Formule 1: 2019 se jong klomp

manskap,f1,formula 1,racing,alexander albon,toro rosso
Alexander Albon. Foto: Verskaf

‘Jy is die toekoms,’ het ons al seker tot vervelens gehoor toe ons jonger was. Dat die toekoms in ons hande is en dat ons, die volgende generasie, sal bepaal hoe die toekoms daarna uitsien. Selfs in Formule 1 is dit die geval en sien ons in 2019 ʼn aantal jong jaers wat op 17 Maart, in Melbourne, Australië hul F1 loopbane amptelik van stapel sal stuur.

Alhoewel die bekendste jongeling, Max Verstappen, al vir ʼn geruime tyd in die sport is, sal hy vanjaar teen meer as een tydgenoot te staan kom. Hier is ʼn paar van vanjaar se jongelinge:

Max Verstappen, 21-jaar-oud: Red Bull Racing

Verstappen is nie ʼn vreemdeling vir F1 nie en het dié sensasie die veld aan die brand gejaag toe hy in 2015 sy buiging maak. Na een seisoen en vier renne is hy van Toro Rosso na Red Bull bevorder waar hy in Spanje, in sy eerste ren vir Red Bull, ʼn sege behaal het. Oor die laaste paar jaar het Verstappen al vyf keer gewen en sal hy hoop om daai getal in 2019 te vermeerder. O ja, hy was maar 17 toe hy die sport betreë en met geen bestuurslisensie agter sy naam. Talentvol, sê ek julle.

manskap,f1,formula 1,racing,max verstappen,red bull, red bull racing
Max Verstappen. Foto: Verskaf

Charles Leclerc, 21-jaar-oud: Ferrari

In 2018 het Leclerc vir Sauber gejaag. So besonders was sy talent dat hy vir 2019 tot die Ferrari-span bevorder was om langs Sebastian Vettel te ry! Oorle’ Sergio Marchionne, Ferrari grootbaas wat laas jaar afgesterf het, het Leclerc ondersteun om by die span aan te sluit. Dié jongman sal moet uithaal en wys dat hy by Ferrari hoort, want hy sal teen gedugte teenstanders in die vorm van Vettel, Verstappen, en 2018 kampioen Lewis Hamilton van Mercedes-AMG, te staan kom. Gelukkig vir Leclerc het hy laas jaar gewys dat hy kán jaag en het hy baie goeie resultate in ʼn onderpresterende Sauber aangeteken.

Lees: Raikkonen en Leclerc… eintlik nogal poëties

manskap,f1,formula 1,racing,charles leclerc,ferrari
Charles Leclerc. Foto: Verskaf

Lando Norris, 19-jaar-oud: McLaren-Renault

McLaren-Renault het vir 2019 ʼn nuwe jaerspan in Carlos Sainz Jnr. en Lando Norris. Laasgenoemde was maar 17 toe hy as McLaren se amptelike derde jaer aangekondig was en is vanjaar die jongste jaer in die kuipe. Norris het ʼn natuurlike talent wat ons lanklaas gesien het en het hy goeie resultate in Formule 4, Formule Renault, Formule 3, en laas jaar in Formule 2 behaal. Hy het groot vordering oor die loop van 2018 gemaak en was selfs agter die stuur van ‘n McLaren F1 motor tydens die Belgiese en Italiaanse GPs se amptelike oefensessies. McLaren-Renault sal bitter vinnig kompeterend moet raak, anders mag een van die groter spanne die jong Norris onder hul neuse uitkoop…

manskap,f1,formula 1,racing,lando norris,mclaren-renault
Lando Norris. Foto: Verskaf

Alexander Albon, 22-jaar-oud: Scuderia Toro Rosso

Half Brit half Thaiwanees, Albon het in 2008 by die Red Bull Junior Span aangesluit. Sy pad tot in F1 was nie maklik nie en was daar moeilike tye in sy kort loopbaan. Oor die jare het hy, onder andere, aan Formule Renault en Formule 2 deelgeneem, maar sy vertoning in laasgenoemde het die knoop vir hom deurgehaak om in 2019 vir Toro Rosso te jaag. Vir interessantheid: Albon was in 2016 Leclerc se spanmaat in die GP3-reeks, maar het daardie seisoen tweede agter Leclerc voltooi. In 2012 het Albon saam met manne soos Daniil Kvyat, Sainz Jnr., en Pierre Gasly (almal in die Red Bull Junior span) aan Formule Renault deelgeneem, en raai net waaraan neem hulle almal vanjaar deel.

manskap,f1,formula 1,racing,alexander albon,toro rosso
Alexander Albon. Foto: Verskaf

George Russel, 20-jaar-oud: Williams Martini Racing

Vir geharde F1 aanhangers is Russel nie ʼn onbekende naam nie. Die jongman het in 2017 die GP3 kampioenskap gewen, sowel as die Formule 2 kampioenskap in 2018 (Norris was tweede, en Albon derde). Russel word deur Mercedes-spanbaas, Toto Wolff, bestuur, wat gehelp het dat hy vanjaar by Williams kon aansluit (Mercedes verskaf aan Williams hul enjins). Williams het in 2018 ʼn baie swak seisoen beleef en sal hoop dat die nuwe jaerspaar van Russel en Robert Kubica hulle weer op ʼn kompeterende voet sal plaas. Wie weet, dalk is Russel die beloofde een.

manskap,f1,formula 1,racing,williams,williams martini racing
George Russel. Foto: Verskaf