Dié Peugeot verdien ʼn bietjie krediet…

Manskap,peugeot,3008,peugeot 3008,active,cape town,
Foto: Charlen Raymond

In die motorbedryf is daar sekere motors en fabrikate wat eerste opsie onder kopers geniet. Dink aan iets soos die Toyota Hilux, die Volkswagen Polo, en Porsche 911. Die lys kan aan en aan gaan, maar die feit van die saak is dat ons gemaklik is om te bly waar ons is. Om te koop by ʼn naam wat homself oor die jare bewys het.

Daar is niks fout daarmee nie. As koper is jy geregtig om jou geld te spandeer waar jy wil en hoe jy goed dink, maar die Suid-Afrikaanse nuwe motormark is ʼn uiteenlopende een. Ons het baie keuses en opsies en soms kom jy op ʼn keuse af wat ietwat beter as jou ek-kies-net-daai motor is. Neem die Peugeot 3008, byvoorbeeld. Hierdie SUV was in 2017 as Europa se motor van die jaar aangewys en is óók ʼn finalis in die 2019 Suid-Afrikaanse motor van die jaar kompetisie. Dit wil gedoen wees en dit spreek boekdele van hoe hoog die motor aansien eintlik moet wees.

Tog verkoop dit nie soos dit moet nie. Verbruikers hou verby hierdie Franse wa en sukkel dié se handelaars om kop bo water te hou. In Januarie 2019 het Peugeot, landwyd, ses 3008’s verkoop, en 24 passasiersmotors in totaal. Meet dit aan Toyota se 11 254…

En weet jy wat? Die Peugeot 3008 verdien dit nie.

Manskap,peugeot,3008,peugeot 3008,active,cape town,
Die 3008 tydens evaluering vir die 2019 SA Motor van die Jaar kompetisie. Foto: Peugeot SA

Twee-kleur

In die strate kan mens nie die 3008 1.6T Active miskyk nie. Die ontwerp bult letterlik uit sy nate en beur dit so effe na die kante. Dis imponerend, om die minste te sê, en dit dra by om die motor ʼn unieke ontwerp in hierdie voorspelbare mark te gee. Sterk punte wat tot die uiterlike bydra is die SUV se vastrap 17-duim wiele, daardie hoë dak, en die vyfde deur wat sonder sukkel oopskiet.

Reg rondom die motor is daar swart buffers om teen takkies en hoërige klippe te beserm. Die swart word by die vensters voortgesit en gee dit dan die effek van ʼn twee-kleur bak. Dis iets wat die hele 3008-reeks anders as sy teenstanders maak en daardie agterligte het beslis ʼn unieke ontwerp om selfs in die nag uit te staan.

Manskap,peugeot,3008,peugeot 3008,active,cape town,
Foto: Charlen Raymond

Beste binneruim?

Waar mens nou nie vir Peugeot kan fouteer nie is met die 3008 se binneruim. Selfs hierdie 1.6T Active spog met een wat enige motor, selfs daardie R1m manne, ʼn go sal kan gee. Alhoewel die motor groot is, is die binneruim lekker knus. Peugeot het die ruimte tot sy beskikking goed gebruik en is alles lekker naby en gerieflik binne bereik.

Die paneel voor die bestuurder gee alle informasie weer en wanneer jy die motor aanskakel, tol en rol ʼn kort video alvorens die lesings verksyn. Dis blêddie kwaai, en dieselfde gebeur wanneer jy die motor afskakel. Die stuurwiel is ook kleiner as wat jy in die kompetisie sal kry, maar dit huisves al die knoppies waarmee jy jou media en selfoon kan beheer.

Lees: Klein Peugeot met die hart van ʼn leeu

Links van jou is die klein ratkierie wat lyk soos iets wat in ʼn fighter jet moes wees, en ook die knoppies bo-kant dit waarmee jy ander funksies, soos verkoeling, musiek, deure sluit, en noodligte, kan beheer. Die handverstelbare sitplekke is nou wel met lap oorgetrek, maar voor die 1.2-liter tot die reeks gevoeg was was dít die intree-model. So mens kan die lap verstaan. Daar is ook ʼn knoppie vir satelliet navigasie, maar daardie funksie werk nie. Die algehele gevoel en ontwerp van die binneruim is van een wat ver bo sy vuurmaakplek boks en dis een van daai motors wat jy sal wil hê nét vir dit.

Manskap,peugeot,3008,peugeot 3008,active,cape town,
Foto: Charlen Raymond

Wakker enjin

Die 1.6T Active is voorwiel-gedrewe, wat beteken dat al sy krag na die voorwiele gestuur word. Al 121kW en 240Nm. En in ʼn lyf wat skrams onder 1 400kg weeg, het die enjin nie ʼn keuse anders as om te woeker vir sy waarde nie. En gelukkig vir Peugeot, woel hierdie 1.6-liter turbo enjin sommer lekker.

Skakel die outomatiese ratkas oor in Drive, en die elektroniese handrem deaktiveer om die proses aan die rol te sit. Ratte skakel stil en saggies oor en het die dryfstelsel ʼn kalmerende effek op jou as bestuurder. Glo my, ek weet dis vreemd om te sê, maar dis die waarheid. Stuurgevoel is lekker stewig en reageer die SUV met ʼn positiewe reaksie op jou insette. Net so onder die rathefboom is ʼn Sport knoppie. Druk hom en die dryfstelsel raak meer sensitief. Versnelling en ratoorskakeling gebeur nou vinniger en met groter dringendheid en is dit maklik om te vergeet dat jy moet hôkaai.

Peugeot het die spyker op die kop geslaan met hierdie een en beskik die 3008 oor ʼn ritgehalte wat vir gemak en rygenot gemaak is. Knap gedaan, Peugeot, knap gedaan.

Slotsom

In alle eerlikheid is daar nie veel fout met die Peugeot 3008 1.6T Active nie. Gegewe die rol wat dit moet vervul en waar dit in die mark geposisioneer is, regverdig die pakket homself oor en oor. Die enigste twee goed wat teen hierdie SUV tel is die feit dat daar nie ʼn sterk genoeg handelaarsnetwerk in Suid-Afrika is nie, en dat die herverkoopswaarde ʼn bietjie baie vinnig val. Maar andersins is dit die moeite werd.

Dis eintlik hartseer dat ʼn fabrikaat soos Peugeot, wat in Europa baie sterk vaar, hier op eie bodem so swaar moet trek. Al die modelreekse in Peugeot SA se stal ry fantasties en pronk hulle met van die beste binneruime, maar die meerderheid van ons oorweeg nie eens die gedagte aan iets anders as die bekende nie.

Ai, as ons maar net weet wat die mark als te bied het…

Prys: R424 900

Foto: Charlen Raymond