Jaguars met mekaar herenig

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson

Die Jaguar F-Type word met die eertydse E-Type herenig, maar die storie agter die storie is wat die meeste saak maak.

Twee verskillende karre, dieselfde vervaardiger, dieselfde DNA, dieselfde herkoms. Dit, in ʼn neutedop, is seker die beste manier om een van die beste reunies in die motorwêreld te beskryf. Wanneer een van Jaguar se beste oomblikke, die E-Type, met sy moderne kleinseun, die F-Type, herenig word. Die F-Type is ʼn baie moderne sportskar met alles wat jy van iets uit hierdie klas kan verwag, maar die E-Type was daardie jare nét so spesiaal.

Toe die kar vir die eerste keer in die laat 1950s by die Geneefse Motorskou onthul was, was belangstelling so erg dat Jaguar ʼn tweede kar uit Engeland Switserland toe moes ry. Deur die nag! In die jare wat volg het die E-Type kultstatus bereik en ook sommer in die proses toekennings ingepalm. Selfs nou in die 21ste eeu word dit as ʼn lewende legende beskou. Dié’s wat dit besit wil nie daarvan ontslae raak nie, en die skaarsheid van hierdie motors op ons paaie maak dat dit ʼn bitter spesiale oomblik wanneer een jou pad kruis.

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson

Hou op kyk!

Die nuwe Jaguar F-Type was so vyf jaar gelede bekendgestel en was as die E-Type se opvolger bestempel. Alhoewel daar dekades tussen hierdie twee motors is en die eras en generasies wat hulle verteenwoordig, is die moontlikheid dat die verlede en die hede saamkom een van enige petrolkop se grootste drome. En dit het ook toe net so gebeur dat die F-Type se neus in ʼn rigting draai; ʼn rigting wat kom bewys dat wat moet wees moet wees.

Dit was vroegaand toe ek by ʼn verkeerslig stilhou en hierdie klassieke kar by ʼn vulstasie sien. Mens kon net nie anders as om dit as die E-Type te herken nie en dadelik draai ek in sodra die robot my dit toelaat. ʼn Vinnige klets met die eienaar en ʼn bladskud ter bevestiging, is ʼn ontmoeting vasgemaak om die twee motors saam af te neem. Jinne, ek het nooit geweet my glimlag kon so ver om my kop gaan nie!

LEES: ‘Baba’ F-Type maak dinge los

Dit was ʼn epiese ontmoeting wat nie sou waar word as ek nie die F-Type gery het nie. Dit was nie net “Mag ek foto’s van jou kar neem, asb?” nie, maar ʼn gemeenskaplike gevoel dat dit ons verantwoordelikheid is om hierdie twee rygoed saam te bring. Die F-Type is een van die mooiste sportskarre wat daar is en al is die ontwerp al ʼn paar jaar oud, trek dit steeds aandag. Kry die kar dit steeds reg om bystanders te laat vergeet om die een voet voor die ander te sit. Die kar is nog in sy baba jare – as mens dit nou met die E-Type se dekades moet vergelyk – so daar moet nog baie water onder die brug loop vir dit om dieselfde reputasie van die E-Type te geniet, maar die kar spring reeds weg op ʼn goeie voet.

En hy sit die regte voet vorentoe, want die E-Type is in die sak. Ons is reg.

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson

Pa se trots

Dit was in die 1950s dat Jaguar motorsport op horings geneem het, en om die sukses om die baan te vier was die E-Type gebou. Die eerste modelle het vroeg in die dekade wat volg gekom en kort voor lank het heelwat E-Type’s van die produksielyn afgerol. Baie van hulle. Soos die jare aangaan het die E-Type meer populêr geword en het Jaguar die reeks begin uitbrei; wat, onder andere, die Series 1.5 Fixed Head Coupe 2+2 (vier sitplek) in 1966 ingesluit het. Maar wat die Series 1.5 anders gemaak het was dat sy enjin ʼn 4.2-liter ses-silinder was wat aan óf ʼn vier-spoed synchromesh handratkas óf ʼn drie-spoed outomatiese ratkas gekoppel was.

Die een wat ons hier het is die nie-Amerikaanse model en ontwikkel die enjin (toe dit nog nuut was) 265hp (so 200kW). Die nie-Amerikaanse model het 245hp ontwikkel. Maar hierdie spesifieke model is van die skaarste E-Type’s wat daar is, siende dat dit die enigste Series 1.5 FHC 2+2 in Suid-Afrika is! Goeie moer, hoe spesiaal kan dit nie raak nie!

Gallery: Jaguar E- en F-Type

Hierdie Kaapse eienaar lyk besonders jonk, wat jou sê dat hy seker die motor ʼn paar jaar terug gekoop het. Nope, sê hy, hierdie kar was ʼn geskenk. Toe sy ouers uitvind dat hulle hom verwag, was sy pa so uit sy nate uit bly dat hy die Jaguar gaan koop het om die goeie nuus te vier. Dit was amper 50 jaar gelede. Die motor was van toe af deel van die gesin en was op verskeie geleenthede die primêre bron van vervoer. Familie-vakansie in Botswana, trek die E-Type nader. Kuier familie in Johannesburg, waar is daai E-Type. Beide sy ouers het die kar gery, maar dit het syne geword toe hy onafhanklik raak en self ʼn goeie begrip van verantwoordelik ontwikkel.

En sy verhouding met die E-Type is veral spesiaal, want dit is deel van sy familie en ʼn verlenging van sy en sy pa se verhouding.

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson

Oorspronklike E

Die eienaar praat met groot liefde in sy stem van sy verhouding met die E-Type en hoe hy, as agt jarige, van sy pa se kopie te hore gekom het. Tydens sy tienerjare het sy ouers die onderwerp vermy, maar as volwassene het hy ontvangs van sy E-Type kom neem. Alles op die kar is nog in sy oorspronklike toestand; niks is afgehaal of vervang nie. Sy pa het wel ʼn antenna, twee kant spieëls, en die Jaguar wapen op die kar se neus gesit, maar hy het niks gedoen sedert hy die kar in besit geneem het nie. Die kar, sê hy, moet in sy oorspronklike kondisie bly; selfs die geskeurde sitplekke is nie verander nie.

Nou dat ek duidelik weet dat hy lief is vir alles E-Type, gesels ons oor hoe die twee motors voor ons. Hy het al alle Jaguars wat Jaguar vandag in sy reeks het gery, insluitend hierdie 2.0-liter F-Type. Die gevoel en sensasie en aandag aan detail is duidelik sigbaar in die moderne pakket, maar niks kom by sy E-Type nie. Die reuk van petrol, die voel van hoe elke meganisme van die kar onder jou werk, om dit te ry en in kommunikasie met die kar te wees… dis ʼn dors wat net nie geles kan word nie.

Maar moenie dink dat die E-Type met elke geleentheid gery word nie. In 2018 was die motor nog net vier keer gery. Die eerste keer baie vroeg in die jaar, die tweede keer toe ek hom raakloop, die derde keer die volgende dag vir ʼn vinnige fotosessie met sy seun, en die vierde keer toe ons ontmoet het. Ek dink ‘skaars’ het sopas ʼn nuwe betekenis gekry.

Oh, en as jy wonder of die motor in die mark is…? Ongelukkig nie, en dit gaan ook nie gebeur nie. Nooit nie.

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson

Enige bekendheid?

As joernalis moet jy onpartydig wees wanneer dit by sportskarre of enige ander toetskar kom. Jy deel nie sommer pryse uit vir “gunsteling dié” en “gunsteling dat” nie. Maar gegewe dat ek al heelwat F-Type’s oor die jare gery het en die meerderheid van die reeks beproef het, kan ek verstaan hoekom die eienaar so mal is oor sy E-Type. Daar is ʼn geen-verskoning trotsheid wanneer jy agter die stuur van ʼn Jaguar inskuif. Daar is ʼn gevoel dat dit okay is om anders te wees. Duitse sportmotors is bleddie goed en is tegnies op ʼn ander vlak, maar die F-Type het nog daardie x-faktor wat dit anders maak. Nes die E-Type.

Dis nie die vinnigste nie, maar dit is een van die mooiste. Dit is nie baie prakties nie, maar om dit te ry is altyd lekker en ʼn avontuur. En ek wil graag glo dat wanneer my (toekomstige) vrou eendag swanger word en sy verwag ʼn seun, dat ek ook myself met ʼn Jaguar F-Type sal gelukwens.

Vir ʼn foto kolleksie van die Jaguar E-Type, kontak Cole Petersen by: +27 79 678 0282 of cole.petersen99@gmail.com.

jaguar,e-type,f-type,jaguar e-type,jaguar f-type,manskap,suid-afrika,south africa,cape town,kaapstad
Foto: Warren Wilson