Lewis Hamilton behoort hom te skaam!

f1,lewis hamilton,kimi raikkonen,ferrari,mercedes
Lewis Hamilton (Mercedes, links) en Kimi Raikkonen (Ferrari) na afloop van die 2018 Britse GP. Foto: Verskaf

Die 2018 Britse grand prix het oorgenoeg drama gehad om oor huis toe te skryf, maar dit was Lewis Hamilton se kommentaar wat die oë laat rek het. Maar kom ons begin van voor.

Met die aanvang van die ren het Hamilton ʼn swak wegspring in sy Mercedes renmotor gehad en sommer gou posisies aan Sebastian Vettel (Ferrari) en sy Mercedes spanmaat, Valtteri Bottas, afgestaan. Die groep jaers het op die derde draai afgestorm en Vettel se spanmaat, Kimi Raikkonen, het in Hamilton vasgery. Dit het die Britse jaer tot in die laaste posisie laat terugsak, terwyl Raikkonen sy ren kon hervat.

Toe die geruite vlag sak was dit Vettel wat eerste oor die wenstreep gejaag het, gevolg deur Hamilton en Raikkonen. Bottas het die ren in die vierde plek voltooi. Vettel en Hamilton is die twee groot aanspraakmakers op vanjaar se Formule 1 titel en is daar ʼn verskil van slegs agt punte tussen hulle.

Hamilton se klaagliedere

Na afloop van die ren toe kommentator Martin Brundle ʼn onderhoud met die drie top jaers hou, was Hamilton nêrens te sien nie. ʼn Kameraskoot het hom gewys waar hy hom in sy motorhuis skaars hou.

Hamilton het ʼn swak begin gehad en tot die laaste plek terug gesak, maar dit was ʼn monumentale poging om van laaste tot tweede te styg. Dit dui op die klas bestuurder wat Hamilton is en dat sy talent onder die bestes is wat F1 al ooit gesien het. Maar toe hy wel ʼn onderhoud toestaan, maak hy uitlatings dat Ferrari vuil tegnieke aan die dag lê om ʼn voorsprong oor hom en sy span te kry, met verwysing na wat ʼn paar weke terug in Frankryk gebeur het en nou weer in Britanje. In Frankryk, teen meer as 300km/h, het Vettel wéér ʼn beter begin as beide Mercedes manne gehad, maar het sy remme gesluit en het hy in Bottas vasgery. Albei jaers het tot die laaste plek teruggesak, maar het terug geveg om die ren in die top tien te voltooi. In Britanje was dit Raikkonen se remme wat gesluit het en is hy in Hamilton in.

Hamilton, ʼn viermalige kampioen, behoort beter as enigiemand te weet dat insidente gebeur in elke ren en dat Raikkonen wat in hom ingery het nie vuilspel was nie. Dalk het Hamilton suur druiwe omdat hy nie gewen het nie, maar selfs hy weet dat die wen hom nie beskore was nie. Toe hy die swak begin gehad het was die beste waarop hy kon wens ʼn derde plek, maar danksy twee veiligheidsmotors en die feit dat hy sy bande langer kon laat hou het hy tweede klaargemaak.

O ja, ná die stamp met Raikkonen en Hamilton wat sy ren in die laaste plek hervat, het die Brit oor die radio begin kla dat daar fout is met sy kar. Sy span het hom oor die radio gemaan dat hulle geen foute of probleme op die rekenaars kon sien nie, maar hy het volgehou dat daar is. En vir iemand wat so goed soos hy gery het, moes daar baie groot fout met sy motor gewees het…

Tipies Hamilton

Maar dis hoe Hamilton is: wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, blameer hy alles en almal om hom. As hy sy weg deur die veld moet baklei, dan gee hy altyd oor die radio te kenne dat daar fout is. Net ingeval sy resultaat swak is sodat hy dit kan regverdig. Wanneer hy nie goed kwalifiseer nie, is daar altyd fout met die kar en kon hy net nooit die regte balans op sy motor kry nie. Dis byna nooit hy nie. Maar wanneer hy wen of wanneer hy ʼn ren van voor begin dan is die span en motor net die beste. Foute? Dis nooit hy nie.

Raikkonen het teenoor Brundle genoem dat die botsing tussen hom en Hamilton sy skuld was en dat hy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Sou Hamilton dit doen?