CR-V sit Honda-trots voort

honda cr-v,honda,cr-v,suv,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

In die motorwêreld is daar heelwat vervaardigers wat respek afdwing sonder om hul “belangrikheid” luidkeels te verkondig en hul produkte op jou af te forseer. Hulle vlieg onder die radar en doen hul ding in die stilte. Maar die produkte wat hulle uitstoot is so solied en regverdig dat jy nie kan anders as om hulle daardie knik in die regte rigting te gee nie.

Honda, bekende Japanese vervaardiger bekend vir hul betroubare en duursame voertuie, is een van daardie vervaardigers wat nie hul bestaan uit basuin nie. Hul manier van doen is so bekend en word in ʼn goeie lig gesien dat mens amper ingetrek word by dit wat hulle doen. En dit wys in hul voertuie. Neem hierdie CR-V 1.5T Executive AWD, byvoorbeeld. Dis ʼn SUV wat teen die Volkswagen Tiguan, Hyundai Tucson, Ford Kuga, en Toyota Rav4 baklei. Almal baie bekende SUVs (sommige warmer as ander), maar al hierdie voertuie, insluitend die CR-V, het dieselfde gehoor voor oë. Dieselfde koper.

Maar, wanneer dit by die verkope kom trek die CR-V baie swaarder as as sy teenstanders. In Julie 2018* het die Rav4 ʼn massiewe 949 eenhede verkoop, gevolg deur die Tiguan op 494 eenhede, en dan die Tucson (492) en die Kuga (123). En die CR-V? Uhm… 58 eenhede. En die snaakste is dat die SUV glad nie so sleg is soos die syfers voorstel nie. So hoekom is dit nie gunstig nie?

Dalk die ontwerp?

Dis juis die ding! Die CR-V lyk nie sleg nie. Inteendeel, dit lyk net so goed, indien nie beter nie, as baie van sy teenstanders. Die voorkant is innemend en die ligte is aantreklike LED dagry-ligte. Die misligte word in die voorste buffer gehuisves en die neus sit lekker hoog vir daardie selfvoldane houding. Agter is die vyfde deur lekker groot en die agterligte is ook baie duidelik sigbaar.

Die kar kom nie vreemd voor nie en lyk dit heel volwasse. Honda aanhangers weet gewoonlik wat hulle van hul karre soek en die CR-V spreek tot daardie gehoor. Soos die Tiguan, veral, het die CR-V ʼn sportiewe lyf – iets wat die ander manne in die bogenoemde lysie nie so lekker kon regkry nie. Die ontwerp is die eerste ontmoeting tussen kar en eienaar, maar dié Honda kry net die aandag wat dit verdien nie. Dít vir ʼn voertuig wat 1.67m hoog en 4.59m lank is. Dit is groot en onmisbaar, maar die beursies kom net nie in sy rigting nie.

Gallery: Honda CR-V 1.5T Executive AWD AT

Binne is daar oorgenoeg plek vir vyf insittendes en die laairuim kan almal se bagasie sluk. Leer word mildelik ingespan en die plastiek wat gebruik word voel nie goedkoop nie. Die sitplekke bied goeie ondersteuning en is die voorste siplekke elektries, maar die bestuurder sʼn het die geheue opsie. Die probleem is dat wanneer mens die SUV afskakel, beweeg die sitplek in die eerste gestoorde posisie. Ander as dit is die binneruim goed uitgelê en toegerus; nes Honda kan.

honda cr-v,honda,cr-v,suv,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson

Probleem met die rit?

Die CR-V word aangevuur deur ʼn turbo-aangejaagde 1.5-liter petrol enjin wat 140kW en 240Nm ontwikkel. Vir so ʼn groot voertuig word krag heel goed deurgevoer en danksy die gesonde wringkrag wat van vroeg af beskikbaar is, is die SUV nie ʼn slak nie. Dis flink eerder as vinnig; geondersteun deur goeie padgedrag.

Ongelukkig is een van die kwessies met die kar sy ratkas. Nes Toyota, Subaru en ʼn paar ander vervaardigers, is Honda omtrent lief vir CVT ratkaste – ʼn meer bekostigbare outomatiese ratkas. Daar is nie enige “ratte” nie, maar eerder ʼn draad-ding wat krag vanaf die enjin na die dryfas kanaliseer. Kunsmatige ratte word dan bygevoeg. Wanneer mens rustig ry is die ratkas heel skaflik, maar trap die versneller en die enjin gil soos dit die rooilyn nader en die ratkas dan van “ratte” verwissel.

Buiten die ratkas is daar nie iets wat die CR-V se ritgehalte negatief beïnvloed nie. Padgedrag is goed, daar is heelwat gemak vir die insittendes, en raak mens nie moeg oor langer afstande nie. Alhoewel kooppatrone wys dat mense outomatiese ratkaste verkies, sou ʼn ses-spoed handratkas nie ʼn slegte opsie wees nie – as kostebesparing belangrik is.

Opsomming

Neem ʼn treë terug, loer na die CR-V en dis moeilik om te sien wat die probleem is; hoekom dit so sukkel om in Suid-Afrika te verkoop. Is ons (as die publiek) regtig so versigtig om iets anders as ʼn Toyota of Volkswagen te vertrou? Is ons regtig so vervreemd van hierdie Japanese vervaardiger wat al vir só lank met ons is? Die CR-V het sy tekortkominge, maar niks wat vervreemding regverdig nie.

Die Honda CR-V is een van die pioniere in die SUV mark, maar dit is teruggestoot tot amper-vergete status, wat – as ons nou eerlik moet wees – net nie regverdig is nie. Hierdie SUV behoort baie beter te vaar as wat die maandelikse verkoopsyfers voorstel…

*Amptelike National Association of Automobile Manufacturers of South Africa (Naamsa) syfers

honda cr-v,honda,cr-v,suv,manskap,suid-afrika,south africa
Foto: Warren Wilson