Hamilton geoormerk vir 5de titel

lewis hamilton,manskap,f1,formula 1,formule 1,singapore,singapoer,manskap
Foto: Verskaf

Of jy van hou of hom verpes, Lewis Hamilton is ongetwyfeld een van ons generasie se beste jaers – indien nie die beste nie. Sy vertoning die afgelope naweek in Singapoer was in ʼn ander klas en is hy feitlik reeds as 2018 se Formule 1 kampioen gekroon.

Dis braaf om sulke uitlatings te maak met nog ʼn volle ses renne oor van die seisoen, maar die manier hoe Hamilton homself op die baan dra is duisend maal beter as hoe sy teenstander, Sebastian Vettel van Ferrari, dit doen. Hamilton se Mercedes renmotor het nie dieselfde spoed as Vettel s’n nie, maar tog geniet die Ingelsman ʼn voorsprong van 40 punte oor die Duitser.

Beteken dit dan dat vanjaar se kampioenskap so te sê oor en verby is? Nee, glad nie. Maar Hamilton het nog nie ʼn voet verkeerd gesit om die teendeel te bewys nie.

Ongedwonge foute

Met die aanvang van die 2018 seisoen het dit vinnig duidelik geword dat Ferrari, vir die eerste keer sedert die hibried-era in 2014 begin het, ʼn motor het om die magtige Mercedes span te pootjie. Merc, wat sedert daardie jaar elke kampioenskap gewen het, is vanjaar op die agtervoet, maar in Hamilton se hande blyk daar nie enige sprake van ʼn agterstand te wees nie. Vettel, aan die anderkant, is in die beste motor, maar hy maak ongedwonge foute wat hom éérder as Hamilton op die agtervoet plaas.

Vettel het telkemale onder druk geswig – druk wat hy op homself geplaas het – in tye waar dit glad nie nodig was nie. In Frankryk, Azerbaijan, Duitsland, en Italië, om net ʼn paar te noem, het hy definitiewe wenne weggegooi en het Hamilton eenvoudig daarop geslaan om die seges syne te maak. Hamilton en sy spanbaas, Toto Wolff, is dit eens dat die Ferrari vanjaar se beste motor is, maar die geskiedenis het al bewys dat mens nie noodwendig die beste motor hoef te hê om te wen nie. Jaers soos Ayrton Senna, Alain Prost, Niki Lauda, en Michael Schumacher het kom wys dat ʼn koelkop óók renne en kampioenskappe kan wen en Hamilton kom bewys vanjaar daardie eintste punt.

Na afloop van die ren Sondag is Vettel nou ʼn volle 40 punte agter Hamilton na dié die wen geneem het, en is die taak nou vierkantig op Vettel se skouers om aan die einde van die jaar met die algehele louere weg te stap.

lewis hamilton,manskap,f1,formula 1,formule 1,singapore,singapoer,manskap
Lewis Hamilton na afloop van sy wen in Singapoer. Foto: Verskaf

Die groot ‘maar’

Daar is nog ses renne oor in vanjaar se kampioenskap en met 25 punte vir ʼn wen en 18 vir tweede plek is daar nog baie om voor te speel. Sou Vettel die oorblywende ses renne wen – wat nie onmoontlik is nie – en Hamilton kom in elk daarvan tweede, sal Vettel die kampioenskap met ʼn skamele twee punte wen. Dit sal een van die grootste terugveg pogings in die sport se geskiedenis wees, maar dan sal Vettel se spanmaat, Kimi Raikkonen, sy sokkies moet optrek om hom te ondersteun. In Valtteri Bottas het Hamilton ʼn spanmaat wat weet dat hy tweede viool speel, maar met die verskil dat Bottas daar is wanneer Hamilton hom nodig het.

Vettel en Hamilton is albei viermalige kampioene en is die stryd om te sien wie slegs die derde jaer in F1 geskiedenis gaan word om ook ʼn vyfmalige kampioen te wees. Vettel het die toerusting om daardie eer syne te maak, maar Hamilton se kalmte en vermoë om die beste uit sy pakket te kry mag dalk net die verskil tussen die twee wees. Ons is in vir ʼn grote!