God se bediening vra alles

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Foto: Ricardo Rangoly Truphotography

Ek was bietjie meer as ‘n week in Humansdorp toe die grootheid van my taak werklik op my toesak. Ek besef hoe baie dit van ‘n mens vat om in diens van God te staan en die hoeveelheid energie wat ek aan die dag moet lê. Maar ek is nou die leraar van my eie gemeente. ‘n Gemeente en gemeenskap wat ek aan die hand moet vat en moet lei; terug na God toe. Terug na heling toe.

Dit was in my eerste paar weke dat ek besef hoe gebroke hierdie gemeente eintlik is. Hulle het ook hul seer – nes enige ander platteland of stedelike plek – maar hul seer is uniek. Hul seer het ‘n sagte hand en begrip nodig. Hier in hierdie gemeente is daar soveel seer, pyn en verwyt. Die gemeente het in twee geskeur. Mense het weg gebreek, en gesinne en verhoudings is daardeur geraak.

Die werk begin

Die realitieit van my taak het ingeskop. Die werk het begin. Mense se hardklop hoor ek. Die passie vir hierdie gemeente ervaar ek. Die opgewondenheid van ‘n nuwe predikant is besig om mense weer bymekaar te bring. Die koms van ‘n nuwe geestelike leier help daartoe om verhoudings weer te heel. Die wond van die gemeente is besig om gesond te word.

As leraar moet jy soveel mense geestelik voed. Soveel mense met verskillende behoeftes wat elke dag besoek moet word en met wie ‘n verhouding gebou moet word. Dit vat verskriklik baie van jou as mens om ‘n vreemdeling se steunpilaar te wees, maar dit kom nie naby die feit dat mense jou in hul vertroue neem nie. As geestelike leier moet jy die vertroue kan inboesem, want jy is die middelman tussen die gemeente en hul verhouding met God. Jy is verantwoordelik dat hulle ‘n verhouding met God begin en aan dit werk. Jy, as instrument van God, moet jou geloofwaardigheid behou en jy doen dit deur hul vertroue in jou.

Na ‘n dag se werk gaan jy huis toe; moeg, leeg, getap, opsoek na iets om weer jou fontein te vul. Maar jy berus jou daarby dat die grote Skepper jou krag vir ‘n nuwe dag sal gee.

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Foto: Ricardo Rangoly Truphotography

Persoonlike verhouding

Tussen die strate deur, van teerpad na grondpad, van huis tot huis. Lang en diep gesprekke met mense. Aan die einde van ‘n week, waar ek net kan besin oor wat was en om God te vra om my deur die nuwe week te dra, besef ek hoe baie energie die roeping verg. En kort voor lank is dit weer tyd vir Sondag se erediens. Tussendeur die besoeke moet daar vir Sondag se preek voorberei word en daar is net soveel tyd in ‘n dag. Hoe doen mens dit?

Gelukkig het ek dit al as jong dienaar besef dat jy kan nie alles op een slag doen nie. Mens moet jou dae en werksaamhede prioritiseer sodat jy steeds tyd het om aan jou verhouding met God te werk. Jou persoonlike verhouding met God is belangrik, want daardeur kan jy met die regte ingesteldheid jou dienaarspligte uitvoer.

Lees: Jong leraar oor sy eerste gemeente

Dit wat jy met jou verhouding met God en mense ervaar vorm grootliks jou boodskap vir Sondag se erediens. Ons is gemaak met ‘n doel. Ons is God se verteenwoordigers hier op aarde: Sy beelddraers, die omsieners van sy skepping. Dus, is dit belangrik dat ons ons roeping en rol in God se meesterplan verstaan, want Hy het ‘n doel met elkeen van ons.

Leraar van ‘n gemeente in die platteland… tog te wonderlik. Elke oggend word ek wakker met die gekraai van ‘n hoender en die gefluit van voëls. Dis ‘n wonderlike gevoel om die gordyne oop te trek, na die hemelruim te staar en dankbaar te wees vir die Here dat Hy nog ‘n dag tot my lewe gevoeg het. ‘n Dag om opnuut weer kind en instrument van God te wees.

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Humansdorp se strate. Foto: Gragory Jacobs