Brad Binder gesels fietse, MotoGP en SA

Brad Binder
Foto: Charlen Raymond

Toe ek hoor dat ek ‘n onderhoud met Brad Binder gaan voer, het dit gevoel asof ek pas die nasionale lotery gewen het! Ek bedoel, dis Brad Binder! Die 2016 Moto3 kampioen! (Moto3 is die derde klas van MotoGP).

Die ou wat die kampioenskap met die grootste punteverskil in Moto3-geskiedenis gewen het! Die ou wat sy fiets langs die baan trek, ander jaers toelaat om hom verby te steek en dan almal weer verby steek om die ren te wen. Vir die pret!

Okay, dalk oordryf ek die laaste punt, maar Brad was aan die brand in 2016. En sy talent, vernuf en deursettingsvermoë het hom vir 2017 tot Moto2 bevorder.

Gesels met die champ

Nodeloos om te sê dat my opgewondenheid by my ore uitgeloop het toe ek by Red Bull se hoofkantoor in Kaapstad opdaag (dit was nog tydens my dae by Wheels24). Vanuit die ontvangsarea loer ek na die werksarea om te kyk of ek nie dalk die man van die oomblik kan sien nie. Kyk of ek nie die Suid-Afrikaanse kampioen kan sien nie.

Dan sien ek ‘n mannetjie by ‘n lessenaar sit, sy hoedjie laag oor sy oë getrek, besig op sy selfoon. En danksy die gips om sy ebreekte arm het ek geweet dat daai is Brad “die Kampioen” Binder. Ek word na die onderhoudskamer gelei en gesê dat Brad binnekort hier sal wees. ‘n Paar minute later stap hy in met ‘n Red Bull in die hand. Gebreekte arm en al.

“Dit gebeur!” gil ek in my kop soos ek kalm met die mannetjie gesels wat my regdeur 2016 op die punt van my stoel gehad het. Al is hierdie net nog een van sy media verantwoordelikhede, ek is op die punt om ‘n onderhoud met een van Suid-Afrika se grootste en beste sportste te voer.

Dis wat die Ingelsman sal noem ‘n “dream come true”. Dis opgewondenheid wat lewe kry. Dis die onvermoë om jou glimlag weg te steek.

A post shared by Brad Binder (@bradbinder_41) on

Daai gebreekte arm

Ek kon sien dat hy moeg is. Brad nou. Na die laaste ren van die 2016 het spanne hul 2017 fietse getoets. Maar op die laaste sessie van die laaste dag het hy geval en 150kg van metaal op sy linkerarm te ruste gekom. Tog, nes die 2016 seisoen, het Brad deur die pyn geveg om hierdie onderhoud te kan doen.

Hy was maar net 12-jaar-oud toe hy Europa toe trek om ‘n loopbaan in motorsport te volg. Hy was nog ‘n bogsnuiter toe hy go-karts begin ry het, maar dit was nie lank nie of hy het sy aandag na twee wiele verskuif.

Maar moenie dink omdat hy in Europa bly dat hy dit terdeë geniet. Brad is ‘n Suid-Afrikaner en verkies hy baie keer niks meer as om net huis toe te kan kom nie.

Hy vertel dat dit eers baie moeilik was om sy voete in ‘n nuwe land te vind – veral op so ‘n jong ouderdom – maar hy het gou besef dat as die opoffering van familie, vriende en jou tuiste gaan werk, hy sy kop reg sal moet kry.

En dis daardie einste ingesteldheid wat hom uiteindelik die kampioenskap besorg het. Brad se doel is natuurlik om sy momentum in 2017 voort te sit, maar hy is wel bewus dat dit bietjie van ‘n uitdaging gaan wees.

Terwyl hy aan sy Red Bull teug sê hy: “Om aan Moto2 deel te neem sal… interresant wees. Dit gaan uitdagend wees. Almal wat die skuif van Moto3 na Moto2 maak sukkel maar aan die begin.

Hy sê dat suskes nie oornag sal kom nie en dat hy homself geleidelik moetopwerk. As hy sy eerste ren in die twintigste plek voltooi, dan is daar natuurlik baie werk wat voorlê. Maar as hy in die tiende plek klaarmaak, “goed, dan is ons ‘n bietjie nader aan waar ek wil wees.”

A post shared by Brad Binder (@bradbinder_41) on

Volg in Brad se voetspore

Brad is ongetwyfeld ‘n inspirasie vir jong Suid-Afrikaanse jaers – ‘n rolmodel en lewende definisie dat Suid-Afrikaners dit op die internasionale verhoog kan maak – ongeag wat. So dit was onvermydelik dat ek hom sou vra hoe plaaslike jaers dit ook kan maak.

Brad sê: “Een van die beste maniere vir jong jaers om oorsee raakgesien te word is om te probeer om aan die Red Bull MotoGP Rookie’s Cup deel te neem. Veral vir Suid-Afrikaners is dit ‘n ongelooflike manier om eendag ‘n MotoGP jaer te word.”

Dit was hierdie einste reeks wat hom toegelaat om die geleenthede wat nou sy kan toe kom, te kan geniet. En hy moedig jong jaers aan om dieselfde te doen.