Hibriede model vir Lexus IS

Lexus,lexus is,is,lexus is 300h,is 300h, hybrid,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Lexus is nie onbekend aan Suid-Afrikaners nie en is die produkte wat die vervaardiger die mark instoot bekend vir hul betroubaarheid en goeie bougehalte. Nie net dit nie, maar Lexus is ook aan die voorpunt wanneer dit by ‘groen voertuie’ kom; dus die besluit om die IS-reeks met ʼn hibriede model uit te brei.

Lexus is een van ʼn handjievol vervaardigers wat ʼn hibriede model in elk van sy modelreekse het en hierdie nuwe model sal beslis help dat dié Japanese vervaardiger een van die wêreld se voorste hibriede voertuig vervaardigers word.

Interessant genoeg, Lexus Suid-Afrika sê dat wêreldwyd het Toyota/Lexus sedert 1997 meer as 12 miljoen hibriede motors van die hand gesit toe die eerste Toyota Prius op die mark verskyn het. En in 2017 alleen het hulle oor die 1.5 miljoen hibriede voertuie verkoop. Dis belaglike syfers en kan mens dan verstaan hoekom Toyota Lexus 50% van die hibriede mark besit. Dit maak ook dan sin dat die vervaardiger hibriede modelle na ons mark bring.

Lexus,lexus is,is,lexus is 300h,is 300h, hybrid,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Sportiewe ontwerp

In 2013 het Lexus die eerste hibriede model tot die IS-reeks gevoeg, met klein veranderinge wat in 2016/7 aangebring was om die voertuig vars te hou. Nou, aan die einde van 2018, was die nuwe en hersiene model plaaslik bekendgestel en word dit deur ʼn 2.5-liter petrol enjin gedryf. Die nuwe model, die IS 300h, is slegs in SE spesifikasie beskikbaar en het dit ʼn sterk lys van standaard toerusting om daardie waarde vir geld proposisie te onderstreep.

Die IS 300h het dieselfde ontwerp as die res van die reeks, met slegs ʼn paar klein verskille om dit te onderskei. Daar is ʼn nuwe sierrooster wat soos ʼn uurglas na onder uitskiet en die diagonale stroke wat daaroor hardloop het ʼn 3D effek op dit. By die voorste buffer is die sy-inlate wyer gemaak en dagry LED-ligte is standaard onder die kopligte.

Daar is ook ʼn sondak, ʼn ‘moonroof’ aldus Lexus, wat standaard tot die pakket gevoeg is en die meganismes wat die oop en toemaak daarvan bewerkstellig is ook aangepas om stiller te werk. Die glas self help nou dat 96% minder skadelike UV strale die kar betree. Die agterste buffer is anders as die een wat in die ander modelle gebruik word en die uitlaatpype word ook nou mooi versteek. By petrol modelle (geen diesels sal aangebied word nie) kan mens duidelik sien waar die uitlaatpype sit en die ontwerp van dié buffer is ook anders.

Nege verfkleure is beskikbaar waaruit voornemende kopers kan kies, waarvan Black, Titanium en Grey die nuwe toevoegings is.

Lexus,lexus is,is,lexus is 300h,is 300h, hybrid,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Binneruim & Tegnologie

Die’s bekend met Lexus produkte sal sommer dadelik die uitleg van die binneruim verstaan en sal hul hande met gemak oor die knoppies en panele beweeg. Bo-op die middelkonsole is ʼn kleurskerm waarop alle relevante informasie gewys word en voor die bestuurder word bestuursinformasie weergegee.

Die plasing van die beheerknoppe is só opgestel dat dit verbruikersvriendelik is, maar die muis tussen die voorste sitplekke waarop mens jou vinger kan beweeg is baie sensitief. Hierdie benadering is anders as hoe die Duitsers dit doen, maar mens raak gewoont en gou bekend met hoe dit werk.

Die binneruim kan in ʼn verskeidenheid van leer opsies (Chateau, Nuance Black, Noble Black, en Black) geklee word en elke kleurskema maak dat die sitplekke en binnekant van die deure in daardie kleur gedek word. Die voorste sitplekke het beide verhitters en verkoelers in en kan elektronies verstel word. ʼn Geheue funksie vir dié sitplekke word ook standaard tot die pakket gevoeg.

In terme van tegnologie kom die IS 300h standaard met Lexus se Safety System, asook ʼn rits tegnologieë wat pre-collision warning, adaptive cruise control, lane departure alert, automatic high beam, en blind spot monitor insluit. Die kar het geen spaarwiel nie, maar ry op 17-duim run-flat bande om die battery wat in die kattebak is te akkommodeer.

Lexus,lexus is,is,lexus is 300h,is 300h, hybrid,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Hibriede dryfstelsel

Die petrol enjin lewer 133kW en 221Nm, maar wanneer die elektriese battery inskop styg die kragsyfer tot 164kW. Wringkrag bly onveranderd. ʼn Agt-spoed outomatiese ratkas stuur krag na die agterwiele.

Vir die kar om in EV (electric vehicle) modus te ry moet daar genoegsame krag in die battery wees. Hierdie modus werk bes wanneer in verkeer sit of wanneer die motor teen ʼn slakkepas beweeg en die versneller nie té diep getrap word nie; anders skakel die kar oor na normale (lees: petrol) modus oor. In EV modus maak die kar byna geen geluid nie en is dit amper grafstil. Ten minste weet jy dan dat jy jou deeltjie doen om an die Aarde om te sien, want Lexus voer aan dat jy so min as 5.0 L/100km kan verbruik.

Die ritmodusse – Eco, Normal, Sport – word met die draai van ʼn knop geaktiveer en pas dan die motor se dryfstelsel daarvolgens aan.

Stuurgevoel is lekker wanneer mens rustig voort ploeter, maar voel vaag en dood wanneer mens teen spoed om draai sweef. Tog kan mens nie anders as om te voel hoe verseker en standvastig die onderstel is nie. Die gevoel van agter die stuur is dat die IS 300h hom goed van sy taak kwyt om van die res van die reeks uit te staan, en apart van ʼn bietjie windgeraas by die agterste vensters is die binneruim ook lekker stil.

Slotsom

Die Lexis IS 300h verkoop vir R753 800 en het dit alles en meer wat jy van ʼn premium vervaardiger sal verwag. Vir die meerderheid van kere is die kar beter toegerus as sy Duitse teenstanders en is die enigste opsie wat jy kán kies basies die kleur wat jy jou IS 300h in wil hê.

Dis raar vir ʼn premium vervaardiger om jou so ʼn omvattende pakket aan te bied dat jy amper moet twee keer kyk om seker te maak jy word nie vir ʼn grap gevat nie. Maar jy word nie en kom die motor ook standaard met ʼn sewe-jaar/105 000km waarborg en vol onderhoudsplan wat, volgens Lexus, die beste in sy klas is.

Lexus,lexus is,is,lexus is 300h,is 300h, hybrid,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond