Heitou! Toyota raak hups met ‘motorfiets’

Manskap,toyota,i-road,toyota i-road,electric car,personal mobility vehicle,pmv,
Foto: Toyota SA

Dis dalk nie jou konvensionele motorfiets nie, maar Toyota is dit eens dat sy nuwe i-Road die motor van die toekoms is. Beskikbaar in vyf baie helder kleure, is die i-Road een van Toyota se grootste stappe na ʼn vol elektriese toekoms.

Dis reg, die i-Road word nie deur ʼn petrol of diesel enjin aangedryf nie, maar eerder deur elektriese krag. Gmf, as daar ooit ʼn middelvinger vir stygende brandstofpryse was…

50km op ʼn tenk

Die i-Road was vir die eerste keer in 2013 by die Geneefse Motorskou as Toyota se Personal Mobility Vehicle (PMV) gewys en was dit oor die laaste paar jaar ontwikkel tot die pad-wettige voertuig wat ons vandag mee te doen het. Hierdie model is 2.34m lank en staan ʼn skamele 1.45m hoog. En dis maar net 870mm wyd! Om dit beter te stel: vier i-Roads kan in een parkering by jou naaste winkelsentrum pas!

Dis die tipe dimensies wat mens by ʼn motorfiets sal kry, maar met die verskil dat die i-Road toe is. Ongeag die weerstoestande, is jy binne hierdie een-sitplekker veilig en hoef jy nie ʼn valhelm te dra nie. En binne kan mens ook kies om verwarmers/lugversorging en ʼn klankstelsel met Bluetooth te installeer.

Twee elektriese motors (1.9kW elk) wat aan die voorwiele gekoppel is verskaf aan die i-Road sy krag en word dié motors deur ʼn lithium-ion battery gelaai. Toyota sê dat wanneer mens teen ʼn vaste spoed van 30km/h ry, kan jy ʼn reikafstand van 50km behaal. En neem dit net drie ure om jou i-Road by ʼn gewone muurskok te herlaai.

Alhoewel krag én stuur deur die voorwiele geskied, help die agterwiel ook om beweegbaarheid te vergemaklik.

En as jy gewonder het of die i-Road te koop is hier in Suid-Afrika? Wel, of dit hierheen kom of nie moet nog bevestig word, maar dit sal beslis bydra om drukverkeer te verlig.