Gatswaai met ‘n Japanese samurai

toyota 86
Foto: Charlen Raymond

In hul pogings om die beste en perfekte motor te bou, het sommige vervaardigers half vergeet hoe om ‘n gewone sportskar na vore te bring. Ons verstaan dat tegnologie en nuwe verwikkelinge ontwikkeling voort stu, maar soms in die gejaag na perfektheid verloor baie motors hul siele. Dan is dit net ‘n masjien op wiele wat baie vinnig kan ry.

Dis dan dat ‘n kar soos die Toyota 86 so in jou binne-baan verskyn. ‘n Sportskar wat van meet af jou aandag trek en met jou emosies torring. Klein, kort, en bakgat van selfvoldaanheid. Dis hoe mens hierdie kar kan beskryf. Jis, maar hy’s mooi, né!

Tokkel die snare

Vroeër hierdie jaar het Toyota sy 86 van opkikkering voorsien. Klein veranderingtjies wat in die geheel ‘n groter impak op die algehele produk gehad het. Die skerp neus is steeds daar, maar die voorste buffer het nou twee opwaartse bulte vir daai ekstra kwaai gesig. Die wielboë staan steeds lekker uit en die bande is weer by die Toyota Prius geleen. Die drukvlerk agter is ook behou. Dis mos hoe ‘n sportskar moet lyk, dan nie? So lekker hups; so asof die testosteroon teen die verf af drup. ‘n Kar, veral ‘n sportskar, moet met ‘n mens praat en die emotiewe sy van die mens ontstook. Maar wat hierdie lekkerny ekstra lekker maak, is dat dit ‘n Toyota is! Toyota, wat in onlangse jare verantwoordelik was vir van die saaiste motors op ons paaie. Maar nie die 86 nie. O nee! Hierdie kar kan mens nie mis nie.

Subaru? Waar?

Die kragbron wat ingespan word is nie die kragtigste nie, maar dis beslis ‘n lekker speelding. Met 147kW en 205Nm wat uit die 2.0-liter enjin getoor word, is kragvlakke maar laag. Veral as mens kyk na watter kragsyfers deesdae uit ‘n aangejaagde enjin van dieselfde grote gekry kan word. So hoekom hét Toyota nie ‘n turbo of twee aan die enjin vasgeskroef nie? Want dit was/is nie nodig nie.

Die bokser enjin wat vanuit Subaru se geledere kom klink lekker grom en rof; soos dit ‘n bokser enjin betaam (dis omdat die silinders horisontaal vuur). En dis daardie grom wat mens half forseer om die enjin te druk, net om te sien waar hy “Hokaai!” sal roep. Maar hy roep nie. Hierdie enjin smeek om gery te wees. Hy wil gedruk wees. Aitsa!

86 se hartklop

Ons kan lank debateer oor waar die Toyota 86 kortval, maar daardie tekortkominge is juis die dinge wat die kar so goed maak. Die 86 se wese, sy bestaan, kom vanuit die bestuursondervinding. Hel, wanneer mens die kar oor ‘n bergpas looi of net lekker gatswaai-pret wil hê, hoef jy nie ver te soek nie. Die 86 is plat op die aarde, by wyse van spreke. Dit klou om ‘n draai en die stuurgevoel is so direk soos ‘n vuishou op die neus.

Wanneer die bokser enjin goed op dreef is en die toere telkemale met die rooi lyn flankeer en dit die perfekte oomblik is om ‘n hoër rat te haak, dan skop die kar vas met ‘n meganiese ‘klik’ van die een rat na die ander. Die vader weet, mens kan selfs voel hoe die rat aan die agterste dryfas byt! Dis behoorlike pret hierdie!

Prys: R494 900