Avontuur: Pa & seun deur Afrika!

Kingsley Holgate
Foto: Land Rover SA

Meeste mense hou van ‘n goeie storie. Veral die soort wat gevul is met duidelike beelde, emosie, en lewe. En dis een ding wat Kingsley Holgate goed kan doen: ‘n storie vertel.  Maar wag eers, jy wonder seker wie hierdie Holgate man is.

Hy is maar net een van ons tyd se mees bekende reisigers. Maar net iemand wat probeer om die mense met wie hy in kontak kom se lewens te wil verbeter soos hy deur Afrika reis. Ag, hy is maar net ‘n 70-plus-jarige man wat vir Land Rover lewe. Hy is tien-teen-een Land Rover se grootste ambassadeur, maar beslis ‘n wonderlike storieverteller.

Mr Land Rover homself

Kingsley en sy gesin het in Kwazulu-Natal met Land Rovers groot geword. Soos hy meer jare op sy kerfstok gepak en later dan ook met ‘n gesin van sy eie begin het, was die passie vir die bekende Britse vervaardiger na sy seun, Ross, oorgedra. En saam het hierdie pa en seun span, saam met hul spannetjie, deur Afrika begin reis. Kingsley se oorlede vrou het ook in sy passie gedeel.

Maar hulle reis nie net deur die Afrika-kontinent vir die pret nie. Nee. Die Holgates, in samewerking met Land Rover, het dit hul missie gemaak om die minderbevoorregtes te help deur muskietnette te verskaf (malaria is ‘n groot probleem!), sowel as brille en apparate om water te suiwer. Noem op, kanse is dat hulle dit waarskynlik doen. En terwyl hulle so deur Afrika reis is hul wa ‘n Land Rover Discovery. En hul nuwe missie na Somalië gaan hulle in ‘n nuwe Land Rover Discovery aanpak. Dis als goed en wel dat hul nuwe avontuur in ‘n nuwe Discovery aangepak sal word, maar vir iemand soos Kingsley moet sy vervoer byna onheilige terreine kan oorkom. Dit sluit nou in rotse, gate, diep water, bulte en heuwels wat soos ‘n berg jou staan terwyl ‘n waentjie agter-aan vasgemaak is.

Om die kampvuur

By die loodsing van die nuwe Discovery, rondom die kampvuur, het die Avonturier stories vertel waar hy amper sy lewe verloor het, hoe hy oorweeg het om die emmer te skop terwyl hy onder ‘n duisend-jaar-oue boom lê en die bloed onophoudelik by sy arms uitstroom. Hier staan ‘n man wat die beste van die lewe ervaar het, maar ook al ‘n paar keer aan die bitter beker moes drink.

En deur elke hindernis en probleem wat die laaste paar jaar oor sy pad gekom het, was hy agter die stuur van ‘n Discovery. Dis dan dat die nuwe Discovery, met al sy tegno-truuks en luukshede, sy storie moet ken om hierdie man te kan beskerm. Daar wag ‘n vuurdoop op hierdie SUV!

Kingsley en Ross is amper op pad op hul nuwe missie. Die bestemming: die Horing van Afrika in Somalië. Een van Afrika se gevaarlikste plekke. Kingsley gaan waarskynlik die missie in ‘n diesel Discovery aanpak; siende dat diesel baie meer geskik is vir die lang pad. Maar al ry hy ‘n diesel of petrol weergawe, die nuwe Discovery, nes Kingsley en sy seun, staar een van sy moeilikste toetse in die gesig: Afrika.

En ja, dit is toegerus om die bes moontlike en gemaklikste rit oor lang afstande te bied en dit het die off-road vermoë om hierdie pa en seun veilig te bring daar waar hulle wil wees. Kan jy jou voorstel watse stories hy mee terug gaan kom? Stories van hoe die Discovery als oorkom het. Stories van hoe opgewonde mense was oor die kleinste geskenkie. Stel jou voor hy bereik Somalië, wanneer hy by die Horing van Afrika arriveer, en hy staar oor die see en die kalmte spoel oor hom en Ross…

Verbeel jou Kingsley draai om en die Discovery se diesel enjin por hom aan om die pad terug te vat. Ai, die stories wat hy nie sal kan vertel nie!

A post shared by Patrick Cruywagen (@busheditor) on