Eksentrieke Fiat Panda Cross

fiat panda cross 4x4,panda,panda cross,4x4,manskap,fiat,suid-afrika,south africa
Foto: Charlen Raymond

Ja, dis reg. Fiat het ʼn Cross model saam met sy nuwe Panda-reeks bekendgestel wat met 4×4-dryf toegerus is. Nou voor jy begin frons oor die idee dat ʼn stadskar hierdie tipe dryf het, die Fiat Panda Cross maak nogal sy stem dik.

Ek moet erken, dit is vreemd vir ʼn voertuig van dié grootte om ʼn 4×4 stelsel te hê, so daar moet seker ʼn plek in ons oorvol mark wees vir iets só anders, só nis, as die Panda Cross wees. Dit kan natuurlik nie ernstige 4×4 dinge doen nie, so wat kan dit doen? Wel, die vibe omtrent dit is lekker eksentriek; as dit vir enigiets tel.

Prettige ontwerp

Dis ʼn bietjie van ʼn vreemdheid, hierdie Panda. Dis nie onaardig of lelik nie, maar dit vat bietjie gewoont raak. Sommige mag dadelik van die ontwerp hou, terwyl ander na die boks-ontwerp kan kyk en dink dat dit bietjies té vierkantig is. Hoe die ontwerp ookal gesien word, daar is geen twyfel dat die kar in ons mark uitstaan. Die hoë dak, die kort hange voor én agter, oorgroot misligte… dit alles skep ʼn pakket wat nie terug sal staan nie.

In terme van grootte is die Panda Cross nie baie groot nie en is dit maar ʼn skamele 3.7m in lengte en 1.6m hoog. Ongeag die afmetings is daar genoeg ruimte vir passasiers. Laairuim is baie knap teen 225L, maar kan darem tot 870L vergroot wanneer die agterste sitplekke plat geslaan word.

Die uniekheid van die ontwerp word binne voortgesit met ʼn eksentrieke instrumentpaneel. Voor die bestuurder is ʼn paar klusters wat lesings huisves, terwyl daar ook kontrole op die stuurwiel geplaas is om jou media toestelle te beheer. Die middelkonsole het wel ʼn bietjie van ʼn eienaardige ontwerp, maar, op ʼn snaakse manier, is dit ʼn wink in die rigting van Italiaanse flair.

fiat panda cross 4x4,panda,panda cross,4x4,manskap,fiat,suid-afrika,south africa
Foto: Charlen Raymond

Van die pad af

Die Fiat Panda Cross sit bo-aan die Panda-reeks en is met ʼn 4×4 stelsel toegerus. Behoorlike vier-wiel dryf om ʼn bietjie in die sand te kan gaan speel. Fiat het ʼn bietjie van ʼn anderste pad gevat om hierby uit te kom en is die Cross, dus, met ʼn interessante pakket toegerus.

Voor in die neus is ʼn turbo-aangejaagte 0.9-liter twee-silinder enjin wat 66kW en 145Nm uitskop, en dis gekoppel aan ʼn ses-spoed handratkas wat die krag na al vier wiele stuur. Daar is geen sluitewenaars nie, maar eerste rat bied genoeg sodat die klein karretjie oor ʼn paar duike en gate kan kouter. Die 15-duim wiele wat op die Panda Cross gesit is is nou wel nie behoorlike 4×4 bande nie, maar dit is effektief genoeg om die werk gedoen te kry.

Die hoogte en dun wiele van die voertuig maak dat die Cross nie ʼn versekerde 4×4 wa is nie, maar danksy goeie grondvryhoogte het jy darem gemoedsrus dat nie baie dinge die klein Panda se progressie sal kelder nie.

Opsomming

Die Fiat Panda Cross is duidelik nie jou gewone 4×4. Dit lyk soos én is ʼn klein stadskar, en is nie in staat om veel meer aan te vat as ʼn heuwel of twee en die randsteen by jou naaste supermark nie. Maar, onder al daardie metaal is daar ʼn groot ywer wat wag om ontsluit te word en kan mens nie die kar net op die uiterlike oordeel nie. Ja, dit is anders en daar is ander karre op die mark, in dieselfde prysklas, wat beter waarde vir jou geld bied, maar die Fiat Panda Cross is een van daardie voertuie wat individualiteit bo alles plaas.

En dáái behoort vir iets in ons uiters beproefde mark te tel.

Prys: R270 900

fiat panda cross 4x4,panda,panda cross,4x4,manskap,fiat,suid-afrika,south africa
Foto: Fiat Suid-Afrika