Klein Peugeot met die hart van ʼn leeu

peugeot 208 gt line,peugeot,208,gt line, 208 gt line,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Toe Citroën sy uittrede uit die Suid-Afrikaanse mark aankondig, het dit ʼn groot vraagteken oor sy vennoot, Peugeot, se plaaslike toekoms laat hang. Hier het jy twee vervaardigers wat internasionaal baie goed doen, maar in terme van verkope en motorsport kan hulle net nie hier by ons aan die gang kom nie. Kompetisie soos Volkswagen, Toyota, en Ford maak vir Peugeot moeg en is daar ʼn groot gewig op die Franse vervaardiger se skouers om in Suid-Afrika te oorleef.

Die produkte wat Peugeot die laaste jaar of wat uitgestoot het, insluitend die indrukwekkende 3008, is baie goed. Maar waar die 3008 aan die voorpunt van Peugeot se passasierskarre staan, is die klein 208 die laat-lam in die reeks. Die kleine 208 is nie baie groot nie en moet dit sy man staan teen manne soos die Volkswagen Polo en Ford Fiesta. Dis nou wel ʼn bietjie kleiner as sy teenstanders, maar die kar met die hart van ʼn leeu het geen intensie om terug te staan nie. Dis ʼn kar wat ʼn goeie pakket bied – veral die rit – maar dit moet ook baklei teen stereotipering en opinies wat meer skade aanbring as goed.

Goeie enjin

Voor in hierdie 208 GT Line se neus is ʼn 1.2-liter drie-silinder enjin. Die grootte is effens méér as Ford en Volkswagen se 1.0-liter eenhede, maar die voordeel is dat krag baie egalig toegepas word. Peugeot kon darem 81kW en 205Nm se wringkrag uit die turbo-enjin toor en genadiglik is die laasgenoemde beskikbaar vanaf 1 500rpm. Dit verseker goeie in-rat versnelling en lekker verrigting.

Alhoewel die krag wat die enjin ontwikkel nie na baie klink nie, doen die lae gewig van 1 090kg wonders en help dit dat die enjin nie té hard hoef te werk nie. Dit werk, hierdie kombinasie van krag en gewig, en maak dit dat die karretjie ʼn ywerigheid omtrent dit het. Die vyf-spoed handratkas lewer ʼn goeie diens en haak die volgende rat sonder moeite. Maak net seker dat eerste rat gehaak is, want mens kan dink dat die rat gekoppel is en dan skiet die ratkierie terug in neutraal. Dis omdat die ratkas so stewig en duursaam voel.

Een van die goeie punte is die enjinklank. Hetsy dit ʼn drie- of vyf-silinder enjin is, hierdie enjins het ʼn unieke klank omtrent hulle. En nee, dis nie ʼn irriterende klank nie, want dit klink by tye baie beter as sommige vier-silinder enjin. Dis ʼn klank wat mens wil hoor en wanneer die enjin gedruk word klink dit nie of nie enjin raas en swaarkry nie. ʼn Klein kapasiteit enjin wat nie raas nie? Yip, dis die heilige waarheid.

peugeot 208 gt line,peugeot,208,gt line, 208 gt line,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Lekker ontwerp

Peugeot het omtrent iets reggekry om die 208 GT Line se buitekant mooi te laat lyk; ongetwyfeld geondersteun deur ʼn treffende rooi verf. Die kort voor- en agterkant dui op die klein dimensies van die kar, maar in werklikheid masker dit eintlik ʼn baie ruim kajuit – of liewer, so ruim soos ʼn klein luikrûg kan wees. Voor het die sierrooster mooi aksente om dit te laat uitstaan, sowel as die “GT Line” kenteken. Agter is ʼn enkele uitlaatpyp in die buffer versteek, maar dis in chroom afgewerk om net genoeg intensie te wys. Maar wat nou regtig uniek omtrent die buitekant is is dat die wiele elkeen ʼn rooi kolletjie het. Klein detail…

Waar die buitekant ʼn jeugdigheid met mooi 17-duim wiele navore bring, doen die binnekant presies dieselfde. Die fris stuurwiel pas goed in jou hand en is daar heelwat beheerknoppe om sekere funksies te beheer. Alhoewel mens die stuurwiel se hoogte en diepte kan aanpas, kan jy nie die skakel vir spoedbeheer, wat onder die rigtingaanwyser sit, sien nie. Mens moet half “in die donker voel” om dit te gebruik.

Gallery: Peugeot 208 GT Line

Die middelkonsole is goed uitgelê en is die materiale wat gebruik word ook van goeie gehalte; jy raak byna dadelik bekend met dit. Die knoppies is goed geplaas en is dit maklik om deur alles te werk. Maar terwyl die algehele gevoel van die binneruim ʼn duim in die regte rigting kry, is beenruimte agter maar aan die skrams kant. Veral as die bestuurder ʼn bietjie lank is. Die sensor in die voorste passasiersitplek is ook baie sensitief en gons wanneer mens selfs net jou hand op die sitplek sit. Die sensor is nie ʼn probleem nie, maar dit kan dalk ʼn bietjie minder sensitief wees.

Maar dit siplekke is in beide leer en lap oorgetrek en bied genoeg ondersteuning.

peugeot 208 gt line,peugeot,208,gt line, 208 gt line,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson

Opsomming

Die Peugeot 208 GT Line staar swaar tye in die gesig hier in Suid-Afrika. Nie net moet dit teen ʼn sukkelende Rand kompeteer nie, maar dit moet ook kopers oortuig dat dit sy man teen die Polo en Fiesta kan staan. Dis nie ʼn maklike taak nie, maar daar is meriete. Dit het ʼn sterk, gebalanseerde enjin en die ontwerp doen genoeg om die aandag te trek. Die verkoopsyfers wat die 208-reeks op ʼn maandelikse basis insamel is, eerlik gesproke, onregverdig, maar hierdie onderskatte kar, veral die GT Line, het een van die grootste harte in die motorwêreld.

Frans mag nou wel doe 2018 Sokker Wêreldbeker gewen het, maar hierdie Fransman doen min verkeerd om jou nie oor te wen nie.

Prys: R269 900 (September 2018)

peugeot 208 gt line,peugeot,208,gt line, 208 gt line,manskap,south africa,suid-afrika
Foto: Warren Wilson