Brand verpletter Wupperthal

wupperthal,wupperthal brande,wupperthal fires,manskap,cedar mountains,sederberge,fire,fire
Foto: Charlen Raymond

Nuwe jaar vieringe gaan gewoonlik met joligheid en vreugde gepaard, maar vir die mense van Wupperthal was dit allermins ʼn vrolike nuwe jaar nadat hulle moes toesien hoe hul dorpie binne twee ure tot as verbrand.

Op 30 Desember 2018 het die gemeenskap op dié sendingsdorpie in die Sederberge, soos oudergewoonte, hul Sondagmiddag geniet. Dit was stil en almal was met hul dingetjies besig. Sommige het geslaap, terwyl ander oor en weer gekuier het. Skielik word hul wêreld op sy kop gekeer toe die kerkklok lui. Dié is die dorpie se eerste teken van watter gebeurlikheid plaasvind en daar is ʼn sekere lui vir wat gebeur.

Onverpoos het die klok met mening gelui en almal het dadelik geweet dat daar fout is. Nog voor mense kon begryp wat gebeur, was daar vlamme tussen die huise en kon inwoners nie anders as om toe te kyk hoe hul lewe uitbrand nie.

Die hartseer van die Wupperthal brand

Dis 'n week na die verwoestende brand op Wupperthal. Ons gedagtes en gebede gaan uit na die inwoners en gesinne van hierdie sendingsdorpie.#BidvirWupperthal #WupperthalBrand #PrayforWupperthal #WupperthalFire #ManskapSA

Posted by Manskap on Sunday, 6 January 2019

Niks kon help

Die vuur het naby die ingang van die dorp gebeur en het vandaar sy weg deur die dorp gemoker. Aan die onderpunt, waar die dorp se besighede is, is geboue verwoes. Die veldskoenfabriek, waar Rooibos produkte geproduseer word, die pastorie, skool én die koshuis is verbrand. Inwoners sê dat die koshuis nagenoeg 250 kinders huisves en dat die brand nou ʼn direkte impak op hul onderrig gaan hê.

Verder was die huise ook nie van die brand gevrywaar nie en het meer as 50 wonings afgebrand, wat oor die 300 mense haweloos gelaat het. Inwoners moes by familie in Wupperthal en die omliggende plase tydelike huisvesting vind vir die tyd dat hul lewens in rep en roer is.

Die plaaslike munisipaliteit en ander hulp-organisasies was daar om die mense van Wupperthal in hul tyd van nood by te staan en was beloftes gemaak dat Wupperthal nie vergeet sal word nie. Dat daar daadwerklike pogings aangewend sal word om seker te maak dat daar na die mense en hul belangstellings omgesien sal word. Alhoewel die vooruitsigte van hulp sonder twyfel goed is, kan mens net nie help om te wonder hoe lank dit sal duur alvorens die herbouïngsproses begin nie. En daar sal ook gekyk moet word na die mense en hul belange.

Dit is hierdie einste mense wat verslae moes toekyk hoe dit wat hulle voor moes werk, binne oomblikke afbrand. Sommige het probeer om die vlamme met tuinslange te blus, maar daar was niks wat hulle kon doen om dit te keer nie.

Brandstigting?

Daar was eers vermoed dat dit ʼn veldbrand kon wees, maar hoe meer mense praat en navore kom hoe meer word dit duidelik dat dit nie die geval was nie. Volgens ooggetuies was dit jongmense wat heuning uit ʼn korf wou haal en het vuur gemaak om die bye te verwilder. Ongelukkig het hulle nie die vuur reg doodgemaak nie en saam met die droë lug, wind en warm temperature het die vuur weer opgevlam.

Die brandweer en ander nooddienste is steeds besig met hul ondersoek en sal hul bevindinge nader aan die tyd bekend maak.

In die tussentyd tel die mense van Wupperthal die stukkies op en probeer op hul manier vorentoe beweeg. Gelukkig is daar ook menige organisasies wat inspring om dit vir die inwoners makliker te maak, so hou sosiale media dop om te sien hoe en waar jy betrokke kan raak.

Posted by Manskap on Monday, 31 December 2018