BMW 630d GT maak dinge prakties

bmw,manskap,south africa,suid-afrika,gt,6 series,6 reeks,luxury
Foto: Charlen Raymond

BMW het sy 6-Reeks met die GT baadjie trakseer en is hierdie 630d GT M Sport aan die ontvangkant daarvan. Is dit darem goed?

Die GT benaming, of te wel Gran Turismo, het BMW so ʼn paar jaar terug net aan sy 3- en 5-Reekse gegee en was dié se karre so ʼn tussen-in opsie tussen ʼn sedan en SUV. Dink aan dit as ʼn MPV van soorts, maar net met ʼn langer gat. In die jare wat volg het die verkope net nooit enige noemenswaaridge suksesse getref nie en het BMW besluit om die modelle so stukkie vir stukkie uit te faseer.

Maar hoe dan nou met die 6-Reeks? Die 6 is die twee-deur weergawe van die 5-Reeks en is daar nie ʼn manier dat kopers sommer ekstra sal betaal vir ʼn 5-Reeks GT oor die ekwivalent 5 nie. Maar tog, glo BMW, is daar ʼn gaping in die mark vir iets soos die GT. Dus, het die bemarkingspan besluit om die GT aan die 6-Reeks te besorg. Dit maak dan nou dat die 6 as beide twee- en vier-deur beskikbaar is, en die vier-deur wat méér beenruimte as die twee-deur bied, plus ʼn baie bruikbare laairuim wat ook tot die pakket gevoeg word.

Slim, né?

bmw,manskap,south africa,suid-afrika,gt,6 series,6 reeks,luxury
Foto: Charlen Raymond

Baie ruimte

Een van die 6-Reeks GT se grootste pluspunte is die aantal ruimte wat dit het en hierdie 630d GT trek nie aan die korste end nie. Van buite kan mens sommer sien dat hierdie ʼn groot wa is en die afmetings bewys nie die teenoorgestelde nie. Van alle kante kan mens sien dat hierdie wa sonder twyfel intensie het; intensie om bo alles uit te troon. Om die meeste ruimte op te neem en seker te maak dat bystanders dit sien.

Wat veral lekker lyk is die agterkant wat so na onder gly. Die dak, lyk dit, begin doer bo en gly dan op ʼn egalige manier af na onder. Dit swoep en sweef en kom mooi byeen agter by die vyfde deur. Die detail wat aan die agterligte se ontwerp gegee was is ook besonders goed.

Binne is daar oorgenoeg ruimte vir vir almal en kan vyf insittendes gemaklik wees. Maar, die persoon wat agter in die middel sit trek bietjie aan die korste end wanneer dit by die geriewe kom… in die voorste sitplekke se kopstutte is skerms waarop mens jou gunsteling video kan kyk en ander media beheer. Tog, beenruimte is daar baie van vir almal. Die sitplekke bied goeie ondersteuning en is daar verhitters in die voorstes. Daai laairuim is ʼn massiewe 610L, maar vergroot tot 1 800L wanneer die sitplekke plat geslaan word; óf met die hand, óf elektronies.

bmw,manskap,south africa,suid-afrika,gt,6 series,6 reeks,luxury
Foto: Charlen Raymond

Druk van ʼn knop

Die 630d GT het nie enige tekortkominge wanneer daar van tegnologie gepraat word nie. Om net ʼn paar uit te lig…

Daar is gonsers vir wanneer mens uit jou baan beweeg of as iets in jou blindekol beweeg. Die kar sal ook vanself terugbeweeg wanneer dit vermoed dat jy uit jou baan beweeg. Dis ietwat irriterend, want na ʼn week kon ek nie vasstel presies waar mens hierdie tegno-truuk afskakel nie. Mens kan ook besluit om stuur aan die kar oor te laat vir baie kort rukke, maar jou hande moet steeds gereed wees om in te spring wanneer die kar nie die lyne op die pad kan lees nie en dan reguit in ʼn draai ry.

Die voorste sitplekke het ʼn geheue funksie wat jou gekose posisie sal stoor. Die uitleg van die voorste paneel in die inligting rekenaar voor die bestuurder is ook gerieflik en maklik om te verstaan.

Wat wel gepla het was dat die ruitveërs met die hand beweeg kon word, al is die motor afgeskakel. Dit het die eerste keer gebeur nadat die motor met die afstandbeheer gesluit word en die ruitveërs toe net skielik ʼn paar sentimeters op beweeg. Met nadere inspeksie was vasgestel dat jy sommer so met die hand jou venster kan skoonmaak. Die ander punt is dat die kattebak, oftewel die vyfde deur, elektronies toegemaak kan word. Die probleem is, dus, dat die meganisme wat die aksie laat gebeur baie vinnig werk. Daar is nie enige sensors wat vasstel of daar objekte in die pad is nie. En wanneer die deur toeslaan, slaan dit letterlik toe. Mens druk die knoppie en moet dan hoop dat jou kinders nie in die omtes is nie.

bmw,manskap,south africa,suid-afrika,gt,6 series,6 reeks,luxury
Foto: Charlen Raymond

Fantastiese rit

BMW is baie bekend daarvoor dat hul motors van die bestes is wanneer dit by padgedrag en dinamiese vermoëns kom, en die 630d GT stel nie teleur nie. Onder die enjinkap skuil ʼn lekker kragtige ses-silinder 3.0-liter turbo-diesel enjin wat 195kW en 620Nm se wringkrag ontwikkel. Dis ʼn helse klomp krag daardie wat al teen 2 000rpm beskikbaar is. Mense, die kar skop gat! Sit die ritmodus in Eco of Comfort en daar die 630d GT suiker lekker voort. Nie dat daar hier ʼn tekort aan krag is nie.

Maar skakel die ritmodus oor in Sport en die inligtingskerm verander na rooi, die lesings lyk drasties, en die versneller raak lus vir trap. Die agt-spoed outomatiese ratkas raak onrustig en kan nie wag om die volgende rat te haak nie. Op tyd, elke keer. Die spane agter die stuurwiel help beslis om aan die kar ʼn sportiewe geaardheid te verleen.

Die lekker dik stuurwiel sit knus tussen jou hande en is daar oorgenoeg kommunikasie van wat die voorwiele doen. Dis lekker ry hierdie en dit maak dat mens net wil ry en ry en ry. En wat die ryery aanhuts is goeie dieselverbruik, want teen 120km/h verbruik die enjin net so onder 6.0 L/100km.

bmw,manskap,south africa,suid-afrika,gt,6 series,6 reeks,luxury
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Puriste sal dalk nie met BMW saamstem dat hulle die 6-Reeks in ʼn GT verander het nie, maar die feit van die saak is dat hierdie Beemer al die regte geluide maak. Ruimte vir vyf, ja. Prakties, ja. Lig op brandstof, ja. Goeie bestuurservaring, ja.

Teen R1.19-miljoen vir hierdie 630d GT M Sport moet jy diep krap om die sente by te bring, maar dit moet ongetwyfeld een van die beste BMWs wees wat sulke goeie waarde vir jou geld bied. Natuurlik is dit net ʼn sekere koper wat dit sal kan aanskaf, maar daardie koper sal nie voel asof hy sy geld in die water gegooi het nie.