Droom of geluk, Manchester is terug!

sokker,soccer,man united,manchester united,newcastle,manskap,premier league,south africa
Foto: Verskaf

Die afgelope naweek het Manchester United net dalk hul beste spel van die seisoen gelewer en weer sterk aan die ‘ou’ span herinner. Daai span wat in die laaste oomblikke van ʼn wedstryd die wen sou neem; daardie span wat mense op sokker verlief gemaak het. United het dit wéér teen Newcastle kom doen, al was Newcastle uitgehonger vir die wen.

Newcastle was opsoek na hul eerste wen na ag verlore op ʼn streep en het hulle die laaste paar wedstryde soos afkop hoenders gelyk. Maar Newcastle het in die eerste helfte van die wedstryd teen United twee doele aangeteken en het hulle soos babas wat honger vir melk is gelyk. Hulle wou dit hê en hulle wou dit met mening neem. Maar die goeie vorm het nie vir lank gehou nie.

Manchester United se bestuurder, Jose Mourinho, was – en is steeds – onder baie druk voor die wedstryd, maar die frustrasie wat hy in die eerste helfte gehad het was in die tweede helfte tot motivering omskep. Man U het lewendig gelyk en was daar ʼn nuwe energie onder die spelers. Die span het met meer intensiteit en aggressie gespeel en hul skoppe was beter beplan. Gedurende die tweede helfte het Manchester United drie doele aangeteken om die spel 3-2 te wen. Ondersteuners kon van die wedstryd wegstap met ʼn glimlag op hul gesigte en Mourinho het darem nou weer ʼn bietjie meer ruimte om asem te skep.

Die wen beteken nie dat United nou om die Premier Liga titel kan baklei nie, nog minder dat Mourinho se aanstelling veilig is, maar dit was iets spesiaal om te sien hoe United weer speel soos die wenspan wat hulle is.