XC40 doen Volvo gestand

Volvo,xc40,volvo xc40,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

Hoe mens ookal na die tendense en verkoopspatrone kyk, die mark vir nuwe SUVs het oor die laaste dekade omtrent gepop. Dis dan nie vreemd dat al meer vervaardigers poog om ʼn SUV in hul reeks te hê nie. En dan is daar die vervaardigers wat reeds ʼn SUV het, en dan besluit om nóg modelreekse by te voeg.

Een daarvan is Volvo wat, nou al vir ʼn geruime tyd, SUVs soos bossies die mark instoot. Alhoewel daar tot onlangs net die XC90 en XC60 was om van te praat, moes die Sweedse vervaardiger iets doen om die “intree-vlak” te dek. Iets wat BMW nogal goed gedoen het met sy X1 en X2 – laasgenoemde wat nie so lank terug nie tot die mark gevoeg was. So, wat was Volvo se antwoord? Sy XC40: die kleinste SUV in die Volvo-reeks, maar allermins iets wat vir die kompetisie sal terugstaan.

Thor se hamer

Al Volvo se SUVs, en selfs sy gesinsmotors, is almal dadelik uitkenbaar, maar met die voordeel dat mens nie hoef te wonder na watter model jy kyk nie. Behalwe as jy nou moet uitmaak na watter model van ʼn spesifieke modelreeks jy na kyk. In ons geval is ons hier met die XC40 T5 Inscription AWD gekonfronteer, wat sy teenwoordigheid op taamlik maniere aankondig. Van voor is daar die bekende sierrooster en die wapen wat in die middel daarvan pronk. Die ligte – dagry LED eenhede – kom standaard met die pakket, en is in ʼn patroon wat lyk soos Thor van ouds se hamer.

Dis nou Volvo se kopknik in die rigting van mitologie.

Wat ook aantreklik van hierdie kar is is die feit dat sy afmetings lekker kompak is. Teen bietjie langer as 4.4m is die XC40 nie groot nie, maar dit is ook nie klein nie. Veral nie binne as jy inklim nie. Die kortstondigheid van die ontwerp help dat die kar fris vertoon, sonder dat dit enigsins van karakter ontnaem word. En dis iets wat belangrik is; karakter, want dit word sonder twyfel in hierdie Volvo voorgehou. Agter kom die kompaktheid mooi byeen en die konneksie tussen voertuig en teer is opsionele 20-duim wiele met ʼn fantastiese ontwerp.

Volvo,xc40,volvo xc40,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

Gewigte sakie…

Volvo het ʼn paar jaar terug die besluit geneem om net grootte enjin vir beide sy petrol en diesel modelle in te span en word die XC40 T5, nes die ander karre in Volvo se reeks voertuie, deur ʼn turbo-aangejaagde 2.0-liter petrol enjin aangevuur. (Volvo het intussen ʼn nuwe, kleiner enjin tot die XC40-reeks gevoeg). Die T5 se kragvlakke staan op ʼn goeie 185kW en 350Nm. Die rede hiervoor, seg Volvo, is om die petrolverbruik so laag as moontlik te hou, maar die werklikheid van die saak is dat die XC40 T5 allermins lig op brandstof is…

Ongeag hoe stadig of ligvoet mens ry, die verbruik het nooit tot onder 10 L/100km gedaal nie. Verder behoort ʼn teoretiese reikafstand van 700km moontlik te wees, maar op 300km was reeds meer as driekwart van die petrol op. Daar kan vele redes vir hierdie senario wees, maar ʼn moontlikheid hiervoor is die feit dat die enjin onder geweldige druk geplaas word om daardie kragvlakke te bereik. Voeg hierby ʼn gewig van 1.7 ton en die SUV moet omtrent werk om daardie logge gewig rond te dra. Al is die wringkrag van 350Nm beskikbaar tussen 1 800 – 4 800rpm, is dit steeds nie genoeg om op te maak vir daardie swaar verbruik nie. Nie eens al is jou ritmodus in Eco nie.

ʼn Tydjie terug het ons die Lexus NX 300 F Sport op toets gehad en dié het ook swaar getrek aan ʼn swak verbruik. Óók ʼn 2.0-liter turbo enjin, óók ʼn swaar gewig. Alhoewel die mark vervaardigers in hierdie rigting forseer, is dit net nie reg dat sulke ordentlike waens aan sulke strawwe werklikhede blootgestel word nie.

Maar die Volvo XC40 T5 bied goeie padgedrag en is die ritgehalte besonders goed. In Eco modus neem die versneller maar ʼn tydjie om op insette te reageer, maar in Dynamic modus skiet die kar vorentoe. Mens kan ook die Offroad opsie kies as jy nou in die sand en modder wil gaan speel, maar dis hoogs onwaarskynlik dat mens dit in hierdie SUV sal wil doen. Al is die funksie daar.

Volvo,xc40,volvo xc40,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson

Stuur homself

Volvo is omtrent aan die voorpunt wanneer dit by tegnologie en die uitvoering daarvan kom en is die XC40 toegerus met heelwat tegnologieë. Die spoedbeheer kom in twee afwerkings, naamlik adaptive cruise control en pilot assist. Met die eerste kan jy jou spoed instel, maar die stelsel verminder spoed sodra dit optel dat daar stadig bewegende verkeer in die baan is. Dit sal weer na die ingestelde spoed versnel wanneer die pad oop is.

Pilot assist werk op dieselfde prinsiep, maar met die voordeel dat die kar semi-outomiese vermoë ten toon stel. Die XC40 lees die strepe in die pad en sal dan, vir kort rukkies, die stuur van die voertuig oorneem. Volvo maan bestuurders om nie alles aan die voertuig oor te laat nie, omdat die stelsel nie ten volle outonomies is nie.

Gallery: Volvo XC40 T5 Inscription AWD

Die SUV kan ook homself parkeer, jou waarsku wanneer jy uit jou baan beweeg, en ook rem as dit die moontlikheid van ʼn ongeluk bespeur.

Die XC40, nes ander Volvo’s, het die groot tablet-skerm in die middelkonsole vanwaar baie funksies beheer kan word, maar dit verg baie gewoont raak en kan dit by tye ʼn omslommernis wees om deur die funksies te blaai.

Slotsom

Die Volvo XC40 volg in groot voetstappe wat sy ouboet, die XC90, getrap het. En dié is self ʼn voormalige Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar wenner. In T5 Inscription AWD gewaad het die SUV heelwat om dit te laat geld en sit dit Volvo se goeie naam voort. Die XC40 lyk vars in die mark én sy segment, en het dit die nodige tegnologie om die toekoms in te roep. Die enjin en agt-spoed outomatiese ratkas werk goed saam, maar die petrolverbruik is verbasend skokkend.

Desnieteenstaande, die XC40 T5 Inscription AWD sal in baie se skik val en mag dit dalk net Volvo se volgende top-verkoper in Suid-Afrika wees.

Volvo,xc40,volvo xc40,manskap,suid-afrika,south africa,suv,luxury suv
Foto: Warren Wilson