Fernando Alonso ry Dakar-Hilux in SA!

Manskap,fernando alonso,alonso,toyota,hilux,dakar,toyota hilux,dakar hilux,dakar-hilux,giniel de villers,dakar rally,northern cape,noord-kaap,south africa,suid-afrika
Foto: MotorPress / Toyota SA

Voormalige Formule 1 jaer en deesdae Toyota Gazoo Racing-renjaer, Fernando Alonso, het op 27 en 28 Maart 2019 ʼn tweedaagse evalueringstoets in Suid-Afrika agter die stuur van die Toyota Hilux wat onlangs die Dakar-veldtydren gewen het, voltooi.

Alonso, wat op die oomblik die voorlopoer in die FIA se Uithouren-wêreldkampioenskap (WEC) saam met sy spanmaats Sebabien Buemi en Kazuki Nakajima is, het twee dae in die Kalahari-woestyn deurgebring waar hy in ʼn eksklusiewe toets met die vereistes van veldtydrenne kennis gemaak het.

Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika het die toets gereël sodat Alonso die eerste keer in sy renloopbaan veldtydrenne kon beleef. Die voormalige Dakar-veldtydrenwenner Giniel de Villiers, ʼn Suid-Afrikaner en gereelde mededinger vir Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika, het die Spanjaard touwys gemaak.

Die Toyota Hilux, wat in Januarie die 2019-Dakar-veldtydren in die hande van Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel gewen het, word deur ʼn 5.0-liter V8 enjin wat 288kW lewer en 620Nm se wringkrag ontwikkel,
aangedryf . Alonso het die motor op twee roetes in die woestyn gery – een ʼn roete oor 8km en die ander een van 17km.

‘Groot pret’

Oor sy ervaring sê Alonso: “Ek het die Dakar-ren gevolg en danksy Toyota Gazoo Racing die geleentheid gehad om Suid-Afrika toe te kom om die Dakar-Hilux te kom toets. Ek het die afgelope paar jaar verskillende reekse en verskillende motors beleef en dit was ʼn groot geleentheid. Dit was groot pret; gewis iets anders as waaraan ek gewoond is om te bestuur, maar baie interessant.

Lees: Só verkoop Hilux in 2018

“Ons het stadig spoed opgebou en rondte vir rondte geleer. Dit is nie maklik om die roete te lees en te weet hoe vinnig om te ry nie, maar ek het elke keer meer en meer selfvertroue gehad. Die Hilux het puik gevoel; die motor het fantastiese klouvermoë en goeie balans, baie krag en indrukwekkende remvermoë. Dit was ongelooflik om die motor te kon ry.”

ʼn Ander dissipline

Glyn Hall, hoof van die Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika span, sê: “Dit was ʼn fantastiese ervaring vir die span om saam met ʼn bestuurder van Fernando se kaliber te werk. Dit is maklik om te sien hoekom hy soveel sukses in motorsport geniet. Hy was baie goed vir die toets voorbereid en het ʼn groot poging aangewend om so veel as moontlik in die twee dae te leer.

“Veldtydrenne is ʼn heeltemal ander dissipline teenoor ʼn renbaan, maar Fernando het indrukwekkende vordering gemaak en dit het gelyk of hy dit reg deur die proses geniet het. Ek is trots dat hy gekies het om ʼn Toyota Hilux in Suid-Afrika te kom toets en ek hoop dit was ʼn waardevolle belewenis.”