Datsun Go trek sy sokkies op

Manskap,datsun,go,datsun go,cape town,kaapstad
Foto: Datsun SA

As enigiemand jou moet vra watter goedkoop kar jy dink hulle voor moet gaan, is die kanse goed dat jou antwoord óf die Volkswagen Polo Vivo óf die Ford Figo sal wees. En hoekom nie? Daai twee karre bied genoeg, dit het die reputasie, en jy weet dat die vervaardiger na jou sal kyk sou iets gebeur.

Die probleem is, natuurlik, dat daai karre, wat eens op ʼn tyd rondom R150 000 verkoop het, se pryse knyp nou al die R200k-merk se boudjies en het dit skielik, feitlik oornag, buite die bereik van heelwat mense gegaan. Dankie tog dat ouens soos die Renault Kwid en BAIC D20 nog op die mark is om die finansiële druk te probeer verlig.

Maar saam met hierdie twee prys-kloppers is daar ook die Datsun Go. Dalk nie die eerste keuse wanneer dit by nuwe motors kom nie, maar tog bekostigbaar én met die ondersteuning van Nissan Suid-Afrika. Datsun het laat 2018 die nuutste weergawe van die Go bekendgestel en kan ons met alle sekerheid sê dat die nuwe model ʼn helse verbetering op die oue is.

Manskap,datsun,go,datsun go,cape town,kaapstad
Foto: Datsun SA

Goeie spesifikasie

Een van die groot voordele wat die Go geniet is dat die koste om die motor te onderhou, relatief laag is. So wanneer jou motortjie buite sy diensplan is, weet jy ten minste dat wanneer jy jou beursie moet oopmaak om die kar te diens, jy nie ʼn long en ʼn been hoef te betaal nie. Die goedkoop onderhoudskostes moet ook nie misgis word vir ʼn kar wat van ʼn paar lekkernye ontneem is nie.

Alhoewel die Go steeds herkenbaar Go is, het Datsun die kopligte van ʼn nuwe ontwerp voorsien en ook lekker groot misligte aangebring. Dié sit nou in die voorste buffer in ʼn swart omhulsel onder die ligte. ʼn Prominente chroom strook hardloop nou om die sierrooster.

Die 14-duim wiele lyk ook netjies in die wielboë.

Hierdie Go wat ons het, in Mid spesifikasie, se binneruim is hersien en is die multimedia stelsel met Apple CarPlay en Android Auto toegerus. En ja, daar is satelliet navigasie ook. Ander funksies sluit in elektriese vensters voor en agter, en kantspieëls wat elektronies verstel kan word.

Wat ek persoonlik oor bly is is dat Datsun die stuk plastiek wat op die ou model se tru-spieëltjie geplak was, vervang het. Mens het skoons motion sickness gekry wanneer jy daarin sou kyk, maar dis genadiglik nie meer die geval nie.

Manskap,datsun,go,datsun go,cape town,kaapstad
Foto: Datsun SA

Klein enjin

Mens moenie na die Datsun Go kyk en dink dat die ‘Go’ vinnig beteken nie. Met ʼn gewig van 779kg is die Go glad nie swaar nie, maar sy 1.2-liter enjintjie wil ʼn bietjie gekielie wees. Die nadeel is, natuurlik, dat die enjin baie hard en grof klink. Datsun het wel geraasvlakke verbeter, maar dis steeds daar.

Die enjin ontwikkel 50kW en 104Nm wat baie goed en handig te pas kom in die stad. Op die oop pad moet die vyf-spoed handratkas werk om verrigting te behou, maar kort afstande tussen punt A en B pas die Go soos ʼn handskoen. Wat die kar verder versterk in sy doel is ʼn draaisirkel van slegs 4.6m. Dit help dat mens maklik kan parkeer en ook deur die verkeer kan vleg sou daar dalk van jou vereis word om vinnig ʼn gaping voor ʼn taxi te vat.

Datsun sê dat petrolverbruik so by die 5.2 L/100km sal draai, wat ʼn teoretiese reikafstand van 673km op sy 35L tenk beteken.

Manskap,datsun,go,datsun go,cape town,kaapstad
Foto: Datsun SA

Slotsom

Die Go een van drie motors in ons mark wat onder R150 000 prys vir die goedkoopste model in hul onderskeie reekse. Hierdie Go Mid verkoop vir R149 600 en bied, op papier, relatief goeie waarde vir geld. Natuurlik sal bougehalte plek-plek in die slag bly en word harde plastiek mildelik ingespan, maar gegewe die konteks waarbinne die Go beweeg en mens kan dit verstaan.

Moenie goedkoop gaan en dan Polo Vivo-kwaliteit verwag nie, want die Go is nie daarvoor gemaak nie. Die Go is ʼn kar wat jou aan die einde van die maand aan die hand moet vat en jou help om daai bietjie verder met jou salaris uit te kom. Nie almal kan die beste kar op die mark koop nie, maar ten minste is die Datsun Go daar om te help dat jy ʼn nuwe kar kan ry.

Manskap,datsun,go,datsun go,cape town,kaapstad
Foto: Datsun SA