Die belangrikheid van jou pa eer

manskap,pa en seun,father and son,god,god eerste,god first,relationship advice
Foto: Verskaf

Jongmans, pa’s is mense. Mense met gevoelens, drome en foute. En daarom, as jul verhouding versuur het, is dit tyd om weer na jou pa te draai en hom te eer, te waardeer, te respekteer, en lief te hê. Dis tog elke pa se begeerte dat daar ʼn verhouding tussen hom en sy seun moet wees.

Om jou vader te eer is ʼn opdrag van God. Eksodus 20:12 sê: “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Deuteronomium 5:16 verwoord dit as volg: “Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ʼn lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.”

Mattheus bring ʼn Nuwe Testamentiese perspektief wanneer hy sê: “Eer jou vader en Moeder; en hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik sterf.”

Ten spyte van moeilike en uitdagende verhoudings tussen vaders en kinders, en in hierdie geval jongmans en hul vaders, is dit baie maklik om te vergeet om dankbaar te wees. Ouers, beide vader en moeder, is ʼn geskenk van God. Al word ons soms teleurgestel deur ons vaders, moet ons steeds dankbaar wees dat hulle ons vaders is. Dankbaar vir hul omgee en voorsienigheid. Dankbaar dat ons ʼn pa het.

Na aanleiding van ons Bybelse grondslag moet ons ons ouers lewenslank eer. Alhoewel daar omstandighede is wat hierdie opdrag moeilik maak, bv. vaders wat sterf, afbrekende gedrag teenoor kinders toon, die huishouding en kinders verlaat, ens., word ons steeds opgeroep om te midde van dit als ons pa’s te eer.

So hier is ʼn paar maniere hoe ons dit kan doen:

  • Waardeer jou pa

Jy en jou vader is aan mekaar geweef, ongeag die aard van jul verhouding; hetsy goed of sleg. Heg waarde aan jou pa en respekteer sy leiding en dit wat hy in jou lewe probeer implimenteer. Hy bly jou pa. Die Bybel moedig ons aan om ons ouers (jou vader) as ons glorie te beskou. Moedig jou pa aan om die goeie na te streef.

  • Aanvaar sy gesag

Die Apostel Paulus leer ons in Kolossense 3:20 dat ons in alles
aan ons ouers gehoorsaam moet wees, want dit is goed vir die Here; Hy verlang dit van dié wat in Hom glo. Hierdeur heg jy waarde aan jou pa en kan hy met groter gemak lewenslesse aan jou oordra. Terwyl jy jonk is, hou aan om jou vader te eer. Lukas 2:51 leer ons dat selfs Jesus nie sy aardse pa, Josef, se gesag ondermyn het nie.

  • Behandel hom met respek

Sommige vaders maak dit baie moeilik vir ons om hulle te respekteer agv die verkeerde leefstyle wat hulle volg. Maar midde dit alles word daar van ons verwag om hulle te respekteer. Spreuke 30:17: “Die oë van ʼn man wat met sy vader spot en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam, sal uitgepik word deur die kraaie, opgevreet word deur die roofvoëls.” Hierdeur word ons vermaan om steeds ons vaders met die nodige respek te behandel, al is ons kwaad, teleurgesteld, of mismoedig. Ons moet nooit disrespekvol optree en met minagting van ons vaders praat nie, want die prys om te betaal is duur.

Vaders is deur God oor ons aangestel en dus is dit noodsaaklik om aan die verhouding te bou. In jou jong lewe is daar, naas God, niemand meer belangriker as jou ouers – en in hierdie opsig jou pa – nie. God het reeds aan die begin bepaal wie ons ouers gaan wees, daarom moet jy vir jou pa bid, hom bemoedig, respekteer, en daar wees vir hom.

Alle tekste uit die 1983 Vertaling van die Bybel aangehaal.