Jong leraar oor sy eerste gemeente

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Foto: Ricardo Rangoly Truphotography

As jong man word ek tot die bediening geroep om God se Woord hier op aarde te verkondig. Entoesiasties, hoopvol, en vol van sekerheid betreë ek my eerste gemeente, maar Humansdorp is ver van die huis af. En daar is beslis ʼn vraagteken oor of dit die regte keuse was…

Alle vrees en onsekerheid word uitgewis deur die feit dat God reeds als voorberei het. Hy het reeds vooruit gegaan en Hy weet reeds wat die pad vir my inhou. Maar omdat ons mos maar mens is, wonder jy steeds en skielik kom word die onsekerheid oor die vreemde ʼn werklikheid.

Die groot dag

Saterdag 2 Februarie 2019, van vroeg opstaan tot laat gaan slaap, was daar so baie wat op hierdie spesiale dag gebeur het. ʼn Oomblik waarna ek vir so lank na uitgesien het, is hier. Die werklikheid dat ek in die vreemde gevestig word is uiteindelik hier. Ophou huil kon ek nie en is daar soveel dankbaarheid in my gemoed. My kop is vol van gedagtes en ek herroep so uit die bloute die pad waarlangs ek gekom het. Dit was ʼn genade pad wat nie sonder sy uitdagings was nie. Almal wat my vandag, op my bevestiging, kom ondersteun het, sien die trane, my nat oë, die stilswye… sommige wéét watter uitdagings ek oor die jare in die gesig gestaar het, maar nie almal verstaan nie.

Maar vandag is daar trane van blydskap. Trane van waardering. Trane wat die hartseer, pyn en lyding van die verlede weg was. They see my glory, but don’t know my story.

Die gebeurtenis het baie onwerklik gevoel, tog was dit bekragtig deur almal wat daar teenwoordig was. Maar een van die hoogtepunte van alles was toe ek die pastorie binne gaan en almal staan die yard vol. Baie wat van ver af gekom het en ʼn pad met my oor die jare geloop het, almal was daar.

Ek glimlag en ek voel en lyk gelukkig, maar in my gemoed worstel ek of dit is waar ek moet wees. Moes ek eerder in die Kaap gebly het? Sou ek beter tot diens van God in die bekende wees? Wat as Humansdorp ʼn fout is?! Na die twyfel kom die sekerheid en dan skielik kom daar nog onsekerheid. So het dit daardie hele middag gegaan. Omring deur almal se liefde is ek weer hoopvol, entoesiasties, en tevrede met die keuse wat God oor my pad gebring het.

My hart loop oor van dankbaarheid. Elke traan wat ek gestort het getuig daarvan. Dit was inderdaad ʼn groot oomblik; té oorweldigend vir my. Vandat ek die dorp betreë het tot uitspreek van die seën oor my bediening daar, was ek oorspoel met emosies, en oomblikke vol snikke en trane.

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Foto: Ricardo Rangoly Truphotography

Verlang en kop optel

Na almal weg is, was daar soveel verlange en kon ek absoluut niks uitrig nie. Alleen en eensaam het ek genoeg tyd gehad om sommer baie te huil. My verloofde is altyd in my hart en ek mis en verlang haar die meeste. Wanneer ons oor die foon gesels, bars ons albei uit in trane, maar ons het veral trane gestort toe sy my vertel hoe hartseer sy was op pad terug Kaap toe na die bevestiging.

Omtrent ʼn halwe maand ná my bevestiging as leraar by VGK Humansdorp, is dit nogal fantasies om in diens van die Here te staan. My eerste gemeente. Ek was betrokke by baie gemeentes in die Kaap – Ravensmead, Maitland, Beacon Valley, en ander – maar om jou eie gemeente te hê is soveel anders. Ek het nie geweet wat om te doen of te verwag nie. Moenie eers praat van waar om te begin nie! Ek het aanvanklik baie dom gevoel, asof ek nog nooit by én saam met ʼn gemeente gewerk het nie. Asof ek nog nooit deel van ʼn gemeente was nie.

Die Dinsdag na my inhuldigingsnaweek spring ek weg en ervaar al die vreugde, liefde, omgee en lekkerte van die plattelandse mense. Dié is mense wat nog die klein dinge in die lewe waardeer. Dit het my slegs ʼn enkele dag, of ʼn paar besoeke, geneem om tuis te voel. Ek werk lekker en almal is net so passievol soos ek. Ek is opgewonde vir ʼn rooskleurige toekoms saam met lieflike mense in my bediening hier op Humansdorp.

Van Noupoort in die Noord-Kaap tot in Ravensmead op die Kaapse Vlakte, tot in Humansdorp in die Oos-Kaap. Die lewe het met my ʼn pad gestap, maar dit was ʼn pad wat van God se genade getuig. Ek is hoopvol, entoesiasties, en verseker van ʼn blink toekoms vir my hier op Humansdorp, want God het my nog nooit in die steek gelaat nie. En ek wéét Hy sal nie nou begin nie.

Manskap,gragory jacobs,leraar,dominee,vgk,god,god eerste,god first,
Foto: Ricardo Rangoly Truphotography