Evoque laat sak sy dak

range rover evoque
Foto: Land Rover SA / MotorPress

Toe die Range Rover Evoque ‘n paar jaar terug plaaslik bekend gestel was, was dit dadelik ‘n sukses onder kopers. En dit is steeds. Die ontwerp lyk steeds modern en die dimensies is kompak en, durf ek om te sê, sexy. So dit was nie juis ‘n skok toe die Britse SUV vervaardiger aangekondig het dat hulle ‘n afdak weergawe van die Evoque gaan bou nie. Inteendeel, die vooruitsig daarvan het die meeste mense verskriklik opgewonde gemaak en die internet het omtrent gebreek elke keer wanneer daar ‘n brokkie nuus of foto van die voertuig verskyn. Dit het nie juis saak gemaak watter informasie dit was nie, mense wou oor die afdak Evoque weet.

En toe in 2016 het dit uiteindelik in Suid-Afrika geland; net so mooi soos die foto’s voorgestel het dit sou wees. Twee jaar later en die afdak Evoque is ‘n bekende gesig op ons land se paaie, maar steeds trek dit aandag en por die oë aan om die oomblik in te neem.

Twee deure, vyf sitplekke

Die Evoque is beskikbaar met óf drie óf tweedeure, maar die afdak is slegs beskikbaar met twee. Gelukkig word die voorste sitplekke outomaties beheer, maar mens wag ‘n oomblik of drie vir dit om ver genoeg vorentoe te skuif alvorens jy die agterste sitplekke kan betree. Praat van agter, beenruimte is glad nie sleg nie, maar langer passasiers se bene mag dalk ‘n bietjie lam word op langer ritte. Die rede vir hierdie relatief beperkte beenruimte agter is die afslaandak. Die meganisme wat dit op en af laat beweeg sit tussen die kattebak en die agterste sitplekke en dit het sy eie ruimte om optimaal te kan funksioneer.

Beperkte ruimte of te not, die SUV se mediastelsel is, tipies Jaguar Land Rover, baie maklik om te gebruik. Die lesings op die sentrale raakskerm is groot en om deur die funksies te blaai is beide funksioneel en prakties.

Maar die olifant in die kamer, daardie lapdak, is die SUV se grootste truuk. Om op of af te slaan neem onder 20 sekondes en mens beheer dit deur die skakelaar tussen die voorste sitplekke te druk. Hou die knoppie vir die hele proses tot ‘n klokkie aandui dat die proses voltooi is. Selfs met die dak op lyk die Evoque steeds soos ‘n treffer, maar natuurlik trek dit meer aandag met die dak af.

Daar was iets omtrent die bougehalte wat die gesig laat frons het. Die panele is goed aanmekaar gesit, die binneruim voel stweig wanneer mens aan dit raak, en die sitplekke bied oorgenoeg ondersteuning en gemak oor lang ritte. Maar wanneer die vensters afgerol en binne-in die deur gehuisves is, klink die glas los wanneer mens die deure toemaak – veral aan die passasierskant. Dit is senutergend en kommerwekkend, veral omdat mens dit nie van ‘n motor verwag wat oor R1-miljoen kos nie.

Oor die randsteen

‘n Tydjie terug het Jaguar aangekondig dat hulle ‘n nuwe reeks 2.0-liter enjins gaan bou, genaamd sy Ingenium reeks. En omdat Jaguar en Land Rover hul voertuie basies sy-aan-sy bou en die motors amper alle tegnologieë deel, was dit ‘n logiese stap om hierdie enjins ook in die twee Evoque modelle in te span. Maar slegs die turboaangejaagte 2.0-liter enjin met 177kW/340Nm is in die afdak beskikbaar. En soos van ‘n Range Rover te wagte kan wees, word al die krag na al vier wiele gestuur. Land Rover (moedermaatskappy) sê dat die afdak Range Rover Evoque ‘n skamele 8.0-liter/100km gebruik, maar omdat die kar so lekker is om te ry en die uitlaatpype ‘n lekker klankie het, is dit veilig om te sê dat daardie syfer byna onmoontlik is om te bereik.

En hierdie Evoque hardloop op die pad! Die gladde nege-spoed outomatiese ratkas klik lekker oor en sal so maak tot by die topspoed van 217km/h. Maar nie alvorens die 0-100km/h lopie in 8.1 sekondes verby is nie.

Mens moet ook net onthou dat al kom die Evoque met daardie Land Rover naamplaat op sy neus, is dit nie só geskik vir 4×4 avonture nie. Grondpaaie is dood dollies, maar om van dit te verwag om te doen wat die Discovery, Range Rover, en Range Rover Sport kan doen is ‘n bietjie te veel gevra. Ja dit het ‘n grondvryhoogte van oor die 200mm, maar dis meer vir skou as enigiets anders. Dit ry lekker, solank mens dit op die teer hou, en so af en toe op ‘n stukkie grondpad. Geen dongas en rotse! Maar wanneer mens by jou gunsteling winkelsentrum is, voel vry om dan die 4×4 vermoëns te toets deur oor ‘n randsteen te klim en te parkeer waar mense in sedans en luikrûe nie kan nie.

Die Evoque is vir die strate van Sandton gemaak, Strandstraat in Kampsbaai, Clarence Drive tussen Gordonsbaai en Rooi Els, en oggendverkeer met die dak af terwyl jy aan jou koffie teug en ander padverbruikers jou so nou en dan ‘n kopknik in die regte rigting gee. Mens weet dat hierdie kar nie die skerpste potlood in die pakkie is nie en dat vir dieselfde geld mens eerder ‘n Jaguar F-Pace of Land Rover Discovery kon aanskaf. Maar mens sal ver moet soek vir ‘n SUV met dieselfde aura en sexiness as hierdie afdak Range Rover Evoque.