Kom ons bou ʼn sneeuman!

sneeu,manskap,ceres,suid-afrika,
Foto: Charlen Raymond

Die Kaap en die breër Wes-Kaap is dors vir reën, daarom het ek, nes die Kaap en die breër Wes-Kaap, na Ceres gestroom om in die sneeu te speel. Jy kan seker sê dat ons hier in die Westelike provinsie nie aan sneeu gewoont is nie; en ons gaan nie stry nie. Al wat ons ken is droogte, warm son, en droë winde wat waai. En dié van ons wat teen die kus woon het darem die voordeel van see.

Dit was vinnig en gou en die weerman stuur sy waarskuwing oor die kanale: “Daar is ook ʼn waarskuwing van sneeu wat oor dele van die Wes-Kaap sal val. Inwoners word gemaan om tuis te bly en nie hulself aan die elemente bloot te stel nie.”

Uhm, dankie meneer die Weerman, maar ons gaan jou ignoreer. Ons, die hele Wes-Kaap! En weet jy hoekom? Want na maande van water spaar en elke liter omdraai, het ons lus om net ʼn bietjie ons hare los te maak. En siende dat die sneeu wat val later in water sal verander, gaan ons eers weer bekend raak met hoe dit voel om (in) water te mors.

Ceres toe oor Bains

Natuurlik sou die rit Ceres toe nie net reguit en doodgewoon wees nie en was die plan om oor die Bainskloof pas net buite Wellington te ry. Die Lexus NX300 F Sport wat ek gehad het se dak kan mens heeltemaal oop skuif en word ʼn glas venster onthul waardeur mens na buite kan kyk. En Bainskloof met al sy natuurskoon en berge wat om jou vou sou bitter mooi lyk. Ongelukkig was die pas toe agv die rowwe reën wat die Wes-Kaap ervaar het en dít maak van die pas ʼn draaiende moordwapen.

Die wetstoepassers was al te gaaf om ons reg te help en gou was ons op die R44 rigting Hermon, waarna die R46 ons voorland was vir die laaste kilometers tot in Ceres. Maar die Lexus loop lekker en was dit die nie lank nie of my drie passasiers is uit soos kerse. Slaap. Droomland toe. Haai shame, hulle kon dit nie help nie. Die kar loop baie sag en hardloop dit sonder moeite. Wanneer jou ritmodus in Eco is bespaar jy so ʼn bietjie petrol, maar wanneer jy in Sport of Sport+ is dan roer daai 2.0-liter turbo enjin se 177kW/350Nm en skiet jy gou-gou vorentoe.

Ons het nou wel lekker stadig gery en nooit enige behoefte gehad om te jaag om by die sneeu te kom nie, maar die NX300 F Sport se petrolverbruik is betreurenswaardig! Lexus sê die SUV se gemiddelde verbruik is 7.9 L/100km, maar doen wat ek kon dit wou nie laer as 9.0 L sak nie. Teoreties moet jy meer as 700km uit ʼn tenk kan kry, maar deur die genade sal jy gelukkig wees om 400km te haal! Ek wens ek kon dit opmaak, maar dis waar.

Nietemin, ons maak dit darem tot in Ceres en kruip deur die dorpie. Daar is alreeds ʼn klomp karre met Kaapse nommerplate wat hulweg uit die dorp baan, in die rigting waarin ons beweeg. Etlike kilometers buite die dorp draai almal regs en volg die bordjie wat “Bo-Swaarteberg” lees. En nou weet jy: die sneeu is naby.

Wit, wit, wit!

Die karre vorm omtrent ʼn tou soos almal aan ploeter om by die sneeu te kom. Sommige bestuurders, lyk dit, is senuagtig om teen ʼn berg op te ry, terwyl ander roekeloosheid aan die dag lê. En dan het jy die kerkraad wat mos glo dat hulle op aandag moet staan en elke verbygaande bestuurder met die hand beduie wat die spoed is wat jy hier moet ry. F*k hulle, sou my vriend en kollega Albert Bakkes gesê het.

Ons kry ʼn staanplekkie half weg van die gedruis af en plant ons voete op die wit lap. Skaars twee trappe later en ek gly op die ys, plat op my gat en my hande in die sneeu begrawe. Lekker! My stapskoene is gelukkig waterdig en kon ek deur die sneeu stap soos ʼn ysbeer in Antartika. Dis ʼn gespeel, ʼn gelag, ʼn gegooi van sneeu, en bou van ʼn sneeuman. Dis ʼn goeie uur of twee wat ons op die wit laken spandeer en skielik is dit weer tyd om Kaap se kant toe te staan.

Die koue breek omtrent die hitte in jou lyf en klim jy met klap tande en bibberende boude terug in jou kar. Gelukkig het die Lexus sitplekverwarmers en was dit nie lank voor die gevoel terugkeer nie.

Die sneeu het alreeds begin smelt en is die Kaap se damme weer terug na mooi vlakke. Dis nog nie waar dit móét wees nie en lê ons Kapenaars steeds besparingstegnieke aan die dag, maar ons is beslis nog nie klaar met die sneeu nie. Daar is nóg op pad en nóg ʼn trippie Ceres toe om wéér te gaan mannetjies bou.