat ons by die begin begin. Die kar se vloeiende lyne en lae profiel maak van dit ʼn trekpleister op die pad en die lekker 18-duim bande rond als net mooi af.

Dis die een groot voordeel van ʼn koepee: dit lyk lekker en aanloklik. En dis baie keer al rede wat jy kort om een aan te skaf.

Nie só prakties nie…

Vir die bestuurder en voorste passasier is daar nie juis veel om oor te kla wanneer dit by die genotvolheid van die A5 kom nie. Jy klim in die kar en is meer keer as nie amper dadelik gemaklik. Maar omdat die kar so laag aan die grond is beteken dit dat jy half in jou sitplek in ploeg. Groter ouens en vrouens gaan meer van ʼn probleem hiermee het, maar as dit jou nie pla nie, gaan dit jou nie pla nie.

Sou jy besluit om met ekstra passasiers rond te rits, gaan jy die voorste sitplekke moet skuif en loop jy dan die risiko dat die sitplek nie weer sal wees in die posisie wat vir jou gemaklik is nie. Die agterste sitplekke kan gebruik word, maar kies liewer wie jy agter-in wil laai.

Lekker op die pad

Onder die enjinkap skuil Audi se 2.0-liter diesel enjin wat 140kW en 400Nm uitskop. Dis lekker syfers en dit maak dat jou regtervoet onwillekeurig begin klop. Want jy weet dat met 400Nm wat al van onder 2000rpm beskikbaar is gaan jy vet-pret hê. Daar is ʼn paar ritmodusse om van te kies wat die kar se verrigting beïnvloed, en dis dan hier wat die A5 begin uitblink. Die kar kan in gemak voort ploeter, sonder dat jy voel dat die rit vervelig of langdradig is.

Maar die modus wat die beste uit die kar bring is ongetwyfeld Dynamic. Die kar se suspensie raak ʼn bietjie fermer, die stuuraksie meer direk en die reaksie van die petrolpedaal meer gevoelig. En dit verander die kar in iets wat nie juis met ʼn diesel-gedrewe kar geassosieer word nie. Die A5 klim teen die toere uit, dit tel spoed op met mening en sit om ʼn draai so bes dit kan. Dis lekker, hierdie A5, maar druk dit té hard deur ʼn draai en die voorwielgedrewe luuksheid begin swaarkry onder al daardie gewig.

Maar die beste aspek van hierdie kar: teen 120km/h en in sewende rat kielie die kar 1800 revolusies per minuut en gebruik dit skaars 4.5-liter/100km. Selfs teen 140km/h is ʼn gemiddelde verbruik van 5.0-liter/100km ook op die tafel. Dis regtig ekonomies!

Anders as die A4 waarop die A5 geskoei is, is daar praktiese tekortkominge met die koepee. Maar as ʼn dinamiese proposisie het dit genoeg skietgoed om jou te laat glimlag. Hierdie kar is genotvol en huts jou aan vir net nog één rondrits. Lekker.