Creta laat diesel weer goed lyk

hyundai,creta,hyundai creta,crossover,kruisvoertuig,suv,diesel,
Foto: Hyundai Suid-Afrika

Die internasionale motorwêreld wil ons laat glo dat diesel voertuie nadelig is vir die planeet. Dat hibriede en elektriese voertuie (EVe) die pad vorentoe is. Nou kyk, ek is seker dat daar gronde vir sulke uitlatings is, maar die waarheid is dat daai tipe motors net té buite bereik vir die meeste Suid-Afrikaners is.

In ʼn Utopiese toekoms waar die massas sulke nis voertuie kan bekostig, sal hibried en EVe almal se eerste keuse wees. Dit sal dwaas wees om die voordele van hierdie tipe voertuie van die tafel te vee en die goeie effek wat dit op jou beursie en omgewing sal hê, maar ons woon (nog) nie in daardie Utopiese toekoms nie en moet ons oor die weg kom met wat nou te bied is. Ons moet na ons beursies en die toekoms kyk met die voertuie wat tans in die Suid-Afrikaanse nuwe motormark is.

As jy ʼn EV soek, sal jy ten minste R650 000 moet hoes. So in die Suid-Afrikaanse konteks sal dit bes wees om na ʼn alternatief ʼn bietjie laer teen die kerf af te kyk; na iets wat meer haalbaar is en nie té veel skade by die pompe sal aanrig nie. En dis waar die diesel-gedrewe Hyundai Creta in kom.

ʼn Reg trek

Met ʼn pryskaart van R414 900, is hierdie model die enigste diesel in die hersiene Creta reeks. En nes sy twee petrol boeties is dit slegs in Executive beskikbaar. Dit beteken dat die Creta met heelwat tegnologie toegerus is om dit nie net relevant in die mark te maak nie, maar om ook sy waarde vir geld aansien te lig.

Toe Hyundai die hersiene reeks in 2018 se tweede helfte na Suid-Afrika gebring het, het die wa steeds van die bekende elemente gehad wat ons van dit kom leer ken het. Die regop posisie, die knap afmetings, en hoofligte was alles behou. Maar Hyundai het dagry-LED ligte onder om die voorste mis ligte gesit en ook die sierrooster ʼn bietjie agressiewer gemaak.

Alhoewel hierdie kruisvoertuig goed toegerus is, kon Hyundai maar die agterste vensters ʼn bietjie donkerder gemaak het. Maar voeg by die pakket ‘n binneruim wat goed aanmekaar gesit en die Creta laat jou gou daarvan vergeet.

Foto: Hyundai Suid-Afrika

Lekker enjin

Die Creta se diesel enjin skop ʼn baie gawe 94kW en 260Nm se wringkrag uit, maar laasgenoemde is eers teen ʼn bietjie hoë 2700rpm beskikbaar. Alhoewel die enjin nie vereis dat jy die versneller plat moet trap om enige reaksie te kry nie, sou dit glad nie seermaak as daardie wringkrag teen laer toere beskikbaar was nie. Dit sou beslis help dat die volgende rat vinniger gehaak word en dat dieselverbruik laer is.

ʼn Ses-spoed outomatiese ratkas stuur krag na die voorwiele en is daar altyd genoegsame krag om jou gekose rat op die oop pad te hou. Bewys hiervan is toe ek by die voet van ʼn heuwel stilstaan en dit vanaf ʼn stilstaande posisie begin uitklim. Kort nadat ek 120km/h in sesde rat bereik het, aktiveer ek spoedbeheer en het die Creta, soos ons al hoër klim, nie een keer van ratte verwissel óf spoed verloor nie.

Lees: Diesel Creta maak die regte geluide

Die gemak waarmee die Creta se diesel enjin woeker verseker dat mens Hyundai kan glo wanneer hulle sê dat gemiddelde verbruik ʼn skamele 7.4 L/100km is. Op ʼn tyd, na omtrent 300km se geryery, was die gemiddelde verbruik 5.8 L/100km, teen ʼn konstante spoed van 110km/h. Aan die einde van die toetsperiode en 2300km wat afgelê is, het die ritrekenaar gewys dat die verbruik op 7.0 L te staan gekom het.

Dis indrukwekkend in enige een se boeke. Om met verkeer te baklei, die oop pad, en die bergpas wat nou en dan opduik, het die Creta homself as ʼn staatmaker kom vestig. En dit stel dinge in ʼn ander lig teen die bedryf se beweging na hibriede en elektriese voertuie.

Foto: Hyundai Suid-Afrika

Opsomming

Hyundai se produkte die laaste dekade of so was ʼn totale ommeswaai vir die Koreaanse vervaardiger. Sy voertuie kan teen die beste van Duitsland kompeteer, teen ʼn fraksie van die prys. Nie net is Hyundai’s goed gebou en goeie waarde-vir-geld proposisies nie, maar dis prakties ook. Dis moeilik om in vandag se tyd Hyundai en sy voertuie mis te kyk, en die Creta is bewys daarvan.

Suid-Afrika se ekonomie trek swaar en kan ons onsself regmaak vir nóg verhogings in die brandstofprys, maar dis in sulke tye dat ons iets soek wat ons beursies dik sal hou. Die Creta diesel doen dit. ʼn Paar honderd rand sal seker maak dat jou tenk van leeg na vol gaan en sal jy maklik tussen 700 en 800km uit ʼn tenk diesel kan kry – afhangend van jou bestuurstyl. Die Creta ontsien ook nie tegnologieë wat jy van ʼn R415k voertuig sal verwag nie en is daar genoegsame ruimte vir jou en jou passasiers.

Hyundai het ʼn wenner beet en behoort hierdie voertuig guns onder baie te wen.

Foto: Hyundai Suid-Afrika