Hersiene Nissan Qashqai nou in SA

nissan qashqai
Foto: Charlen Raymond

In 2007 het Nissan die eerste kruisvoertuig na die mark gebring; sy Qashqai. ʼn Wa wat eienskappe van ʼn SUV met dié van ʼn luikrug meng. En sedert dan tot aan die einde van 2017 het Nissan wêreldwys meer as 3.3 miljoen Qashqais verkoop. En dis vrek baie eenhede oor tien jaar. Die resep was eenvoudig: neem die twee voertuig tipes wat ʼn gunsteling onder kopers is en maak dit een. En die uiteinde hiervan was iets waarin kopers kon inkoop – en die groot verkoopsyfer is getuie daarvan.

So suksesvol was Nissan se waagstuk dat meer vervaardigers hierdie roete gevolg het en die mark vir kruisvoertuie het omtrent geswel. Amper alle vervaardigers het ʼn kruisvoertuig in sy modelreeks en alles het met die Qashqai begin.

Mooi ontwerp

Die 2018 Qashqai lyk glad nie sleg nie. Oor die uitgaande model lyk dit knapper en jonger, wat beslis help dat dit iets vir die oog is. Nie net het Nissan die sierrooster verander nie, maar ook die kopligte het nou ʼn boomerang ontwerp wat nege LED dagry-ligte huisves. Die voorste- en agterste buffers lyk ook baie anders as die vorige model sʼn. Alhoewel Qashqai se lengte met 17mm tot 4394mm vergroot het, het wydte (1806mm) en hoogte (1595mm) onveranderd gebly. En om die pakket mooi af te rond is daar ʼn seleksie van nuwe 17- en 19-duim allooi wiele.

Binne gaan die veranderinge aan en die instrumentepaneel is skoner en die opsies makliker om te lees. Soos te wagte kan wees, afhandend van die Qashqai model wat mens kies, sal Nissan die geriewe wat elke motor mee toegerus is aanpas. Modelle laer in die ranglys is beklee met lap bekleedsel vir die sitplekke en ʼn baie basiese stelsel vir media. Alhoewel mens jou selfoon via die Bluetooth en AUX kan konnekteer, is die stelsel net nie so lekker om te gebruik soos die een in duurder modelle nie. Hierdie modelle se sisteem het ʼn kleurskerm, het raak-tegnologie, satelliet navigasie, en dit weerspieël video van die tru-kamera. Die hele reeks het outomatiese vensters.

Laairuimte is ʼn goeie 430L, maar vergroot tot 680L wanneer mens die agterste sitplekke plat slaan. Die top model, die Tekna, is toegerus met ʼn sewe-luidspreker BOSE klankstelsel.

Enjins & ratkas

Twee enjins is beskikbaar, beide in petrol en diesel. Die petrol modelle word gedryf deur ʼn 1.2-liter turbo-aangejaagde enjin wat 85kW en 190Nm lewer. Hierdie enjin is gekoppel aan óf ʼn ses-spoed handratkas óf ʼn CVT outomatiese ratkas. Beide ratkaste was beskikbaar tydens die loodsing, maar slegs die handrat was onder hande geneem. In ʼn voertuig wat 1.8 ton weeg moes die klein enjintjie maar hard werk, maar was nie te versmaai op die pad nie. Selfs met opdraendes en die spoedbeheer op nasionale snelhede het die Qashqai minimale momentum verloor. Maar mens kan nie help om te wonder hoe die motor sal vaar met vyf passasiers en ʼn laaibak vol bagasie nie.

Die 1.5-liter diesel enjin is slegs beskikbaar met ʼn ses-sped handratkas. Danksy 81kW en lywige 260Nm het niks die Qashqai gestuit nie en het dit met mening die pad aangevat. Selfs in Jo’burg se irriterende middag-verkeer het die Qashqai gemaklik onder die linkervoet gevoel. Nissan seg dat hierdie diesel model so min as 4.2-liter/100km sal teug, en danksy die gladde dryfstelsel klink dit nie te vergesog nie. Maar om realisties te wees, mens kan verwag dat dieselverbruik tussen 5 en 6 liter sal wees.

Die suspensie is ook hersien en bied die voertuig beter absorbering oor ongelyke oppervlaktes. Klankobsorbering is ook verbeter.

Pryse:

R339 900 – 1.2 T Visia
R372 500 – 1.2 T Acenta
R390 900 – 1.2 T Acenta CVT
R404 500 – 1.2 T Acenta Plus CVT
R404 500 – 1.5 dCI Acenta
R417 900 – 1.5 dCI Acenta Plus
R445 500 – 1.5 dCI Tekna