Leclerc eerste, maar Ferrari praat laaste

Manskap,f1,ferrari,charles leclerc,bahrain gp,bahrain,leclerc
Foto: Verskaf

Charles Leclerc het vroeër vanaand die eerste wegspring posisie vir môre se Bahrainse GP geneem toe hy die posisie voor sy spanmaat, Sebastian Vettel, se neus weggeraap het. Leclerc was al heel naweek op die pas en het vir Ferrari gewys dat hul keuse om hom in Kimi Raikkonen se plek aan te stel die regte een was. Twee weke terug in Australië het Leclerc bietjie met sy Ferrari gesukkel, maar hierdie naweek het hy die appelkar op sy kop kom keer.

Op 21-jarige ouderdom is Leclerc die tweede jongste jaer ooit wat van voor wegspring en word hy, ironies genoeg, deur sy spanmaat om daardie eer geklop. Vettel het tydens die 2008 Italiaanse GP daardie eer syne gemaak.

Maar die gissing wat op almal se lippe na afloop van kwalifisering was, was oor wat Ferrari in die ren gaan doen. Gaan hulle toelaat dat Leclerc die ren beheer en moontlik sy eerste sege in Formule 1 behaal? Of gaan hulle spanbevele in bring en die opdrag gee dat die twee jaers posisies ruil.

Iemand kom eerste

Aan die begin van 2019, nog vóór voorseisoense toetse begin het, het Ferrari se nuwe spanbaas, Mattia Binotto, dit duidelik gemaak dat Vettel voorkeur sal geniet. Leclerc was baie volwasse met die aanhoor van hierdie brokkie nuus en het aan media gesê dat dit net reg is vir Ferrari om so ʼn besluit te neem. Natuurlik weet almal van Leclerc se talent en dat hy vinnig is, en so tong-in-die-kies was daar vermoed dat hy Vettel ʼn go sal kan gee.

In Australië het hy die ren agter Vettel voltooi, maar in Bahrain is dit ʼn perd van ʼn ander kleur. Leclerc spring voor sy senior spanmaat weg en het heel naweek gewys dat hy die jaer is wat geklop moet word. Maar spoed en konsekwentheid sal waarskynlik nie genoeg wees vir hom om die wen te vat nie.

Ferrari sal gedurende die ren óf dat hulle posisies op die baan ruil óf dit in die kuipe laat gebeur. Leclerc sal dan agter Vettel inskuif en die twee sal die ren in daai posisies voltooi. Maar, Leclerc kán wen indien Vettel nie in ʼn posisie is om by hom verby te gaan nie, óf as iets met Vettel gebeur wat hom uit die ren haal.

Ferrari en sy magdom aanhangers sal natuurlik hoop dat enigeen van die jaers wen, alles in die hoop om aan die einde van die seisoen as algehele wenners uit die stryd te tree.

Leclerc het in 2017, tydens sy Formule 2 debuut om hierdie einste baan, óók van voor weggespring en die ren in die derde plek voltooi.