Die Tuinroete: ‘n groot gunsteling

tuinroete
Foto: Charlen Raymond

Die tuinoete is ongetwyfeld een van ons land se mooiste streke. Vanaf George tot anderkant Plettenbergbaai is ‘n betowerende wêreld wat wag om ontsluit te word.

Die geheime, die natuur, die lewe, die mense, die atmosfeer, die Tuinroete! Maar hoekom is dit dat mens telkemale, oor en oor, van voor af verlief raak op dit? Ons lig een of twee redes uit…

Gee my die woud!

Etlike kilometers weg van die N2, berg se kant toe, is roetes wat so versteek is soos die wilde olifante wat nog vrylik in die woud beweeg. Mens kan verdwaal in die geheimsinnigheid wat in die paaie verberg word. Soos mens Plett inkom vanuit Humansdorp se rigting, is ‘n bordjie wat Uniondale aandui. Dis ‘n teerpad wat laterhand ‘n grondpad word. Jis, wat ‘n stukkie pad!

Mens eindig eventueel in Knysna op en dit neem wel verskriklik langer as om net die 30km tussen Plett en Knysna met die N2 af te lê, maar daar is karakter in hierdie roete. Die bome wat oor die pad buig, die klammigheid in die lug soos die vrugbaarheid uit die grond suipel, die kronkelende paaie wat met elke draai ‘n nuwe wêreld ontbloot. Onuitwisbare beelde van hoe die mis oor en tussen deur die bome beweeg en die heuwels oop lê so ver as die oog kan sien.

Die (meestal) nat en modderige grondpaaie is nie té onsmaaklik nie, maar mens moet groot versigtigheid aan die dag lê. Sommige bestuurders kan roekeloos op die gladde padoppervlaktes raak, terwyl buitelandse toeriste soms hulself aan die verkeerde kant van die pad kan bevind.

Bietjie avontuur

Daar is so baie om te sien en te doen in die Tuinroete, dat mens half skuldig voel om selfs een aktiwiteit uit te laat. Van bungee jumping en staproetes en vaar op die Knysna lagoon… daar is interesante maniere om jou tyd te verwyl. Maar hier by Sedgefield, ‘n vakansieoordjie tussen Knysna en Wildernes, is ‘n 4×4 roete wat die beste uit jou en jou voertuig sal bring. Waar mens regtig die manne van die seuns kan skei! Okay, dis darem nie só erg nie.

Die roete begin aan die voet van ‘n heuwel waar die see aan die onderpunt teen die rotse klots. Met 4×4 hoë strek en die agterste ewenaarslot geaktiveer, kan mens die sandduine met gemak trotseer. Daar is steil hellings en dongas wat jou bestuursvernuf lekker kan beproef, maar beide mens en masjien sal vernuwe aan die anderkant uitkom.

Die Tuinroete met al sy verskynels is ‘n stukkie hemel op aarde en die’s wat hier bly weet watter goud hulle mee omring is. Die paaie en aktiwiteite is genoeg om enige toeris of inkomeling dadelik tuis te laat voel en die gevoel agter te laat van ‘volgende keer kom ek weer!’