‘Baba’ F-Type maak dinge los

Jaguar F-Type
Foto: Charlen Raymond

Puriste sal frons as Jaguar sy F-Type met ʼn enjin moet toerus wat nie ses of agt silinders het nie. En toe maak Jaguar so! Einde 2017 se kant het ʼn paar joernaliste by Kyalami renbaan saamgetrek om die bekendstelling van die kleinste F-Type by te woon. Maar daardie “klein” verwys nie na ʼn kar wat kleiner as die res va die F-Type reek is nie. Dis net dat die kar met ʼn 2.0-liter vier-silinder enjin toegerus is. ʼn Enjin wat baie kleiner is as dit wat ons van die F-Type kom verwag het.

Die toetsperiode, ʼn paar maande na die bekendstelling, moet dan ʼn aanduiding gee van wat die nuwe toevoeging te bied het. Om uit te vind of die nuutste model tot die reeks voeg, aldan nie.

Darem nog F-Type

Jaguar het die F-Type se uitkenbare ontwerp op die nuwe 2.0-liter model behou; met die lang neus wat voor die bestuurder uitgestrek lê. Die bekende luginlate voor en vloeiende kopligte wys steeds dat dit nog herkenbaar F-Type is. En daardie bult op die enjinkap lyk steeds hond kwaai, veral van agter die stuur. Van agter lyk die kar reg vir besigheid en is dit dramaties van amper elke hoek.

Dis nie só maklik om die 2.0-liter van die ander modelle uit te ken nie, maar as mens mooi kyk sal jy die klein verskille kan sien. Agter is die groot verskil die uitlaatpyp. Dis nou net een, groot pyp mooi in die middel van die agterste buffer. Die V8 modelle het twee pype aan elke kant van die buffer en die V6 modelle ʼn dubbele pyp in die middel. En dan is daar die 2.0-liter se pragtige 19-duim wiele. Mens moet erken dat die F-Type se ontwerp sy ouderdom begin wys, maar steeds trek dit aandag waar ookal jy gaan.

Die grootste stukkie kritiek – ja, daar is kritiek – is dat hierdie stukkie prag se kattebak nutteloos is. ʼn Vol grootte spaarwiel neem alle plek op, wat geen ruimte vir bagasie laat nie. Nie eens jou golf stokke nie! Kruideniersware moes strategies geplaas word.

Jaguar F-Type
Foto: Charlen Raymond

Die enjin

Kom ons kry dit net uit die pad uit: die 2.0-liter klink nie so lekker soos beide die V6 óf V8 nie. Ja, dit grom so ʼn bietjie om ʼn glimlag om jou bakkies te sit, maar dis nie dieselfde nie. Dit ontlok nie die sintuie soos sy groter boeties doen nie. Hoe dit ookal sy, hierdie enjin is met een doel voor oë tot die reeks gevoeg: om die ekonomiese alternatief  in ʼn F-Type reeks wat verskriklik dors is, te wees. Met 221kW en 400Nm sal mens dink dat hierdie kar nie lig op petrol kan wees nie, maar ʼn konserwatiewe voet kan dit dalk laat gebeur. Bewys hiervan is op die oop pad, teen nasionale snelhede, het onmiddellike verbruik tussen 6.0 – 7.5 L/100km gespring.

Skakel die ritmodus oor in Dynamic, maak seker die uitlaatpype se kleppe is oop, deaktiveer DSC (dynamic stability control), en kyk hoe die petrolverbruik se vlakke die V6 modelle sʼn jaag. Dit maak die enjin uit sy slaap uit wakker en omskep dit in ʼn gatswaai ervaring uit die boonste rakke. Ongeag ʼn kleine bietjie turbotraagheid wanneer mens skielik en hard op die versneller trap, reageer die kar heel goed en speel die agt-spoed outomatiese ratkas met graagte saam. Dis nogal ʼn goeie kombinasie.

Die eerste helfte van die toetsweek het maar uit energieke oomblikke bestaan, wat die verbruik swaar getref het. Maar die tweede was meer op bedeesde oomblikke gemik. In die week het die verbruik tot byna 16 L/100km gestyg, maar op die laaste oggend het dit op 12.9 L/100km te staan gekom. Ek dink, en dit gaan ʼn monumentale poging kos, dat die gemiddelde verbruik dalk tot rondom die 9.0 L-merk kan daal, maar dan moet jy méér gedissiplineerd as die Pous wees!

Ry hom

Die F-Type was nog altyd bekend vir sy lekker innemende ritgehalte. ʼn Bestuursondervinding so intens en rou dat dit byna geen gelyke gehad het nie. Die kar se kompetisie mag dalk meer presies en tegnies uitmuntend wees, maar dit was juis dít van die F-Type wat dit anders gemaak het. ʼn Baie goeie anders.

Die nuwe enjin is meer beheerbaar as die ander in die reeks. Dis makker, makliker om die krag te ontsluit. Maar voor jy Jaguar uitlag vir die rigting wat hulle ingeslaan het, onthou net dat hierdie F-Type ʼn heel ander doel voor oë het. Met meer as 50kg wat oor die voorste as alleen gesny is, is die kar ratser as beide die V6 én V8. Nie eens die kook-my-bloed-dan-nou F-Type 400 Sport se stuur is so gemaklik soos dié ene sʼn nie. Die dinamiese vermoëns van die 2.0-liter F-Type, veral in die draaie, betrek jou as bestuurder by die ervaring. Die suspensie is hersien om gemakliker te wees, maar dit bied steeds genoeg sodat jy jou gunsteling bergpas kan tem.

Jaag die toere die rooi in en die uitlaatpyp gee so ʼn lekker grom af soos die toere al hoe hoër klim. Moker die ratwisselaars wat agter die stuurwiel skuil om die volgende rat te haak en daar is genoeg verrigting wat net aanhou en aanhou.

Opsomming

ʼn Motor so bekwaam soos die F-Type het baie goed gedoen met net twee groot enjins in die reeks en dit het nooit jammer gesê vir die feit dat dit ʼn rou sportskar is nie. Maar die byvoeging van die 2.0-liter model(le) het tot die motor se profiel gevoeg. Dit mag nou wel nie die kragtigste óf die vinnigste model wees nie, maar dit is dalk net die ideale F-Type wees. Gegewe dat elke dag nie ʼn ren dag is nie.

Puriste sal vir óf die V6 óf die V8 gaan, maar die slimgeld sal op die nuweling wees.

Jaguar F-Type
Foto: Charlen Raymond

2 Trackbacks / Pingbacks

  1. ʼn Katjie vir my verjaarsdag | #AfrikaansePaartjie
  2. Onthou jy daai keer, my Lief... | #AfrikaansePaartjie

Comments are closed.