Dakar vs Athlete: Hilux loop sy rieme styf

toyota,hilux,toyota hilux,mitsubishi,triton,athlete,triton athlete,mitsubishi triton athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson

Toyota het sy Hilux met ʼn Dakar baadjie aangetrek, maar Mitsubishi het ʼn atleet wat óók sy stempel wil afdruk.

Ons het dit al tot vervelens toe gehoor: die Toyota Hilux is die beste bakkie; die Hilux is Suid-Afrika se topverkopende voertuig; die Hilux dié en die Hilux dat. Reg genoeg, die bakkie het ʼn reputasie wat skrik vir niks en die betroubaarheid loop by sy ore uit; daarmee kan en gaan ek nie stry nie.

Tóg is ons plaaslike mark so ryk aan opsies dat mens amper nie kan anders as om soms buite jou gemaksone te beweeg nie, maar dis veiliger om in jou baan te bly en die tradisie wat pa en Oupa begin het voort te sit. Met elke nuwe generasie wat in die wêreld gebore word word ons blootgestel aan iets nuut. Word die opsies en keuses wat ons teen te staan kom méér en groter. Daarom dan dat vervaardigers iets nuuts na die tafel bring om ons belangstelling te hou. In Toyota se geval het hulle die Hilux met ʼn Dakar model uitgebrei, en Mitsubishi het sy Triton met ʼn Athlete pakkie voorsien.

Sjoe, en skielik word jy met twee special editions gekonfronteer.

toyota,hilux,toyota hilux,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson

Japan se ysters

Beide Toyota en Mitsubishi vind hul herkoms in Japan en het die twee vervaardigers dit reggekry om, onderskeidelik, goeie bakkies in eie reg te bou. Plaaslik is dit die Hilux wat die septer swaai en verkoop dit bykans 100 keer méér bakkies as wat die Triton ooit van kon droom. Dis reg, net laas maand (Oktober 2018) het Toyota meer as 3300 Hilux’e van die hand gesit, terwyl Mitsubishi ʼn skamele 31 Tritons verkoop het. Dis skokkende syfers, maar tog spreek dit boekdele van die reputasie en vertroue wat die Hilux onder ons mense geniet. En daarvoor moet jy vir Toyota die pluimpie gee.

Maar alhoewel die Hilux goed doen, was die Dakar modelle bygevoeg om Toyota se sukses in die uitmergelende Dakar uithouren te vier. Slegs 6 000 modelle was beskikbaar gemaak en al 6 000 was binne maande van die hand gesit. Al is Mitsubishi se Triton Athlete nou nie so eksklusief soos die Dakar nie, voldoen hy steeds aan die nodige uiterlike tekens om dit te laat geld.

Om die bakkie se swart bakwerk is swart en oranje plakkers om die atleet navore te bring, waar Toyota weer die amptelike Dakar embleem op sy bakkie aangebring het. Toyota se benadering is baie meer minimalisties as Mitsubishi sʼn, en ken mens eerder die Dakar uit aan sy fors voorkant; beslis ʼn plus. Die einste gesig is dan ook ʼn inhuldiging van die nuwe neus wat die Hilux mee geklee gaan wees. Rakende die wiele lyk die Triton sʼn bietjie meer spesiaal en doelgerig, en nie asof dit net so oorgedra was van die ander modelle nie.

Wat wel opval is die feit Mitsubishi weggedoen het met die yster roll bar wat gewoonlik in die bakkie se bak sou staan en gekies het om eerder iets treffends te installeer. Hierdie apparaat doen die Athlete-naam gestand en lyk die bakkie ook meer treffend. Toyota het gekies om met die chroom roll bar te volhard, maar die oortreksel vir die laaibak is ʼn seil teenoor Mitsubishi se hidroliese stelsel. Die Athlete kom ook standaard met ʼn touhaak, maar die Dakar nie.

Albei bakkies het daardie iets spesiaals om dit van die ander modelle te onderskei, maar die Triton neem dit net ʼn stappie verder om homself anders te laat lyk. Ons ken almal baie vinnig ʼn Hilux uit, maar die Triton Athlete sal jou aandag behou.

mitsubishi,triton,athlete,triton athlete,mitsubishi triton athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson

Tel Bluetooth op

Die meeste van jou tyd wat jy met jou bakkie sal spandeer sal van agter die stuur wees en is dit belangrik dat die ruimte jou tegemoet kom. Daarmee bedoel ek dat wanneer jy inklim jy dadelik oorval moet word met die iets ‘spesiaals’ in beide bakkies.

In die Triton se geval word die swart leer sitplekke met oranje insetsels gekomplimenteer en is daar oranje some waar die panele bymekaar kom. Die Toyota, daarteenoor, se binneruim is somber en swart en is daar nie veel gedoen om die binneruim spesiaal te maak nie. Die Triton is die Hilux ook hier ʼn stap voor, maar verloor dan grond wanneer mens na die mediastelsels kyk. Die Mitsubishi se stelsel lyk en voel uit die mode, terwyl die Hilux ʼn lekker interaktiewe eenheid het. Die feit dat mens op die Toyota se panele moet druk vir die raakskerm om insette te registreer is nie so lekker nie, maar die gebruiklikheid daarvan oortref die Triton se stelsel.

Lees: Triton hou sy lyf atleet

Albei bakkies laat toe dat mens die media vanaf die stuurwiel beheer, maar die Toyota doen dit net ʼn bietjie beter. Selfs wanneer jy jou foon met die onderskeie stelsels se Bluetooth wil paar, moet jy in die Triton stilstaan, maar in die Hilux doen jy dit sommer so in die ry. Waar die Triton wel die Hilux vir ʼn ses slaan is dat mens dit oop en toe kan sluit deur ʼn knoppie op die handvatsel te druk – solank die sleutel in jou sak is – en jy skakel die bakkie aan en af met die druk van ʼn knop. Daar is selfs elektriese verstelling vir bestuurder se sitplek. Iets wat die Hilux nie het nie.

Mens moet maar self besluit wat omtrent ʼn bakkie se binneruim vir jou belangrik is, want geharde bakkie eienaars sal nie nog wil bother met die elektronika wat in die Triton Athlete is nie. In daai geval kan mens dan die Hilux Dakar se eina lysie van toerusting regverdig, maar in die geheel voel die Triton Athlete net ʼn bietjie meer special edition; swak mediastelsel of te not. Afgesien daarvan weet ek in watter binneruim ek wil sit…

toyota,hilux,toyota hilux,mitsubishi,triton,athlete,triton athlete,mitsubishi triton athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Charlen Raymond

Van krag tot krag

Albei die Triton Athlete en Hilux Dakar het dieselfde turbo diesel enjins wat in die res van hul onderskeie reekste ingespan word, en kragvlakke bly onveranderd. In die Athlete se geval skop die 2.4-liter 133kW en 430Nm uit, en in die Dakar lewer die 2.8-liter 130kW en 420Nm. Die opvallendste in dit alles is dat alhoewel die Triton se enjin ʼn bietjie kleiner is, is die krag wat dit lewer beter as dié van die Hilux. Verder word die Triton se gesonde kragvlakke geondersteun deur ʼn lyf wat 1 855kg weeg teenoor die Hilux se 2 095kg. Dis ʼn verskil van 240kg – wat baie is – maar tog voel die Hilux Dakar asof hy sy krag beter na die wiele kanaliseer.

Daardie gemak waarmee die enjin sy krag lewer word, in die Hilux se geval, deur ʼn ses-spoed handratkas ondersteun, waar die Triton met ʼn vyf-spoed outomatiese ‘kas oor die weg moet kom. Ongelukkig was net ʼn handrat Dakar vir dié toets beskikbaar. Die ekstra rat wat die Hilux mee bedeeld is dra beslis by tot ʼn beter dieselverbruik, én kan mens jou ritmodus kies (Eco, Power, Normal). Die Triton Athlete bied jou nie hierdie keuses nie en slaan die Dakar hierso terug.

Al weeg die Hilux Dakar swaarder en al sy kragvlakke effe laer, voel hy steeds na die kragtiger bakkie tussen die twee.

toyota,hilux,toyota hilux,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson

Soos ʼn bakkie

Maar dis op die pad dat mens werklik sien wat hierdie twee bakkies te bied het. Albei is met 4×4 stelsels toegerus wat met die draai van ʼn knop tot aksie oorgaan, maar waar hulle die meeste van hul tyd gaan spandeer is op die teer en in die woongebied.

Soos dit ʼn goeie bakkie betaam is albei met ʼn leerraam onderstel toegerus en op elke van die agterwiele ʼn stel vere om die dra van ʼn gewig te vergemaklik. Die negatief van hierdie tipe stelsel is natuurlik dat as jy nie ʼn gewig op daardie vere sit nie, dat jou bakkie heelwat skud sal hê wanneer jy oor hobbelrige terrein ry, soos byvoorbeeld ʼn spoedwal. Tog het Mitsubishi dit reggekry om sy bakkie van ʼn sagter as die Hilux sʼn te voorsien. Dalk speel die voorafgenoemde 240kg ʼn rol daarin, maar die bakkie ry baie sagter as die Hilux.

Gallery: Toyota Hilux Dakar Raider 4×4 & Mitsubishi Triton Athlete

Die Hilux, weer, se rit is tipies bakkie en voel dit asof jy agter die stuur van ʼn 2-ton kilometer-vreter sit. Sig is baie goed en voel mens half imponerend wanneer jy in die verkeer sit, maar die gevoel van groot en grootsheid word oorgedra. Nie dat die Triton nie so is nie; dis net dat mens voel asof jy in ʼn kar is eerder as iets swaarder en groter. Passasiers wat op die agterste ry in ʼn bakkie sit is gewoonlik jou beste bewys van ʼn bakkie se suspensie, en die Triton Athlete het nie die helfte soveel kritiek as die Hilux Dakar gekry nie.

Toyota Hilux aanhangers het teen die tyd seker al hul spelvurke gaan haal om hierdie wrede towenaar se kop te eis, maar Mitsubishi het werklik iets reggekry om sy Triton anders te maak. Nie almal wil hê hul bakkies moet soos ʼn kar of SUV ry nie, maar gegewe die tendense en die rigting waarin die mark beweeg, is Mitsubishi reeds op die regte spoor.

mitsubishi,triton,athlete,triton athlete,mitsubishi triton athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson

Slotsom

Ons kan lank hare kloof oor watter die bakkie nou eintlik die beste is en elke punt sal meriete dra. Tog kan mens nie help om te wonder of die Toyota Hilux werklik so spesiaal is soos wat die 3 000 nuwe eienaars in Oktober dit uitmaak om te wees nie. Daar is ʼn sekere aura omtrent die Hilux en wat dit in mense ontlok, maar in hierdie geselskap doen dit net nie genoeg nie. Mitsubishi het sy Triton Athlete, in die geheel, meer spesiaal as die Dakar gemaak. Al is daar ʼn paar dinge omtrent die bakkie wat in die Hilux Dakar se stof verstik, is dit moeilik om die bakkie te ignoreer.

Teen R579 995 vir die Triton Athlete en R601 100 vir die Hilux Dakar Raider 4×4 (R621 000 vir die outomaties), kan mens ook nie ignoreer dat dit wat Mitsubishi jou aanbied effe meer bekostigbaar as Toyota sʼn is nie. Tradisie, reputasie en betroubaarheid tel ongetwyfeld in die Hilux Dakar se guns – en dis genoeg rede om die bakkie te oorweeg. Maar die Triton Athlete het nuwe lig op die segment kom werp en sal mens ʼn onreg aan jouself doen as jy nie ten minste kyk na wat alles op die mark is nie.

toyota,hilux,toyota hilux,mitsubishi,triton,athlete,triton athlete,mitsubishi triton athlete,manskap,south africa,suid-afrika,bakkie,truck
Foto: Warren Wilson