Gideon Drotschie: ‘Dié sport is my lewe!’

Gideon drotschie,manskap,suid-afrika,efc,south africa,efc africa,efc worldwide,mma
Foto: Gideon Drotschie / EFC WorldWide

Sy familie het gelukkig geweet wat hulle op hierdie pad kon verwag, daarom vat hy die punches wat dié sport uitdeel vierkantig op die ken. So sê Gideon Drotschie, voormalige EFC lig-swaargewig kampioen, met sy regter arm wat sensitief langs sy lyf hang. Dis ook weer nóg ʼn besering wat hy in die kryt opgedoen het na sy laaste geveg. Hy het as wenner uit die stryd getreë, maar sy arm het die slegste daarvan afgekom.

“Dis nog niks,” sê Gideon, wat alom as die “Juggernaut” bekendstaan. “ʼn Paar gevegte terug het ek amper my oog verloor. As ek nie so gou by die dokter uitgekom het nie, sou my oog terug in my skedel geval het.”

My mond het oopgehang en Gideon sit met ʼn glimlag op sy gesig. Hy beduie met die gesonde hand waar ʼn plaatjie nou onder sy oog is. “Dis deel van die game,” skerts Gideon, maar ek moet eers ʼn oomblik neem om tot verhaal te kom alvorens ek met my vrae kan aangaan.

ʼn Kampioen

Gideon het sy lewe lank in die Kaapse Noordelike voorstede gewoon, maar is vir die laaste paar jaar in Tokai, Kaapstad waar hy en sy meisie, Audrey Bekker, hul eie gym, TakeDown MMA, bestuur. Gideon se gesig helder op en hy wys so met ʼn kopknik in haar rigting. “Sy is mos my manager ook. Haar vurk is vol hooi, maar elke dag maak sy seker dat ek die regte kos in die regte hoeveelhede inneem. Ek is bitter lief vir haar en as dit nie vir haar en haar ondersteuning was nie, sou ek nie die helfte van my suksesse proe nie.”

Audrey is eenkant besig met ʼn klas; duidelik tuis teen die kantlyn waar sy Gideon en hul studente tot hoër hoogtes aanspoor. “Ek dink soms dat ek sê nie genoeg hoe baie ek haar waardeer nie,” sê Gideon terwyl hy met ʼn glinster in sy oë na haar staar.

A post shared by Gideon Drotschie (@gdjuggernaut) on

Maar vir Gideon was rugby die primêre sport wat hy op skool beoefen het; tog was dit nie lank nie en neem hy die besluit om gemengde vegkuns (mixed martial arts) op te neem. En dit was duidelik dat hier ʼn spesiale talent in Gideon ontsluit gaan word.

Nes in enige ander sport is daar ʼn leer wat jy moet klim – range en ligas – maar Gideon het binne sy eerste paar gevegte gewys dat hy nie nog gaan hanna-hanna nie. Sy talent was raak gesien en na skaars vyf amateur gevegte word hy na die Pro-liga gepromofeer. Dadelik doen hy die Juggernaut-naam gestand en kort voor lank word hy deel van EFC (Extreme Fighting Championship) en word dié promosie se lig-swaargewig kampioen. Dit wil gedoen wees, maar soos dit in sport gaan kom ʼn verloor ook jou kant toe. Gideon het sy titel verloor en moes toe, nes al die ander in die sport, weer homself as ʼn aanspraakmaker op die kampionskap vestig.

Die geheim, natuurlik, is om so gou as moontlik weer in die kryt te kom en jouself te bewys én te wys dat jy dit nog het. “Dis makliker gesê as gedaan,” sê Gideon en hy knik stadig sy kop; die gedagtes maal in sy kop. In sy praat kan ek aflei dat in hierdie sport moet jy konstant on top of your game wees, anders sink jy soos ʼn klip in water. Maar gelukkig vir Gideon het hy die ondersteuning van sy meisie en familie.

“My familie was, en is steeds, baie opgewonde oor my besluit om MMA my loopbaan te maak, maar aan die anderkant is hulle bang. Hulle wil nie hê jy moet ʼn besering opdoen nie,” en hy lig sy arm met ʼn glimlag. Asof hy snaaks kry vir die ironie wat uit sy mond kom. Tog kan mens sien dat die arm net nóg ʼn hekkie is wat oorkom moet word – of hy nou wil of nie. Maar by TakeDown MMA is hy elke dag; besig om klas te gee, besig om sy studente tou wys te maak en hulle die tricks of the trade te leer. Hy ploeg terug; nie net in vreemdelinge nie, maar in sy broer ook…

Gideon drotschie,manskap,suid-afrika,efc,south africa,efc africa,efc worldwide,mma
Foto: Gideon Drotschie / EFC WorldWide

Broederband

Nes Gideon, het Hermie Drotschie ook rugby op skool gespeel, maar toe hy skool klaarmaak het hy saam met ouboet Gideon MMA klasse by Rico Hattingh geneem. Hermie het toe voltyds by die gym aangesluit en luister met oorgawe na wat aan hom oorgedra word.

“Ek weet my broer is ʼn taai outjie,” sê Gideon trots. “Hy’s goed en hy’s slim. Én hy is ywerig om te leer.” Gideon vertel met ʼn groot glimlag hoe Hermie ook vyf amateur gevegte gehad het en met vier oorwinnings weggestap het, asook ʼn kickboxing geveg wat hy gewen het. Dan lyk dit Gideon kan uit sy nate bars, want Hermie het sopas sy eerste profesionele geveg gehad! Gideon borrel wanneer hy verder van sy broer praat en dis duidelik dat die band wat hulle deel vir hom spesiaal is. Hulle is albei bekend met die gevare wat die sport inhou, maar dis iets wat hulle deel. Iets wat hulle saam kan doen. Natuurlik is hulle in verskillende fases van hul onderskeie loopbane, maar hulle vul mekaar aan.

Familie is vir Gideon belangrik en hy vertel hoe die ondersteuning van sy mense hom laat goed voel. Tog staar hulle hulself nie blind teen die feit dat die sport gevare inhou nie en wonder hulle ook wat hy gaan doen wanneer sy tyd in die ring verby is.

“My familie was baie opgewonde toe ek hulle van my MMA planne vertel, maar natuurlik is daar die groot vraag: hoe lank sal ek dit kan doen en is daar ʼn toekoms in MMA.” Gideon brei uit dat hy graag wil sien dat MMA groter sukses en aanklank in Suid-Afrika sal vind, en maan ook dat die sport nie dieselfde aansien as in Amerika geniet nie. Daar, sê hy, doen die mense dit vir ʼn lewe en word hulle betaal om dag in en dag uit in die gym te wees en te oefen. Hier by ons, alhoewel dit nie maklik is nie, is die kanse groter dat borge ʼn kampioen sal steun eerder as iemand met ʼn gesonde reputasie.

En omdat dit so moeilik gaan is dit een van die redes hoekom hy die gym het. Nie almal is daar vir baklei nie, maar die oefenmat is oop vir almal. Dit is sy droom om mense aan die sport wat hy liefhet bekend te stel en ʼn liefde vir dit te kweek; iets wat hy op ʼn daaglikse basis doen. En hy wil sien hoe mense ʼn potensiaal binne hulself bereik – nes Hermie.

Oor homself sê Gideon dat hierdie game sy lewe is en dat hy dit vir die res van sy lewe gaan doen. “Solank ek groei in myself, in my gym en in die mense rondom my kan sien, dan gaan ek tevrede wees.”

Besoek TakeDown MMA.