Diesel Creta maak die regte geluide

Hyundai Creta,Creta,Hyundai,Manskap,South Africa,Suid-Afrika,Kaapstad, Cape Town
Foto: Charlen Raymond

Toe Hyundai sy nuwe Creta in 2017 hier in sonnige Suid-Afrika bekendgestel het, was die gevoel dat hierdie SUV ‘n sukses vir die Koreaanse vervaardiger sal wees. En dit kom dan as geen skok dat dit wel die geval was nie. Die Creta skuif onder die pas geloodse Kona, Tucson en Santa Fé in; laasgenoemde modelle is ook in 2018 vernuwe. Die Creta mag wel die kleinste SUV in Huyndaui se arsenaal wees, maar dit het allermins ‘n klein rol te speel.

Hyundai het laas jaar dinge eenvoudig gehou deur net drie modelle bekend te stel en hierdie jaar, met die bekendstelling van die hersiene reeks, het dinge onveranderd gebly. Alhoewel die modelle ‘n bietjie duurder is, het Hyundai beide die buite- én binnekant varser gemaak. Die klein SUV is steeds herkenbaar as die Creta, maar die algehele pakket is net verbeter.

Die diesel Creta is die derde, en ook die duurste, model in die reeks en verkoop vir R409 000. Nes die twee petrol modelle is dit slegs beskikbaar in Executive spesifikasie, maar geen handratkas is beskikbaar nie.

Hyundai Creta,Creta,Hyundai.Manskap,South Africa,Suid-Afrika,Kaapstad, Cape Town
Foto: Charlen Raymond

Vars ontwerp

Hyundai het nie té veel met die ontwerp gepeuter nie en het slegs klein veranderinge aangebring. Onder die vernuwings is ‘n nuwe sierrooster, misligte wat nou in die voorste buffer ingewerk is, en dagry-LED ligte. Die kopligte is ook herontwerp.

By die agterste buffer het dinge nie veel verander nie, maar mens kan sommer sien hoe en waar dit van die vorige model verskil. Die buffer is ook so ontwerpdat dit die uitlaatpyp wegsteek. ‘n Swart strook hardloop regom die voertuig om dit teen lae obstruksies te beskerm; as jy sou besluit om op in die bossies langs die grondpad te ry.

Die Creta ry steeds op 16-duim wiele en die grondvryhoogte van 190mm is net genoeg. Daai hoogte mag dalk nie na baie klink nie, maar dis genoeg om die grondpad te hanteer en so nou en dan die randsteen by jou plaaslike winkelsentrum.

Hyundai Creta,Creta,Hyundai.Manskap,South Africa,Suid-Afrika,Kaapstad, Cape Town
Foto: Charlen Raymond

Spoedbeheer!

Tot baie onlangs het Hyundai nie sommer spoedbeheer op sy motors gesit nie en moes jy, as jy dit wou hé, opsioneel aanskaf. Die kompetisie het baie keer gespring om hierdie funksie aan te bied, maar Hyundai het sy oog in die ander rigting geslaan. Nie meer nie, want die 2018 Creta het spoedbeheer as standaard en maak dit die voertuig meer aanlokliker.

Die diesel was nog altyd ‘n juweel – tel goed spoed op en behou spoed met goeie versneller beheer – maar nou is dit net soveel meer op sy gemak. Die byvoeging van spoedbeheer maak langafstande makliker, maar dit help ook om die gemiddelde dieselverbruik af te bring. Die turboaangejaagdde 1.6-liter enjin lewer 94kW en 260Nm, wat nie na baie klink nie, maar dis genoeg om die verbruiksyfer van 7.4 L/100km te bereik. En spoedbeheer help ook daartoe.

Soos reeds van melding gemaak is daar nie ‘n handratkas nie, net ‘n ses-spoed outomatiese ‘kas wat krag na die voorwiele stuur. Wanneer mens die versneller hard trap raas die enjin ‘n bietjie, maar ry rustig en die Creta suiker voort. in relatiewe stilte. Padgedrag is ook goed en is daar genoegsame terugvoer van die voorwiele via die stuurwiel.

Hyundai Creta,Creta,Hyundai.Manskap,South Africa,Suid-Afrika,Kaapstad, Cape Town
Foto: Charlen Raymond

Dit en dat

Omdat die Creta ‘n SUV is, was dit ontwerp om in die behoeftes van klein gesinne te voorsien. Dit hoef nie met toertjies belaai te wees nie, maar dit moet prakties wees; geondersteun deur ‘n kattebak van 402L. Elektriese vensters is by alle deure en daar is ook ‘n kamera vir wanneer jy agteruit ry.

Die multimediastelsel is maklik om te gebruik en te verstaan, maar satelliet navigasie is opsioneel beskikbaar. Daar is beheerknoppe op die stuurwiel aangebring en die kluster waarin die toereteller en spoedmeter is is ook hersien.

Opsomming

Net omdat die Creta die beginpunt van Hyundai se SUVs is, beteken nie dat dit ‘n onderskatte voertuig is nie. Dit het wat dit nodig het om ditself te laat geld en hanteer die alledaagse take goed. Gegewe die ekonomiese druk waaronder ons land is, maak hierdie diesel Creta goeie sin en sal dit amper ‘n sonde wees om nie na hierdie opsie te kyk nie.

Prys: Hyundai Creta 1.6D Executive – R409 900

Hyundai Creta,Creta,Hyundai.Manskap,South Africa,Suid-Afrika,Kaapstad, Cape Town
Foto: Charlen Raymond