Hyundai slaan raak met Kona 1.0T

Manskap,hyundai,kona,hyundai kona,cape town,strand,
Foto: Charlen Raymond

Laat 2018 het Hyundai Suid-Afrika sy plaaslike arsenaal met die nuwe Kona kruisvoertuig uitgebrei. Dié nuwe model is die kleinste SUV in die Koreaanse vervaardiger se portefeulje en skuif dit onder die beproefde Creta in. Maar anders as die Creta is die Kona laer aan die grond en sy kleinste enjin ʼn 1.0-liter turbo.

En dit was dan ook hierdie einste model wat die tonge laat klap het, want uiteindelik speel Hyundai nou ook die game waar vervaardigers kyk wie die kleinste enjin navore kan bring. Iets wat ek met die Kona wou doen was om dit teen die Peugeot 3008 te sit, maar dié se 1.2-liter weergawe. Beide motors het drie-silinder enjins en op prys is hulle feitlik identies, maar Peugeot het nie een vir ʼn uitkloptoets beskikbaar gehad nie.

Nietemin, die Kona kom maak sy verskyning en kon ons dan genoeg aandag aan hierdie nuweling skenk. Maar die vraag wat gevra moet word is of die Kona in Hyundai se arsenaal werk, en of dit maar net ʼn bemarkingsfoefie is om handtekeninge te lok.

Manskap,hyundai,kona,hyundai kona,cape town,strand,
Foto: Charlen Raymond

Lekker van buite

Twee modelle maak die Kona-reeks uit – hierdie 1.0-liter turbo en ʼn 2.0-liter model – en albei is met Hyundai se Executive pakket toegerus, so mens kan verseker wees van ʼn paar bykomstighede om die voertuig se aansien te lig. Deels van wat die aandag op die Kona sal vestig is die motor se ontwerp. Dit moet sekerlik een van die mooiste motors in Hyundai se stal wees. Sommige sal miskien nie daarmee saamstem nie en eerder ʼn motor verkies wat in die skare verdwyn, maar die Kona staan uit.

Die innemende sierrooster, die dubbel-misligte wat onder op die voorste buffer én langs die sierrooster gevind kan word, die klein opening bo die wapen wat knoes tussen die hoofligte sit… En dis daai hoofligte wat juis so die aandag trek! Skerp, vaartbelyn… daar is dinamika omtrent dit en is daar nie baie voertuie in die Suid-Afrikaanse motormark wat met so ʼn ontwerp kan spog nie. Veral nie op ʼn motor wat onder R400 000 kos nie.

Die Kona het verder 17-duim wiele wat die wielboë mooi volstaan en ʼn kompakte ontwerp wat sportief voorkom. Na my mening behoort die Kona net in een kleur beskikbaar te wees, daai lemmetjie groen, maar die rooi wat ons toetskar in getooi was kom gelukkig nie té versmaai voor nie.

Leer-lap kombinasie

Die Kona is verbasend ruim binne, maar passasiers agter mag dalk net voel of die motor ʼn bietjie aan die knap kant is. Met die bestuurder se sitplek in die ideale posisie vir my 1.86m lange lyf, is daar basies net genoeg ruimte vir ʼn tiener wat vergeet het om oor die jare sy pap te eet. Dit is ʼn bietjie van ʼn kwelpunt en sal families wat na hierdie voertuig kyk dit ingedagte moet hou.

Maar die sitplekke, wat in beide leer en lap oorgetrek is, bied genoegsame ondersteuning en moet mens dit met die hand verstel in jou gekose posisie. Om die instrumentepaneel en die rathefboom is daar insetsel in dieselfde kleur as die bakwerk. Dit dra beslis tot die Kona se speelse, jeugdige houding by en word selfs die sitplekgordel in daardie kleur afgewerk. Dit werk net en behoort dit ʼn groot trekpleister te wees.

Laairuimte word as 361L aangegee, maar vergroot wanneer mens die agterste sitplekke laat sak.

Manskap,hyundai,kona,hyundai kona,cape town,strand,
Foto: Charlen Raymond

Raakskerm?

As Hyundai die Kona as ʼn jeugdige proposisie bemark, gegewe die ontwerp en die helder kleure, dan moet hulle mos sekerlik ʼn mediastelsel installeer wat daarop sinspeel. Dan nie? Wel, nie in die Kona se geval nie. Alhoewel die mediastelsel al jou musiektoebehore kan speel en jou foon maklik met die Bluetooth kan konnekteer, is die sentraal gemonteerde raakskerm nie in volkleur beskikbaar nie. Nog minder is daar satelliet navigasie.

ʼn Tru-kamera, spoedbeheer en elektriese vensters maak deel van die pakket uit, maar mens kan nie help om te wonder hoekom daar nie genoegsame voorsiening vir hierdie tipe koper gemaak is nie.

Maar hokaai nou, moenie aanneem dat dit afbreek aan die Kona se algehele gevoel doen nie, want dit is nie die geval nie. Alles werk goed saam en vind mens se vingers instinktief die regte knoppies. En dis wat belangrik is: dat die binneruim jou nie moet vervreem nie. Sou Hyundai besluit het om die Kona van ʼn moderner raakskerm te voorsien, sou dit ongetwyfeld die prys opgestoot het en dit dalk in ʼn ander segment laat beland het. Dalk selfs in die geselskap waarin die Creta diens doen.

Manskap,hyundai,kona,hyundai kona,cape town,strand,
Foto: Charlen Raymond

Genoegsame krag

Voor in die Kona se neus is ʼn 1.0-liter drie-silinder enjin. Yes, drie-silinders. Mens sou ook dink dat die enjin swaar sou trek om hierdie wa rond te sleep, maar verbasend doen dit nogal nie. Die Kona weeg ʼn skamele 1233kg en is dit nie moeilik vir die 88kW en 172Nm om hul werk te doen nie. Sit jou voet neer en daar is ʼn reaksie van die enjin af. Die ses-spoed handratkas skakel egalig oor en neem dit nie lank vir die motor om die gekose spoed te bereik nie.

Die Kona trek slegs deur sy voorwiele en kry die bestuurder genoegsame terugvoering vanaf die wiele om die kruisvoertuig se padgedrag te kan bepaal.

Slotsom

Die Kona is soos ʼn briesie vars lug in Hyundai se plaaslike produktelys en is dit moeilik om dit mis te kyk. Letterlik. Die ontwerp is innemend en hups, terwyl die enjin die kar se nuwerwetse uitkyk oor die lewe ondersteun. Nie almal sal van dit hou nie, maar dis nie te betwyfel dat die ontwerp dit gewild maak nie.

Met alles wat in berekening gebring word is die Kona eintlik ʼn baie aangename voertuig wat in vele opsigte aan jou vereistes voldoen. Die verrigting is nie vinnig nie en die tegnologieë is nie die klasleidend nie, maar dit is genoeg. En die persoon wat weet wat belangrik in die lewe is sal hierdie Kona waardeer.

Prys: R379 900

Manskap,hyundai,kona,hyundai kona,cape town,strand,
Foto: Charlen Raymond