Land Rover Disco die berg uit

land rover,land rover discovery,discovery,4x4,manskap,south africa,suid-afrika,adventure,avontuur
Foto: Corbin Raymond

Ek het onlangs ʼn 4×4 ekskursie in die Koue Bokkeveld naby Ceres gedoen en kon nie anders as om dit in ʼn behoorlike 4×4 aan te pak nie. 

In hierdie geval, die Land Rover Discovery. Jinne man, om wéér met die Disco herenig te word het my omtrent laat glimlag! Die nuwe, vyfde-generasie Discovery is in 2017 hier in Suid-Afrika bekendgestel en is die wa ʼn monster wanneer dit by 4×4 kom. Die Terrain Select II sisteem het byna geen gelyke nie en kan mens lekker maklik die stelsel verstaan. Gelukkig het ek ervaring wanneer dit by klim en klouter kom, so dit het net ʼn paar oomblikke geneem om weer vertroud met die Discovery en sy stelsel te raak.

Eindelik toe die groep saam met wie ons ry by ons aansluit, klim ek en my passasiers in die Discovery; reg om die uitmergelende roete aan te vat.

land rover,land rover discovery,discovery,4x4,manskap,south africa,suid-afrika,adventure,avontuur
Foto: Corbin Raymond

Klipspringer

Die nuwe, vyfde-generasie Discovery is een van daardie voertuie wat opinie verdeel; veral wanneer dit by die ontwerp kom. Dis ʼn voertuig wat nie net ‘sagter’ as sy voorgangers lyk nie; dis ook ʼn SUV wat méér tegnologie as enige ander Discovery het. Soveel so dat kenners in die motorbedryf half begin wonder het in watter rigting slaan Land Rover dan nou eintlik. Want in die proses waarin hulle probeer om ʼn nuwe gehoor te lok – ten minste in terme van ontwerp – hoeveel van die veldryvermoë het agterweë gebly?

Het die Discovery nog daardie onwrikbare reputasie wat sy voorgangers kom stel het as ʼn masjien wat enigiets kan plat loop? Enigiets van so klein soos ʼn miershoop tot so groot as Kilimanjaro.

Gelukkig het die Discovery niks van dit verloor nie. Inteendeel, Land Rover het alles omtrent die vierwiel-stelsel verbeter dat dit beter as die geharde voorafgaande generasies is. Dit is meer bekwaam as amper enigiets anders op die mark en is dit ook met die opsionele lugvering toegerus. Laasgenoemde maak dat mens lekker oor obstruksies kan klim. Die Terrain Select II sisteem is ook verder vereenvoudig sodat mens maklik tussen die verskillende stelsels kan kies en dit aktiveer. Om te kies tussen die modusse vir rotse, modder, sand en dongas vereis net dat die voertuig staande en in neutraal moet wees, die gekose modus om gekies te word, en dat jy dan op jou weg kan wees.

Die berg wat ons teen op ry vra dat die Disco in Rock Crawl modus moet wees, wat enjin, versneller en ratkas aanpas vir gebruik in hierdie situasies. Dis ʼn stadige klim, maar dit kry jou bo. Veilig.

land rover,land rover discovery,discovery,4x4,manskap,south africa,suid-afrika,adventure,avontuur
Foto: Charlen Raymond

Bleddie groot klippe

Die 4×4 roete buite Ceres laat darem toe dat mens heelwat aktiwiteite daar kan doen. Jy kan kies om op die hindernis baan te speel, óf om die 4×2 óf 4×4 baan aan te vat; soos ons gedoen het. Alhoewel mens definitief jou 4×4 moet ken en verstaan om hier te ry, sal die grootheid van die berg en sy uitdagings jou op jou tande laat kners. Die klim is glad nie so maklik soos Miley Cyris se weergawe nie, en die geluide wat jy maak sal jou maagspiere goeie oefening gee elke keer wanneer jy oor ʼn rots ry.

Elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) gedeaktiveer en lae-strek geaktiveer, dans die Disco stadig die berg op. Dankie tog vir daardie lugvering wat die grondvryhoogte van 220mm (standaard) tot 283mm verhoog. Die stelsel doen dit outomaties wanneer ekstreme 4×4 modusse op die Terrain Select II geselekteer word. Dis amper onmoontlik om te dink dat hierdie 2.2 ton monster so maklik oor die klippe kan klim en die bande nie skade opdoen nie. By tye moes een van my passasiers uitklim en kyk waar die wiele geposisioneer is, maar ons is deur en anderkant uit.

Moenie oordeel

Dit was ʼn goeie klompie ure daar in die berg en die uitsig oor alles was asemrowend. Dit lyk kompleet of die landskappe vir myle en myle aanhou, maar die ervaring het net weereens uitgelig dat die Discovery net dalk die beste luukse 4×4 op die mark is. Ek praat nie nou van SUVs met net ʼn hoër grondvryhoogte en fêncy bande nie, maar ʼn opregte 4×4. Land Rover het ʼn vet kans geneem om weg te beweeg van die ontwerp ethos wat al vir dekades deel van die Discovery se DNA kom word het, maar dit sal verkeerd wees vir enigiemand om die SUV en sy vermoëns op hoe dit nou lyk, te oordeel.

Lees: Nuwe Land Rover mάg maar Disco

Ek sal die eerste wees om te sê dat op die oop pad, teen snelhede, rol die SUV se lyf ʼn bietjie en dat die remme nie dadelik byt nie, maar dis goedjies wat nie enigsins die SUV swak maak nie. Plus, daardie 3.0-liter V6 diesel enjin het klomp krag en ʼn ligte druk op die versneller laat al 190kW/600Nm los. Dis ʼn lekker rit, hierdie Discovery, maar dit raak net soveel beter wanneer jy van die teer afklim.

Vinnige feite:

Model: Land Rover Discovery HSE Td6
Prys: R1.3-miljoen
Enjin: 3.0-liter V6, turbo diesel
Krag: 190kW/600Nm
Ratte: 8-spoed, outomaties
Dryf: Permanente vielwiel
Ekonomie: 10.8 L/100km (oor toetsperiode)
Grondvryhoogte: 220mm (283mm met die opsionele lugvering)

land rover,land rover discovery,discovery,4x4,manskap,south africa,suid-afrika,adventure,avontuur
Foto: Charlen Raymond