Kia Sportage doen intreevlak

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson

Dis geen geheim dat die mark vir SUVs die laaste dekade of so omtrent geboom het nie. So groot en vinnig was die groei dat dit soms oorweldigend kan wees om by te hou met wat die mark als te beid het. Maar anders as sommige nuwelinge wat hul stukkie van die SUV pie wil hê, was Kia maar nog al die pad daar wanneer dit by SUV-bou kom. Veral met sy Sportage-reeks.

Nou in sy vierde generasie, kom die Sportage al van 1993 af aan en het dit oor die jare ontwikkel en gegroei tot die produk wat ons vandag hier sien. Alhoewel vandag se model nie met 1993 sʼn vergelyk kan word nie, is dit altyd verfrissend om te sien hoe die vordering van ʼn voertuig was. Of in hierdie geval, hoe die Sportage gevorder het.

Laat in 2018 het Kia besluit om sy plaaslike Sportage-reeks op te knap en ʼn reeks veranderinge aan te bring. Veranderinge wat nie net te make het met tegnologie en kenmerke nie, maar met die reeks in geheel. Een van daardie veranderinge was die toevoeging van ʼn nuwe intreevlak model, die 1.6 Ignite outomaties, wat voornemende eienaars se eerste ontmoeting met die Sportage-reeks moet wees.

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson

Enjin en gewig

Soos met baie motors die geval is, word hierdie Sportage se enjin nie aan enige vorm van aanjaging blootgestel nie. Lug word op die gewone manier(e) by die enjin ingelaat en word die krag natuurlik gegenereer.

Die 1.6-liter enjin ontwikkel 97kW en 161Nm. Dis nie te sleg nie, maar wanneer jy die gewig van 1 568kg in berekening bring dan kan dit ʼn bietjie lol. Die lae wringkrag maak dat die enjin gewerk wil wees alvorens dit lekker op dreef is, en dan moet die ses-spoed outomatiese ratkas ook ingewerk word. Hierdie ratkas reageer nie baie goed wanneer dit aan sy eie genade oorgelaat word nie; wat nogal frustrerend kan wees. Maar skakel die ratte met die handrat-opsie oor en dis ʼn perd van ʼn ander kleur. Daar is nog ʼn bietjie traagheid wanneer jy op die versneller klim, maar in laasgenoemde modus reageer die Sportage baie goed.

Gallery: Kia Sportage 1.6 Ignite outo

As ons nou tegnies moet raak, dan moet die bogenoemde stellings eintlik ʼn negatiewe impak op petrolverbruik het, maar Kia voer aan dat hierdie Sportage slegs 7.7 L/100km verbruik. Op ʼn 200km trip, met die wind van agter, het die Sportage ʼn gemiddeld van 7.5 L/100km gewys. Maar met die terugkom – dieselfde 200km en die wind van voor – het daardie syfer tot net-net bo die 9.0 L merk gestyg. Ja, die SUV het teen die wind gesukkel en het ek baie keer gevind dat die ratkas, in volle outomaties, sy beste doen om uit vierde rat se kloue te ontsnap; al was spoedbeheer op 120km/h gestel. In die stad met sy besige verkeer, sukkel die Sportage om ʼn goeie verbruiksyfers aan te teken.

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson

Maar daai ritgehalte!

Al is die enjin en ratkas nie die lekkerste nie, vergeet mens nogal gou daarvan wanneer jy agter die stuur inskuif en begin ry. Jy raak nie moeg van daar sit nie en al frustreer die dryfstelsel jou, moedig die ritgehalte kalmte aan. Die manier hoe Kia die SUV met so ʼn lekker rit toegerus het kan nie misgekyk word nie. Dis amper soos om jou drome te bestuur en die SUV volg getrou waar jy die stuurwiel draai.

Veral die terugvoering wat mens deur die stuurwiel kry van wat op die pad gebeur… jinne, Kia het hier die spyker op die kop geslaan. Dit voel sekuur en is daar genoeg gewig om presies te weet hoe baie insette jy op enige gegewe oomblik moet insit. As ritgehalte die enigste faktor was om te oorweeg wanneer mens ʼn SUV moet koop, dink ek dat die Sportage bo-aan baie mense se lysie sou wees.

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson

Binneruim

Die binneruim is ʼn plek waar insittendes veilig en gemaklik moet voel, en ook gemaklik oor lang afstande moet wees. Alhoewel die Sportage in daardie behoeftes voorsien, het dit maar die basiese van wat Kia kan aanbied. Die mediastelse, byvoorbeeld, is een van daardie ou manne waar jy nog moet draai en druk om ʼn opdrag in te voer. Bluetooth en ʼn USB prop kom standaard, sowel as elektriese vensters.

Die sitplekke moet met die hand verstel word, en om die voorste sitplekke se ruglenings plat te sak, moet jy ʼn draaiknop langs die sitplek draai. Die agterste sitplekke vou gou-gou plat en vermeerder die laairuimte van 466L tot 1 455L. Daar is ʼn handvatsel wat mens kan trek om die agterste sitplekke te laat sak, en dit laat mens wonder hoekom Kia dit nie op die voorste sitplekke ingewerk het nie.

Persoonlik hou ek van hierdie Sportage se binneruim. Ja, die duurder modelle in die reeks se binneruime is duisend maal beter, maar hierdie kajuit bring jou terug na die wese van ʼn kar/SUV/voertuig besit. Geen fêncy toertjies nie, behalwe vir dit wat jy nodig het om jou rit lekker te maak.

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson

Slotsom

Dis maklik om weggevoer te raak met wat alles op die mark is, dat ons soms vergeet om net ʼn bietjie laer ook te kyk. En ʼn voertuig soos die Sportage, wat al vir 25 jaar met ons is, is bewyse daarvan dat daar juwele is wat wag om ontgin te word. Hierdie 1.6 Ignite outo kan beslis met ʼn turbo doen, maar dit bied steeds ʼn goeie rit vir al die regte redes.

Dit is nie vervelig nie en ook nie voorspelbaar nie, en daar is ʼn tipe aura omtrent dit. Maar voornemende kopers moet presies weet waarvoor hulle hulself inlaat. As ʼn sterk enjin en goeie binneruim vir jou belangrik is, dan sal hierdie model nie werk nie. Maar as ʼn goeie ritgehalte en eenvoudige kajuit jou ding is, dan kan jy nie verkeerd gaan nie.

Prys: R386 995

Manskap,kia,sportage,kia sportage,suv,kaapstad,cape town
Foto: Warren Wilson