Hyundai Grand i10 is klein, maar getrain

Hyundai Grand i10
Foto: Charlen Raymond

Karre is duur deesdae. Wag, kom ek skryf dit weer: karre is duur deesdae! En ongelukkig is dit die realiteit waarmee ons as publiek worstel. Nie net raak die pryse kan nuwe motors alhoemeer buite bereik van Jan Alleman nie, maar dis ook die lewenskoste wat by die maand ‘n trappie of twee hoër klim. En ons moet daarmee vrede maak, want daar gaan nie sommer in die nabye toekoms iets gebeur wat die vooruitsigte meer bekostigbaar gaan maak nie. Wel, tensy jy in Bitcoin belê het. Ek hoor dis die geldeenheid van die toekoms. Maar genoeg oor die ekonomie; ek is nie ‘n ekonoom nie.

Mens kry ook nie meer deesdae karre wat jou die waarde vir geld bied wat jy dink jy behoort te geniet nie. Óf vervaardigers gee jou net genoeg skietgoed om jou te lok, óf hulle lok jou met ‘n naam en smeer dan ‘n elle lange lys van bykomstighede aan jou af. Dis wynig dat jy ‘n motor sal kry wat jou alles gee sonder dat jy nog ietsie ekstra moet bykoop. Neem nou maar die Hyundai Grand i10, byvoorbeeld. Dis ‘n klein stadskar met ‘n enjin weinig groter as ‘n leeu se oopgerekte bek. Maar dis een van daai karre wat onder die ‘wynig’ kategorie val.

Dit bied nie baie nie, maar dit bied genoeg om sy posisie te staaf.

Nou toe nou!

So van buite gesien is die klein Hyundai maar aan die klein kant. Kort afmetings reg rondom, wiele wat amper aan die uithoeke van die kar se lyfie kou, ‘n lae dak wat dog hoog sit, en ‘n bakgat ontwerp wat mens se belangstelling prikkel. Dis glad nie groot nie, hierdie Grand i10, maar dit lyk mos darem of dit aan die stadslewe se vereistes voldoen.

Binne is dan natuurlik waar die oë begin rek. Nie oor wat nie, maar omdat die kar eintlik goed toegerus is vir iets net-net oor die R200 000. Geprys tussen R149 900 – R203 900 vir die Grand i10 reeks (R202 900 vir hierdie 1.25 Fluid), bied die hele reeks heelwat truuks om aandag te trek. Ja, die sitplekke wel lap bekleedsel, maar dit bied genoegsame ondersteuning oor lang of kort afstande. Die kantspieëls word elektronies verstel en alle vensters word ook elektronies op- en afgerol.

Mens kan jou selfoon via Bluetooth konnekteer, óf sommer met die AUX konnekteer. En die klank is glad nie sleg nie: dis duidelik en speel hard genoeg as jy jou innerlike tiener navore wil bring. En daar is beheerknoppe op die stuurwiel waarmee mens die volume kan verstel en die volgende liedjie of radiostasie kan oproep. O ja, en daar is ‘n ritrekenaar wat alle nodige informasie vir jou vertoon.

Die mediastelsel is wel baie basies, maar dit is heel gepas vir die Grand i10. As Hyundai dit moes toerus met ‘n raakskerm, sou dit die motortjie se prys ook opstoot. Maar soos dit tans staan is daar nie baie motors in hierdie segment wat soveel gerief bied as die Grand i10 nie. Daar is wel groter stadskarre teen dieselfde prys beskikbaar, maar hulle skiet bietjie te kort wanneer dit by die geriewe kom.

Wonderlike enjintjie

Hierdie Grand i10 word aangevuur deur ‘n klein 1.25-liter petrol enjin en kragvlakke staan op 64kW/120Nm. Dit is nie baie nie, maar gegewe dat die kar ‘n skamele 1051kg weeg, kan mens nogal verras word deur die verrigting. Dit is natuurlik nie ‘n sportskar nie, maar dit is goeie kar vir die stad. Mens raak letterlik nie moeg van hierdie kar ry nie. As jy aan groot karre met sterk enjins gewoont is, dan is die Grand i10 ‘n goeie herinnering dat groot nie noodwendig beter of méér pret beteken nie. Die enjin betrek jou met sy ywerigheid om te wil doen. Dit beïndruk met sy vermoë om lekker die toere uit te klim en sonder (baie) moeite van robot to robot te skiet.

Vir diegene wat ‘n bietjie drama van hul motortjies soek, kan die Grand i10 nogal sy man staan. Nie met spoed nie, maar met ‘n speelse stuurgevoel wat die kar amper soos ‘n veer laat voel. Stuurgevoel is nooit swaar nie, maar huts jou eerder aan om die karretjie deur ‘n draai te looi. Dis mos nou vir jou ‘n lekker kar!