Fiat Fullback ʼn verfrissende alternatief

fiat,fullback,fiat fullback,bakkie,manskap
Foto: Warren Wilson

Dis altyd verfrissend wanneer ʼn nuwe bakkie die mark betreë. Die Toyota Hilux, Ford Ranger, Isuzu KB, en Mitsubishi Triton is almal goed in eie reg en voor in die koor van wat bakkies kan doen, maar verbruikers kyk soms ander bakkies mis; bakkies soos die Fiat Fullback.

En dan lig dit weer uit dat soms kry jy iets goeds in die onwaarskynlikste plekke. Skimp ek dat die Fiat Fullback, aangetrek in sy Professional 4×4 baadjie, Suid-Afrika se volgende groot bakkie is? Glad nie, maar mens kan nie die bakkie op sy wapen oordeel nie.

Bietjie Triton

Die Fullback deel baie komponente met die Mitsubishi Triton – baie duidelik wanner mens net na dit kyk. Die ontwerp, om mee te begin, steun swaar op die Triton en van ver mag dit selfs vir een misgis word. Dit het selfs die J-lyn wat die kajuit van die laaibak onderskei. Praat van, daardie bak se laairuimte is ʼn hele 1000L, plus die grondvryhoogte is lekker hoog op 205mm. Dis nou nie die beste in sy klas nie, maar dis hoog genoeg om oor menige obstruksie te klouter.

Die binneruim is in leer toegerus, maar ook hier kom die Triton sterk navore. Die paneelbord, die plasing van die knoppies, en die draaiknop tussen die voorste sitplekke waarmee mens die 4×4 stelsel beheer, dit alles word vanuit die Triton oorgedra. Die enjin en ratkas word ook met die Mitsubishi gedeel.

Teen die tyd lees dit seker dat die Fullback nie sy eie karakter het nie en dat dit ʼn afgewaterde Triton is, maar daardie gevolgtrekking sal kortsigtig en van die punt af wees. Hierdie bakkie wys sy staal wanneer die wiele begin rol. Die vyf-spoed outomatiese ratkas lyk soos ʼn stap in die verkeerde rigting teenoor ander bakkies se ses-, sewe-, en agt-spoed ratkaste, maar dit haak die volgende rat sonder twyfel. In die dorp absorbeer die suspensie die ongelykhede nogal goed, maar die vering maak dat daar ʼn fermheid oor die agterste as is. In die algeheel is die ritgehalte lekker en selfs die draaisirkel van 11.8m keil jou nie op nie.

Die langpad is een van die bakkie se sterkpunte, veral teen 120km/h en die dieselverbruik wat dan tot rondom 9.0 L/100km sak. Dis baie goed, gegewe dat die 2.4-liter enjin 133kW en 430Nm ontwikkel. Krag word egalig na die wiele gestuur, sonder om oordadig en uit die wil te voel.

fiat,fullback,fiat fullback,bakkie,manskap
Foto: Warren Wilson

ʼn Modderige situasie

Hierdie Fullback is die top model in die reeks en is met ʼn 4×4 stelsel toegerus. Gedurende die toetsperiode was die Fullback op ʼn ekskursie na die buite howe van Franschhoek in die Boland geneem. Die trippie na ʼn stil kol langs ʼn dam tussen berge en heuwels het van die Fullback vereis om werklik modderige terrein te oorkom. In gewone 4×2 modus het die agterwiele die wa deur die drif getrek, sonder dat daar vir greep gesoek word. Maar té groot rotse het gemaak dat mens net tot ʼn sekere punt kon ry alvorens jy moet omdraai.

Gallery: Fiat Fullback 4×4 Professional

Omdraai was ook bietjie van ʼn probleem en moes tru-rat gehaak word en die bakkie agteruit ry om uit die modder te kom. En skielik val die bakkie in ʼn sandwal vas. Nou, hierdie sandwal het ek teen afgekom toe, maar met ʼn benaderingshoek van 30 grade kon die bakkie maklik daar afkom. Maar die vertrek hoek agter is ʼn bietjie minder teen 22 grade en dit maak nou dat die bakkie vassit. Traksiebeheer word afgeskakel, die ekstreemste 4×4 modus geaktiveer, agterste ewenaarslot aangeskakel, en klippe onder die agterwiele vir greep te geplaas. En al was die wiele meer as halfpad onder die modder, het die Fullback gou-gou traksie gekry en sonder moeite uit die glibberige modderigheid geseil.

Dit was soort van pret om vir ʼn paar minute, teen my wil, in die modder te speel, maar ten minste het dit gewys dat die bakkie sy ding kan doen wanneer die bande greep het. En soos ons almal weet is greep baie belangrik wanneer jy die rowwe goed aanpak.

Slotsom

Die Fiat Fullback Professional 4×4 bied goeie waarde teen R573 900, en dit bied iets méér aan as om net ʼn Mitsubishi Triton onder al daai metaal te wees. Dis ʼn jammerte, weet jy, dat ons mense verby hierdie bakkie kyk en dit nie ʼn kans gee nie. Ja, dis nie op dieselfde vlak as die Hilux, Ranger, en Triton nie – daaroor gaan ek nie stry nie – maar dit het sy eie karakter en het gewys dat dit bekwaam beide op teer en modder is.

Prys: R573 900

fiat,fullback,fiat fullback,bakkie,manskap
Foto: Warren Wilson