E-Pace gee Jaguar nuwe woema

jaguar,jaguar e-pace,e-pace,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

ʼn Paar jaar terug het Jaguar die wêreld laat regop sit met sy nuwe F-Pace, en in 2018 het die Britse vervaardiger dit wéér kom doen; met sy nuwe E-Pace.

Maar eers terug na die F-Pace toe. Dit was 2016 en die Jaguar Simola Hill Climb – wat elke jaar in Knysna gehou word – was goed op dreef. In die aanloop tot daardie geleentheid was die enigste ding op almal se lippe die nuwe F-Pace wat Jaguar amptelik aan Suid-Afrikaners gaan bekendstel.

Afwagting was hoog en op die Saterdag, die voorlaaste dag van die Hill Climb, maak die F-Pace sy verwagting. Groot, mooi, en lekker hard met daai 3.0-liter V6 enjin wat die jaagroete baasraak. Dit was feitlik onmiddellik ʼn sukses, want alhoewel die SUV eers in Junie amptelik te koop was, was dit aan die einde van daardie jaar Jaguar Suid-Afrika se topverkoper.

Die probleem was dat F-Pace teen manne soos die BMW X5, Audi Q7 en Porsche Cayenne diens doen, en dat Jag nie enige teenvoeter vir die BMW X3 en Audi Q3 het nie. Dus, die E-Pace: ʼn SUV wat onder die F-Pace inskuif en slegs die tweede SUV in Jaguar se plaaslike arsenaal. Die I-Pace, ʼn elektriese SUV, kom later. Die E-Pace wat ons hier het sit bo-aan die reeks en is die P300 AWD R-Dynamic HSE. Dis ʼn lang naam, maar ʼn naam wat jou effe oor die R900 000 uit die sak sal jaag. En dis nog vóór jy enige opsies gekies het.

jaguar,jaguar e-pace,e-pace,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

E-Pace van nader

Die E-Pace se afmetings lyk lekker kompak en parmantig, maar dit is heelwat sagter op die oog as die F-Pace. Teen net onder 4.4m het die E-Pace goeie lengte, wat geondersteun word deur ʼn hoogte van 1.6m. Dis eintlik kort afmetings, maar dit doen genoeg om die E as Jag se nuweling te laat uitstaan. Hierdie spesifieke P300 is afgewerk in ʼn mooi blou en met opsionele 21-duim bande wat snoesig onder die bakwerk sit. Die sierrooster is massief wat jou die indruk gee dat ʼn vet enjin daar agter wegkruip, en aan weerskante is daar oulike LED dagry-ligte wat standaard tot die pakket gevoeg is.

Van agter lyk dinge ook nie te versmaai nie en vou die agterste wielboë amper koelrond na agter. Die SUV se kompaktheid word hier sterk beklemtoon, veral by die vyfde deur wat smal tussen die ligte sit. Onder is ʼn stel dubbele uitlaatpype wat in die swart buffer gekorporeer word.

Dis heelwat anders as die F-Pace, wat goed is, want dit gee aan die SUV sy eie persoonlikheid. Dis belangrik, want aan hierdie kant van die spektrum is individualiteit belangrik en wil kopers hul E-Pace’e so ver as moontlik verpersoonlik. Daarom het Jaguar ʼn reeks opsies waaruit voornemende kopers kan kies. Goed soos om ritinformasie op die voorruit te laat vertoon, die suspensie wat elektronies aanpasbaar is, Jaguar se Activity Key, hoofligte wat saam met die stuurwiel draai, die voorafgenoemde 21-duim wiele, en kragskokke vir agterste passasiers en in die kattebak.

jaguar,jaguar e-pace,e-pace,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

Mooi binneruim

Audi word gereeld daarvan beskuldig – en ek bedoel dit op ʼn baie mooi manier – dat sy motors van die skoonste en mooiste binneruime het. En hoekom sal iemand daarmee stry? Maar die Jaguar E-Pace se binneruim is ook nie te versmaai nie. Allermins. Die leer bekleedsel word versterk deur blou insetsels soos dié van die bakwerk se verf en die sitplekke is óók in ʼn treffende, dog sagte, blou leer afgewerk. Die instrumentepaneel is nie anders as dié wat in ander Jaguars ingespan word nie, so mens raak lekker vinnig vertroud met die stelsel. Amper soos wanneer jy ʼn ou vriend na jare weer sien en net optel waar julle laas gestop het.

Voor die bestuurder is die stuurwiel lekker dik en vol greep en is daar die kluster wat alle nodige bestuursinligting vertoon.

Gallery: Jaguar E-Pace P300 AWD R-Dynamic HSE

Een van die opvallendste veranderinge is die ratkiere wat ingespan word. ʼn Paar jaar terug het Jaguar Land Rover daardie draaiknop na die mark gebring wat omtrent heel hups uit sy bêreplek gedraai het wanneer jy die motor sou aanskakel. Dié van ons wat daarvan gehou het sal ietwat teleurgesteld wees, want Jaguar het dit met ʼn tradisionele ratkierie vervang. Dit is beslis prakties en is dit skoons tweede natuur om die hefboompie te beweeg, maar mens mis tog daardie andersheid.

Die voorste sowel as die agterste sitplekke is met verhitters toegerus, maar die voorstes kan verkoel, ook. Die laairuim is ʼn baie bruikbare 577L, maar vergroot tot 1 234L wanneer die agtersitplekke afgeslaan word.

jaguar,jaguar e-pace,e-pace,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

Statig op die pad

Hierdie P300 (met die lang naam) word deur ʼn turbo-aangejaagte 2.0-liter petrol enjin aangevuur wat 221kW en 400Nm ontwikkel. Dis dieselfde enjin wat in die F-Type ingespan word, maar mens moet nie verwag dat verrigting soos daardie plat kar sʼn sal wees nie, want daar is iets wat teen hierdie lekker SUV tel: sy gewig.

Al skuif dit onder die F-Pace in, is dit ʼn hele 124kg swaarder! 1 894kg teenoor die “ekwivalent” F-Pace se 1 770kg. Dis ʼn klomp gewig wat die ‘kleiner’ SUV moet rond dra en dit het beslis ʼn impak op hoe die wa hanteer. Plant jou voet, selfs in Dynamic modus, en daar is ʼn bietjie van ʼn gepor-por alvorens die SUV vorentoe skiet. Maar, wanneer dit op dreef is, hardloop dit seepglad en sonder moeite. Tog, met al daardie gewig neem dit effens langer vir die P300 om tot ʼn stilstand te kom. Gelukkig is daar nie enige onstabiliteit wanneer mens hard rem nie, maar onmiddellike byt wanneer jy op die remme lê voel effe afwesig.

Die stuur is ook aan die ligte kant.

Maar al is hierdie E-Pace hoe, mens wíl hom ry. Jy wíl op die pad wees. Die rit is innemend en kalmerend. Daar is nooit enige groot behoefte om aanstaltes te wíl maak nie. En wanneer ʼn voertuig dít aan jou doen moet jy weet die vervaardiger het iets reg gedoen. Opinie is objektief, maar Jaguar maak lekker karre.

Slotsom

Die E-Pace P300 AWD R-Dynamic HSE is nie ʼn perfekte kar nie – dit het sy tekortkominge – maar dit is ongetwyfeld ʼn lekker ding. Selfs die relatief hoë petrolverbruik (anderkant die 12 L/100km merk) het nie gepla nie, want mens wil met dit ry. Daar is beslis ʼn plek in Jaguar se stal vir die E-Pace, maar dis amper soos daai baba wat vrot bederf was en nou méér vetjies as sy ouer boeties en sussies het. Dis nog bitter vroeg in die E-Pace se siklus, maar as Jaguar net van daai oortollige gewig ontslae kan raak sal hierdie kar op bykans alle vlakke ʼn wenner wees.

Prys: R909 317

jaguar,jaguar e-pace,e-pace,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson