Hoë passe en ʼn meermin in die Klein Karoo

renault kwid,kwid,climber,renault kwid climber,swartberg pas,manskap,suid-afrika,klein karoo,south africa
Foto: Charlen Raymond

Die Kango Grotte was een groot ervaring wat jou mond oop laat hang het, maar ons planne vir die Klein Karoo is nog lank nie verby nie. Sweterig (okay, net ek was sweterig) stap ons met bewerige bene na die Renault Kwid Climber toe, asems steeds redelik vlak, en ʼn gelag wat deur ons brandende borste breek. Jy kan nie glo dat net ʼn paar oomblikke gelede was jy diep onder die grond, diep in die donker dieptes van die grot nie. Dis mal!

Skakel die kar aan en beweeg teen die steilte af; ons volgende missie lê en wag: die Swartberg Pas. Hierdie stukkie pad lê tussen die Kongo Grotte en Prince Albert, maar die nonsens is dat dit grondpad is. En sommer van die begin af weet ek dat die kleine Kwid hare op sy tande sal hê om anderkant uit te kom, maar ek het nie geweet dat ek die petrol met hair growth pille moes vervang nie…

Swartberg Pas

Dis skaars 5km weg van die Kango Grotte af, rigting Oudtshoorn, dat mens moet regs draai vir die pas. Dis ʼn mooi stukkie teerpad wat jy ry, wat kronkel en draai soos jy al hoër klim. En dan kom die grondpad. Aan die begin lyk dit nie sleg nie, maar etlike meters in besef jy dat dit glad nie soos jou Sondagmiddag ry teen die see gaan wees nie. Groot klippe steek uit die grond uit, fyn klippies en los sand sorg vir min greep, en in die tussentyd moet die Kwid Climber… wel, hy moet klim.

Die dun lug het ʼn ernstige impak op die kar se 1.0-liter enjin en die drie silinders moet hard werk om enige verrigting teen die steiltes te bied. Ons kruip voort teen so 20km/h. Mens wil nie hier vinnig ry nie, want die 13-duim bande kan iets oorkom, en as dit iets oorkom sal jy nie kan bel vir om jou te kom red nie. Die hele tyd is dit ʼn gedans tussen die eerste twee ratte net om oor die voordeel lyn te kom, maar die Kwid roep nie halt nie. By tye klink dit of die karretjie nie genoeg in die tenk het om aan te gaan nie, maar opgee, lyk dit, is nie in hierdie Fransman se woordeskat nie. Og, maar hierdie pas is mooi! Die natuurskoon om jou, die vlaktes wat uitgestrek lê. Jy wens dat jy ʼn ryding gehad wat die pas kon hanteer, sodat jy ook net ʼn oomblik kon neem om rond te kyk.

Dan sien jy die bordjie wat wys dat jy die hoogste punt van die pas bereik het. ʼn Hele 1 500m bo seevlak. Dis nie hoog as mens dit met ander passe vergelyk nie, maar daar is ʼn saligheid wat oor jou spoel wanneer jy daar bo staan. En, soos dit goeie toeriste betaam, het ek en my broer kaal bo-lyf op die piek gaan staan. Goeie idee? Wel, aanvanklik was dit, maar feitlik daardie einste oomblik het ons besef dat die wind waai die koue van die omliggende bergreeks in ons rigting. Hier bibber jy jouself dood vandag! Blykbaar is die mooiste gedeelte van die pas aan die anderkant van die berg, soos jy Prince Albert afsak, maar ek wou nie die klein Kwid nog uitmergel nie. Die arme ding het mos darem nie nodig om só te suffer nie.

renault kwid,kwid,climber,renault kwid climber,swartberg pas,manskap,suid-afrika,klein karoo,south africa
Foto: Charlen Raymond

Meermin?! Waar?

Op die laaste dag van ons besoek aan die Klein Karoo besluit ons om eers na die Meiringspoort Waterval te gaan en dan weer terug te kom vir die pad huis. Dis nou wel in die teenoorgestelde rigting tussen De Rust en Prince Albert, maar mens kan mos darem nie in die area wil wees en nie een van sy skatte besoek nie. Mense… die Meiringspoort Pas is besonders mooi. As dit binne jou vermoë is om dit te doen en jy kan, besoek die Klein Karoo – al is dit net hiervoor.

Jy ry letterlik tussen die klowe, die berge vorm amper ʼn sambreel om jou voertuig; asof jy beskerm en ingesluk word deur die majesteit van dit alles. Die son wat oor die pieke breek, die skadu’s wat ʼn rustigheid oor jou laat spoel. Hier wil jy nie vinnig ry nie, want die oomblik moet aanhou. Die ervaring moet via jou oë in jou brein gegrafeer word. Jy weet sommer dat woorde dít wat jy nou sien, nie gestand sal doen nie. Dan, amper so onverwags, spring die waterval voor jou in. Trek af, parkeer die kar, en stap dan die paar meter tot by die attraksie. NB: toegang gratis.

LEES: Tog deur die Klein Karoo: Kango Grotte

Goeie, goeie bliksem. Wat ʼn gesig! Water, oral! Die gedruis van klein plasse water, water wat teen die rotse klots, en die oordonderende klank van die waterval wat jou nader roep. Ek sweer dit moes Eden wees, maar nie Adam óf Eva het ʼn vyeblaar agtergelaat nie. Die water is ysig koud, maar my broer, die ewige avonturier wat hy is, sien dit as nodig om in die groot poel te swem. Hy dink nog hy is in die water, maar toe is hy alreeds weer uit! Blou lippe, knieëwat teen mekaar klap en in die holte van die berg weergalm.

Daar is ook die storie wat loop dat daar, by die Meiringspoort Waterval, ʼn meermin is. Én dat sy baie mooi is. Maar, as jy té naby aan haar poel kom óf haar pla, dan raak sy omtrent van haar kop af en kan sy jou lelike skade aandoen. Gelukkig vir ons het sy op die dag dat ons daar was, besluit om haar sussie aan die einde van die rivier te gaan besoek. Ek sweer sy sou my broer in ʼn meerman verander het, net omdat hy die koue water trotseer het. En as sy so mal is soos wat die legende sê, dan het sy seker ook gedink hy swem om by haar te wees.

renault kwid,kwid,climber,renault kwid climber,meiringspoort, meiringspoort waterval,manskap,suid-afrika,klein karoo,south africa
Foto: Charlen Raymond

En die Kwid?

Aan die einde van dit alles en terug by die huis, val dit by my dat die kleine Kwid Climber nogal nie sy vlaggie laat sak het nie. Ja, afwerking is goedkoop en die enjin raas en dit sweef oor die pad met daai dun wieletjies wanneer die wind waai, maar dit het ons tot by al ons bestemmings gebring en terug huis toe. Die media stelsel met sy ingeboude satelliet navigasie het soos ‘n bom gewerk en ons kon al ons musiek luister, vanaf enige koordlose toestel.

By tye moes mens hard trap om enige verrigting uit die kar te kry, maar ons is deur die straights en oor die heuwels na waar ons wil wees. Ek sal nie sommer weer hierdie kar vir ‘n langpad trippie wil gebruik nie, maar dit kry darem ‘n kopknik in die regte rigting. Dis nogal nie so ‘n slegte kar soos ons dit uitmaak om te wees nie. Dalk is dit omdat ek en die Climber al twee keer kennis gemaak het en ek dit half “verstaan”, maar die feit bly staan dat die Renault Kwid Climber my en my mense geneem het tot waar ons wil wees. Maar asb, Renault, hierdie karretjie kort breër tekkies!

LEES: Populêre Kwid kry nuwe baadjie

renault kwid,kwid,climber,renault kwid climber,swartberg pas,manskap,suid-afrika,klein karoo,south africa
Foto: Charlen Raymond