GERY: Splinternuwe Mercedes A-Klas

mercedes-benz, A-Class
Foto: Charlen Raymond

In die laaste week van April 2018 het Mercedes-Benz sy splinternuwe A-Klas aan internasionale media verteenwoordigers bekend gestel. En, seg Merc, hierdie stadskar is een van sy mees gevorderdste motors.

Dis omdat die A-Klas dinge bietjie verder geneem het in terme van tegnologiese truuks en kan dit nou selfs met die magtige S-Klas kompeteer in terme van wat die motor alles te bied het. Die mooi stad van Split in Kroasië het gasheer vir die bekendstelling gespeel en het die landelikheid toegelaat dat die motor goed op die proef gestel kon word. Die kar is steeds herkenbaar as ʼn A-Klas, maar die ontwerp is skoner en meer vloeiend as tevore.

LEES: Merc S500 Cabriolet ʼn geskenk van bo

Rakende enjins kan Mercedes-Benz Suid-Afrika nog nie bevestig watter eenhede na ons oewers gaan kom nie, maar die media kon ten minste ʼn paar modelle op die proe. Bestaande uit twee petrol modelle en een diesel, beloof die nuwe reeks om op die sukses van die uitgaande generasie te bou.

Op die pad

Soos reeds genoem word die nuwe A-Klas deur ʼn reeks vier-silinder, turbo-aangejaagde enjins aangevuur; almal óf nuut óf hersien. Die eerste enjin is ʼn 1.33-liter petrol enjin in die A200 wat 120kW en 250Nm uitskop. Hierdie enjin, wat die ou 1.6-liter vervang, kan met die ses-gang handratkas gekies word of met die sewe-spoed outomatiese ‘kas. Volgende is ʼn 2.0-liter enjin wat in die A250 diens doen en 165kW en 350Nm lewer. Hierdie enjin is slegs met die outomatiese ratkas beskikbaar. Laastens is daar ʼn 1.5-liter diesel enjins in A180 d wat 85kW/260Nm lewer en ook net met die outomatiese ratkas beskikbaar is. Hierdie diesel enjin doen ook in heelwat Renault produkte diens, maar Merc sê dat hulle van die enjin se komponente aangepas het vir gebruik in die A-Klas.

Ná net die A200 en A180 d op die bekendstelling gery was, was dit duidelik dat beide motors se ritgehalte beter is as die modelle wat hulle vervang. Mercedes-Benz het die suspensie op alle modelle aangepas, met opstelling en konstruksie aan beide die voorste en agterste suspensie wat beter op-die-pad gemak bied. Alle modelle het McPherson suspensie aan die voorpunt, maar agter het die A200 en A180 d ʼn torsiebalk teenoor die A250 se vier-skakel suspensie. Die onderstel op die twee voorafgenoemde modelle bied goeie stabiliteit en ʼn rit wat sag, dog ferm, en verseker is. Albei voertuie het ʼn trae gevoel wanneer mens aan die stuurwiel draai, maar byna dadelik is stuurgevoel gewigtig en reageer dit goed. Mercedes se Lane Keep Assist is baie aggressief en rem dit met mening wanneer dit agterkom dat jy uit jou baan beweeg. En die stuurwiel reageer op dieselfde manier om jou weer terug te bring.

Die A200 se enjin het ʼn lewendigheid omtrent dit, maar dit voel nooit of die klein enjintjie homself ooreis nie. Alhoewel Mercedes aanvoer dat gemiddelde petrolverbruik 5.2 l/100km is (5.8 vir die handrat), kan mens nie help om te wonder hoe beide verrigting en ekonomie beïnvloed sal word wanneer die enjin vir sy brood en botter moet werk met vyf passasiers aanboord en ʼn laaibak vol bagasie nie.

Die diesel enjin, aan die ander kant, is dalk die model om voor te gaan. Die wringkrag is beskikbaar van so laag as 1800rpm af en is daar altyd ʼn goeie dosis verrigting in enige rat op enige gegewe oomblik. Die gekletter wat met diesel enjin geassosieer word is byna afwesig op hierdie model, maar die eintlike vraag is of Mercedes hierdie enjin na ons mark toe gaan bring – die swak gehalte van ons diesel speel ʼn baie groot rol. Indien nie, kan ons op ʼn diesel enjin te wagte wees met ʼn bietjie minder krag (i.e. Renault Duster: 80kW/250Nm). Ongeag, Merc sê dat dieselverbruik ʼn skamele 4.1 l/100km is.

ʼn Verdere hoogtepunt is ʼn sluursyfer van slegs 0.25cd en ʼn kajuit wat 30% (3db) stiller as die uitgaande model sʼn is.

Binneruim & tegnologie

Dié van ons wat met die A-Klas bekend is sal dadelik opmerk dat die nuwe model se binneruim baie anders as die uitgaande model sʼn is. Die nuwe binneruim is nou skoner en makliker om te verstaan, en die kajuit skep ook die gevoel van ruimte. Meeste van die beheerknoppe is op die stuurwiel aangebring en kan al die verstellings op die skerms voor die bestuurder aangebring word. Hierdie skerms is by die S-Klas geleen en aangepas vir die A-Klas, maar die een bo die middelkonsole kan met raak-tegnologie beheer word. Nóg ʼn nuwigheid by die A-Klas is Merc se MBUX: ʼn stembeheer stelsel waarmee mens verskeie opdragte aan die kar kan rig en die kar dit dan uitvoer. Aktiveer die stelsel deur “Hey Mercedes” te sê en die kar sal dan vra hoe dit jou tot hulp kan wees.

Mercedes-Benz erken dat die stelsel ʼn paar tekortkominge het en dat kwellings opgelos sal word soos hulle dit sal opdateer, maar die sisteem verstaan die basiese van opdragte. Mens kan nou die media stelsel se volume aanpas, die lugversorging se blaas sterkte stel, die oop- of toemaak van die sondak, ens. doen deur net ʼn woord te spreek. Die sisteem is land/dialek sensitief, wat dit amper moeilik gemaak het vir die MBUX om ʼn sterk Afrikaanse aksent te verstaan. Maar die stelsel erken 23 tale, insluitend Engels en is verenigbaar met Google Home en Amazon se Alexa.

Verder, as eienaars dit so verkies, kan hy/sy hul motor met ander deel deur ʼn digitale sleutel na die ander verbruiker se slimfoon te stuur. Hierdie sleutel is net beskikbaar vir ʼn periode wat die eienaar op besluit sy kar deur ander gebruik kan word. Daar is ook semi-outonomiese tegnologie by die pakket gevoeg wat die kar toelaat om vir kort periodes vanself te ry, sowel as om van bane te verwissel wanneer dit veilig is om te doen. Alles sonder enige insette van die bestuurder. Maar, die bestuurder moet steeds ʼn ogie op alles hou en nie alle beheer aan die motor oorlaat nie.

mercedes-benz, A-Class
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Die nuwe A-Klas is ongetwyfeld ʼn baanbreker vir die Duitse vervaardiger en gaan beslis die kompetisie laat regop sit. In terme van die kar se ontwerp het Mercedes ʼn baie goeie werk gedoen om die motor vars te laat lyk, maar dis die binneruim en tegnologie wat die pale vorentoe skuif. Gegewe dat die A-Klas op ʼn jonger koper gemik is, maak die tegnologie wat ingespan word nou dat dit bo, of baie na aan die bo-punt, van meeste kopers in hierdie segment se lysie is. Ongelukkig was daar nie enige modelle met slegs die basiese toerusting beskikbaar nie, want dit sal interessant wees om te sien hoe die kleinste Merc homself sonder fieterjasies voorhou.

Die nuwe A-Klas sal gedurende 2018 se derde kwartaal plaaslik bekend gestel word, met pryse en modelreeks wat nader aan die tyd bevestig sal word.