Isuzu mu-X nét reg vir lang vakansies

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Desember is mos ʼn tyd vir see, familie en kuier. En daarmee saam is dit lang ritte wat onderneem word om by jou bestemming uit te kom. En saam met jou is dit Ouma en Oupa en auntie en meisie en broer en ma. Sommige families se uiteensetting lyk anders, maar dis baie keer oor Desember die geval dat jy ʼn motor vol mense het wat ook wil saam ry. Hoe dan gemaak as jy almal plus die wasbak moet karwei?

Dis dan dat jy iets soos die Isuzu mu-X nader hark om in daardie behoeftes te voorsien. Dis groot, hoog, met baie ruimte, en het ʼn enjin wat enige heuwel maklik kaf sal draf. Oor die afgelope Desember vakansie was ons bevoorreg om juis die mu-X 4×4 op ʼn verlengde toets te hê en kon mens behoorlik sien waartoe dié SUV instaat is.

So na afloop van 4000km, wat het ons wys kom word?

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Praktiese sy

Een van die Isuzu mu-X se sterkpunte is dat dit ʼn oormaat ruimte het. Spasie vir ʼn (sewes) rugbyspan. Klim in en die insittendes het oorgenoeg ruimte om gemaklik te sit. Niemand is in mekaar se pad nie en is daar ook genoeg been- en kopruimte. Dit voel kompleet soos ʼn skip, hierdie mu-X, maar dis ʼn goeie ding want wie het nou lus om te voel of jy vasgedruk word.

Sou dit gebeur dat mens meer as vyf passasiers moet vervoer, is daar ʼn ekstra twee sitplekke wat in die kattebak se vloer versteek is. Die opstel daarvan is ook bitter maklik: trek dit net op met behulp van die toutjies en daar gaan jy. Wanneer dié sitplekke nie in gebruik is nie en in die vloer versteek is, het jy ʼn laairuim van 617L. Slaan die tweede ry sitplekke ook plat en die laairuim vergroot dat mens groter objekte kan laai en vervoer. Die deur na die laairuim maak net nie lekker hoog genoeg oop nie, maar jy kry darem alles in.

Die mu-X kom ook standaard met ʼn sleepstang, so daar is nie enige bekommernis oor hoe jy jou waentjie of boot by jou bestemming gaan kry nie.

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Vars binneruim

Die Isuzu mu-X is die opvolger van die Chevrolet Trailblazer; ʼn SUV wat ook op die Isuzu KB geskoei is (laasgenoemde staan deesdae as die D-Max bekend). Die ontwerp van die mu-X herinner sterk aan die Trailblazer, maar dis aan die binnekant dat daar heelwat veranderinge aangebring is. Ja, daar is tegnologieë wat nie van die Trailblazer af oorgedra is nie (soos blindekol gonsers), maar dit doen nie veel om van die binneruim af weg te neem nie.

Hierdie mu-X 4×4 is met leer sitplekke toegerus en die bestuurder se sitplek kan elektronies verstel word. Daar is lugversorging en insittendes agter het hul eie lugreëling; wat voor by die bestuurder geaktiveer word. Sleutellose toegang en –aanskakel is ook deel van die pakket.

Nuwighede wat tot die pakket gevoeg is sluit in ʼn middelkonsole wat hersien is, meer stoorplekke, ʼn instrumentepaneel wat makliker lees, en elektriese vensters reg rondom. Mens kan ook die SUV sluit deur ʼn knop op die bestuurder se deur te druk, óf ʼn knop agter by die agterste deur.

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Isuzu SA

ʼn Nie-so-lekker

Die mu-X word deur dieselfde enjin wat in die Isuzu D-Max diens doen, aangevuur. ʼn 3.0-liter vier-silinder enjin lewer 130kW en 380Nm se wringkrag, maar laasgenoemde is aansienlik laer as wat die kompetisie bied. Wat opvallend oor die laaste tyd was was hoe swaar die mu-X 4×4 op diesel was. Ongeag of dit ʼn 4×4 is, dieselverbruik was skokkend, om die minste te sê. Verbruik het by die 12 liter/100km gedraai, al sou mens so ligvoet as moontlik ry.

Isuzu het wel ʼn ses-spoed outomatiese ratkas ingespan, maar dit het nie veel gedoen om die saak te verbeter nie.

Lees: Nuwe naam, stééds die geharde ‘KB’

Die vierwiel-stelsel werk baie goed – dit moet mens vir Isuzu gee – en kan jy die stelsel sommer in die ry aktiveer. Tot en met ʼn spoed van 100km/h kan mens die die draaiknop tussen die voorste sitplekke uit 2H tot 4H draai. Die stelsel sal dan binne sekondes krag na al vier wiele stuur. Maar wanneer dinge uiteraand die Real McCoy vereis, moet jy heeltemal stilstaan, die ratkas in neutraal sit en dan 4L aktiveer. Dié is nou laestrek én die ewenaarslotte word geaktiveer. Nou beweeg die SUV teen ʼn baie stadiger spoed, maar het nie enige probleme om obstruksies kaf te draf nie.

Die suspensie is baie goed op die mu-X en is ritgehalte beter as die markleier sʼn. Ja, die enjin kan doen met ʼn bietjie meer wringkrag en kort dit moderner tegnologieë om brandstof te verbeter, maar afgesien daarvan hardloop hierdie SUV dat dit klap.

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond

Slotsom

Na ʼn maand lange toets van die Isuzu mu-X 4×4 het daar heelwat goedjies navore gekom om mens se opinie rondom hierdie wa te vorm. Vanuit ʼn praktiese oogpunt is dit ʼn wonderlike voertuig wat sonder moeite jou bagasie vir die vakansie sal kan sluk én nog plek oor het vir ʼn wasbak. Dis lekker hoog van die grond af en en het mens goeie sig reg rondom vir wanneer jy moet sien wat om jou aan’t gebeur is.

Natuurlik is die enjin en sy tekortkominge iets wat Isuzu aan moet werk, maar dis een van daai enjins wat nie sommer die gees sal gee nie. Mens is geneig om te dink dat Toyota die hard enjins bou, maar Isuzu kan in daardie selfde geselskap genoem word.

As vakansie voertuig het die mu-X homself goed van sy taak gekwyt en kan ek met ʼn geruste hart die sleutel teruggee.

isuzu,mux-mu-x,isuzu mu-x,isuzumux,manskap,cape town,south africa,suid-afrika,kaapstad
Foto: Charlen Raymond