Hoekom Ronaldo móés aanbeweeg

christiano ronaldo,ronaldo,cr7,manskap,soccer,sokker,real madrid,juventus
Foto: Verskaf

Christiano Ronaldo is ongetwyfeld een van sokker se beste spelers, maar hierdie legende moes noodgedwonge van Real Madrid afstand doen. Die 33-jarige CR7 (ʼn verwysing na sy naam, van en nommer) was vir die laaste dekade by die Spaanse span en al het hy van krag tot krag gegaan, was daar ʼn groot swaard wat oor sy kop gehang het: sy ouderdom.

Tydens sy Manchester United dae het Ronaldo die wêreld se oë op hom gehad en op 24-jarige ouderdom het hy na Real Madrid beweeg. Daardie tyd was sy oordrag koste €94m (±R1.46bn), en het hy sy ding by sy nuwe span gedoen. Aan die begin was dit ʼn bietjie voel-voel soos hy sy voete vind, maar toe hy eers gemaklik is was daar geen keer aan hom nie. Maar CR7 bly mos nie vir altyd die jongman wat hy eens was nie en in 2016, so om en by die tyd dat hy 30 is, het Real Madrid dit bekend gemaak dat Ronaldo te koop is.

Die belangstelling in Ronaldo was daar, maar op die einde van die dag het die klub én hy besluit om hul vennootskap tot 2021 te verleng. En skielik, drie jaar voor die nuwe verlenging tot ʼn einde kom, kondig Real Madrid aan dat Ronaldo vir die volgende vier jaar vir Juventus gaan speel. Die oordrag koste? Ag, net so €100m (±R1.55bn)!

Rede vir skuif

Ronaldo se skuif na ʼn ander span is nie omdat hy agter geld aan is nie, maar eerder omdat hy ongelukkigheid by Real Madrid ervaar het. Die atmosfeer tussen hom, die span en afrigters is baie goed, maar hy is ongelukkig met die manier met die klub se president, Florentino Perez, se gesindheid teenoor hom.

Perez is baie bewus van sy én sy klub se beeld wat na buite gestuur word en dit blyk te wees dat CR7 nie meer in daardie beeld pas nie. Vroeër hierdie jaar was Ronaldo vir vyf wedstryde geskors, en die klub het nie méér gedoen om die skorsing te vereffen of te betwis nie. Verder het dit ook aan die lig gekom dat die hoë koppe by die klub herstruktureringsplanne opgestel het wat nie vir Ronaldo insluit nie. En hy is ʼn speler wat, na nege seisoene, 450 doele vir Real Madrid geskiet het, vier Champions League titels gewen het, en vier Ballon d’Or toekennings gewen het.

In 2016, toe Real Madrid hul intensies om van Ronaldo ontslae te raak bekend maak, het die speler in daardie jaar 21 doele in die seisoen se laaste 19 wedstryde geskop. Hy het Real Madrid tot hul 11de Europese Beker gelei, en ʼn maand later het hy sy tuisland, Portugal, tot hul eerste groot trofee as kampioene van die Euro 2016 gelei. Sedertdien het Ronaldo harder as enige ander speler in sy klub, dalk selfs globaal, gewerk om topfiks te bly, nét sodat hy nie die knie voor sy ouderdom moet buig nie. CR7 het harder as ooit gewerk en dit het net sy waarde as speler verhoog, tot op die punt dat niemand hom kon bekostig nie.

Tot nou toe…

Juventus wys beursie

Juventus is nie op dieselfde vlak as Real Madrid nie, maar hulle doen goed in hul liga – Serie A. Real Madrid kompeteer in La Liga, ʼn vlak bo Serie A. So om te dink dat Ronaldo Juventus toe gaan vir die geld sal ʼn fout wees, want hy sal nie dieselfde bonusse kry as wat hy by Real Madrid sou kry nie. Maar Juventus was bereid om die aanbod op Ronaldo te beantwoord, en Ronaldo was, en is, gereed om die skuif te maak. Sommige sal dalk sê dat Ronaldo Juventus toe gaan om sy aftrede te betreë, maar Ronaldo speel op die oomblik van die beste sokker van sy loopbaan. Hy wil bewys dat hy dit nog het om op die hoogste vlak te kan kompeteer. Hy gaan nie Juventus toe om af te skaal nie.

Die skuif Juventus toe is een van die grootste transaksie in sokker se geskiedenis en Ronaldo sal, soos altyd, die skuif laat werk. Juventus het diep in hul sakke gegrawe om die ervaring, talent en dienste van Ronaldo te bekom in ʼn poging om ʼn reuse sprong vorentoe te maak. Hulle rol die dobbelstene in die hoop dat Ronaldo sal aanpas sonder dat daar té veel aan die span gekarring word.

Vir Ronaldo is dit ook sy grootste tree in die onbekende en verlaat hy ʼn liga en klub wat hy sy eie gemaak het. Daar is nie meer baie jare oor vir Ronaldo om nog te speel nie, maar daar is ook nie ʼn manier dat hy agteroor gaan sit en sy aftrede met ope arms gaan verwelkom nie. Hy gaan speel tot hy nie meer kan nie en selfs dan sal hy dit ontken.

Juventus is in vir ʼn groot verrassing.