Hardekwas BMW ʼn M in skaapsklere

BMW M240i M Performance
Foto: Warren Wilson

Meeste van ons, in ons grootword jare, het altyd gesê dat wanneer ons ʼn goeie werk en baie geld het, ons ʼn BMW sal aanskaf. Want hoekom nie? Ek bedoel, BMWs is bekend daarvoor om vinnig en dinamies te wees, sonder om ʼn mooi ontwerp en seks appèl prys te gee. En die BMW wat altyd navore kom as die een om te hê is die M3. Die byna goddelike M3 wat deesdae in dieselfde asem as die M4 genoem word. Maar, die M3/4 kos méér as R1-miljoen en is dit ver bo die vuurmaak-plek van baie verbruikers. Insluitend hierdie skrywer!

Die goeie nuus is dat BMW iets ʼn bietjie meer bekostigbaar het om aan te bied; iets met goeie verrigting en wat ʼn glimlag op jou gesig sal sit. Rol die dromme, asseblief, vir die BMW M240i M Performance!

R700k vir ʼn M

Die M240i MP gebruik dieselfde 3.0-liter ses-silinder enjin as die standaard M240i en ontwikkel steeds 250kW en 500Nm. So wat maak hierdie kar so spesiaal, dan? Wel, om mee te begin, nie veel nie. Met eerste kennisname lyk dit of BMW maar net ʼn paar goed uit sy M-drom gaan haal en op die kar geplak het. Goed soos ʼn rooi lip op die voorste buffer, koolstofvesel vir die kantspieëls en die agterste drukvlerk, en dan sy-skorte met ‘M Performance’ wat daarop geskryf is. Binnekant is dit maar standaard BMW met niks wat “Verrigtingskar!” skreeu nie. Mens kan seker sê dat jy bietjie meer as R700 000 vir niks betaal nie, maar sjoe… wat ʼn fout sal dit nie wees nie.

Skakel die kar aan en die enjin klap aan die brand met so ʼn lekker blaf. ʼn Diep, verslawende grom wat jou saam met die kar blûh-blûh-blûh sal laat sê op ʼn lekker koue oggend. En dis die beste tyd om dan die kar te ry, want dan is die paaie stil en die vars briesie van ʼn nuwe môre kruip deur die oop vensters. Jy sal skoons lus kry om “Morning has broken” oor die mediastelsel te speel. Wanneer die kar se vloeistowwe hul optimale temperature bereik het, dis dan wat die tyd reg is om hierdie BMW se potensiaal los te laat. Met die ritmodus in Sport of Sport+ (laasgenoemde is rof!), sal die enjin van sy beperkinge laat gaan, die versneller raak meer sensitief en die stuurgevoel so direk soos ʼn Mohammad Ali vuishou!

Nou is die kar lewendig, nou wil dit gery wees! Neem self beheeer oor die outomatiese ratkas en jaag die toere in die rooi in, verander ratte teen 7000rpm! ʼn Lawaai maak deur die hele kar sy opwagting wanneer elke volgende rat geselekteer word. Die M240i MP skiet vorentoe opsoek en wagtend vir die volgende rat om gehaak te word. Hierdie kar bly hardloop, volstoom, sonder einde!

Volgende rat, lawaai, skiet vorentoe! Gaan, BMW, gaan! Moenie nou stop nie! Rem! Die teer het opgeraak. Bliskem.

Gelukkige versneller

Soos die kar terugkeer na normaal en weg van die malligheid wat ʼn oomblik van te vore ontbloot was, is dit tyd om te sien of BMW die waarheid gepraat het oor die kar se 0-100km/h tyd. Skakel Sport+ aan en traksiebeheer skakel vanself af. Sit die ratkas in handrat-modus en klim op die remme; hard. Met die regtervoet op die versneller klim die ses-silinder enjin die toere uit en ʼn kennisgewing verskyn dat ‘launch control’ geaktiveer is. Nou word die remme gelos en die kar spring vorentoe met mening en in etlike sekondes is ons verby 100km/h. BMW sê dat hierdie kar dit in 4.6 sekondes kan doen, maar ons het dit net-net onder vyf gedoen!

O ja, die kar laat jou ook toe om sommer so staande ʼn tekkie te kook, maar met een band wat jou omtrent so R6000 uit die sak sal jaag… Ja, ons het nie gedink dat jy elk elke dag jou vriende sal wil vermaak nie.

Na ʼn week van belaglike pret met hierdie kar, is dit verfrissend om te besef dat daar nog premium motors is wat goeie verrigting teen ʼn fraksie van die prys bied. BMW het nie doekies omgedraai toe hulle hierdie kar aanmekaar gesit het nie en hoe dit hanteer herinner aan ʼn M3/4. Ja, dit het nie die verfyndheid en verrigting van sy groter boeties nie, maar ten minste kan mens nou ʼn M-BMW aanskaf sonder om ʼn bank te beroof.

Is die M240i M Performance genoeg verrigting wat mens ooit sal nodig kry? Genade, nee! Ek sal steeds vir die M3/4 gaan. Maar teen R700k is daar baie min sportskarre wat ʼn breukdeel van hierdie BMW se pret bied. En in daardie opsig, is dit genoeg.

7 Trackbacks / Pingbacks

  1. Afdak-aksie in ʼn afdak BMW | #AfrikaansePaartjie
  2. 2019
  3. cleantalkorg2.ru
  4. #macron #Lassalle
  5. a2019-2020
  6. facebook
  7. javsearch.mobi

Comments are closed.