BMW X3 sy sente werd

bmw x3
Foto: Charlen Raymond

Die rol van ʼn SUV het omtrent oor die laaste dekade of wat verander. Voorheen was hierdie voertuie geharde 4×4 masjiene; skaamteloos in hul missie om robuust en rof te wees.

En alhoewel hierdie waens in vele behoeftes kon voorsien, het hul veeldoeligheid afgeneem om in ʼn koper wat status en mode relatief hoog aanslaan se behoeftes te voorsien. Dis ʼn hartseer realiteit en een wat die laaste paar jaar baie stoom opgetel het. Dink aan dit as ʼn sneeubal wat teen ʼn berg afrol: dit groei soos dit momentum optel. Net in hierdie geval verwoes dit nie, maar absorbeer.

Die BMW X3 is nou al vir ʼn tydjie in ons geledere en in laat 2017 het die vervaardiger die nuutste weergawe van hierdie SUV plaaslik bekend gestel. Met meer tegnologie, verbeterde op-die-pad vermoë, en ʼn opvallende ontwerp, is hierdie BMW ʼn goeie voorbeeld van die tipe SUV wat op die voorafgenoemde koper gemik is.

In jou gesig

Die eerste kennismaking wat mens met die nuwe X3 maak is sy ontwerp. Al lyk dit groot, doen die SUV nogal goed om sy volume weg te steek. Dis net-net langer as 4.7 meter, 1.6m hoog, en 204mm van die grond af. Dis ware SUV afmetings daai en selfs die gewig van 1.8 ton is nie ʼn probleem nie. Maar hierdie X3, in sy silwer verf en pragtige 21-duim wiele, het omtrent ʼn teenwoordigheid.

ʼn Vinnige kyktjie sal jou dalk selfs laat dink dat dié SUV sy groter boeta, die X5, is, maar dit wys net hoeveel van ʼn verbetering BMW gemaak het om die X3 net ʼn trappie hoër te vat. Die X3 se ontwerp hou vol om BMW se familie van SUVs te verteenwoordig en die ontwerp sê steeds ‘BMW SUV’.

Maar dit lyk regtig soos ʼn X5, of hoe?

Wat ʼn ervaring!

Sommer aan die begin van die toetsperiode het die X3 dadelik met sy goeie ritgehalte beïndruk. Dis nie altyd dat ʼn voertuig jou van meet af om sy pinkie draai nie, maar hierdie X3 het. Daar is ʼn gemak waarmee die SUV teen lae snelhede ry en hoe dit spoedwalle soos watte absorbeer. Stuurgevoel is ook lekker gewigtig, maar nie tot die punt dat die voertuig moeilik is om te draai nie – selfs met ʼn draai-sirkel van 12m!

Maar dis op die oop pad dat hierdie SUV regtig begin skitter. Dit sluk kilometers soos niks en gebruik skaars enige diesel in die proses. Mens kan vergeef word as jy dink dat die ses-silinder 3.0-liter enjin jou maandelikse begroting in die grond in sal ry, maar dit doen nie. Die 195kW/620Nm turbo enjin is nie bang om sy volle potensiaal te wys wanneer mens dit oproep nie, maar meeste van die kere is dit nie nodig om alles uit te buit nie. Teen nasionale snelhede rol die bak nie rond nie en is die X3 vol selfvertroue in wat dit doen en wat dit wil doen. Drie ritmodusse (Sport, Comfort, Eco) pas die motor se verrigting daarvolgens aan, maar tensy jy regtig baie haastig is bied Comfort en Eco ʼn baie goeie balans in terme van ry-genot.

Die agt-spoed outomatiese ratkas help om gemiddelde dieselverbruik tot rondom 7.0 l/100km te laat sak, wat nogal goed is as mens die grootte van die voertuig in ag neem. Plus, dit het ʼn vielwiel-stelsel wat ekstra gewig tot die SUV voeg! BMW sê dat die X3 se gemiddelde verbruik 6.2 l/100km is, maar daai syfer van 7.0 liter is ʼn wen in my boeke. Dis nie elke dag dat ʼn 3.0-liter enjin sulke syfers uitskop nie.

Daardie sneeubal…

Die X3 het ʼn slagoffer van die sneeubal effek geword. Dit het weg beweeg van iets wat mens rowwe grondpaaie en sanderige oppervlaktes mee kan aanvat en is dit vir ʼn geruime tydjie meer gemaklik in die stad. Die bande op sekere modelle, soos hierdie toetseenheid, het ʼn baie lae profiel en selfs al ry jy bedees en versigtig, loop jy steeds die risiko dat iets lelik verkeerd kan loop. Ongeag, die X3 sal eerder oor sypaadjies hop as om ʼn stukkie grondpad te verower. Hierdie SUV is ʼn luidkeelse uitroep dat jy dit in die lewe ‘gemaak’ het. Dit spreek tot ʼn nuwe koper, ʼn nuwe gehoor, wat hulself oral weg van ʼn grondpad sal bevind – die oorspronklike terrein wat SUVs voor gemaak was.

Die X3, soos baie ander voertuie in hierdie segment van die mark, bied wat ʼn sedan bied, maar sonder die beperkinge van ruimte. Dis groot, kan vyf persone en hul bagasie met gemak sluk, het ʼn hoë grondvryhoogte, en met genoeg tegnologieë en goedjies wat jy ooit sou nodig kry.

Maar hierdie X3 is dalk die beste voorbeeld van iets wat vir die sypaadjie gemaak is. Teen R940 000 is dit duur, maar dit voer sy taak heelhartig uit. Al bevind jy jouself nie op die SUV se oorspronklike terrein nie, net om die X3 om die stad te ry is bevredigend genoeg.