Leuxs maak NX 300 ‘sportief’

lexus nx 300 f sport,manskap,lexus,nx 300
Foto: Charlen Raymond

Lexus het besluit om een van sy SUVs, die NX, van ʼn sportiewe persoonlikheid te voorsien en het dan die benaming ook daarvolgens gedoen.

In die lig van Lexus se sportiwiteit, moet die mees sportiewe, vinnigste, en seksieste Lexus wat ooit gemaak was sekerlik die LF-A van ʼn paar jaar gelede wees. Daai mooi lyne, die dinamiese, eksentrieke ontwerp wat aangryp en inneem. Toe, laas jaar, kom stel Lexus sy LC 500 bekend. Ook mooi en aantreklik, met ʼn magdom persoonlikheid. Sportiewe motors daardie, en elkeen met sy eie persoonlikheid.

En dan natuurlik die NX 300 F Sport wat ons hier het. Maar alhoewel die SUV se ontwerp van sportiwiteit drup, is daar ʼn paar tekortkominge om dit regtig as sportief te laat geld. Maar sê eers: ry dit darem lekker? Ongetwyfeld! Net soos ʼn Lexus kan.

Mooi bly maar mooi

Die ontwerpstaal van die NX 300 F Sport is besaai met skerp hoeke en lewendige lyne. Vanaf die sierrooster met sy heuningkoek ontwerp wat mooi na vore rek tot agter by die hoekigheid van die agterligte, hierdie kar lyk verskriklik mooi. Selfs die wiele is van die mooistes wat op enige motor gesit is. Dis regtig ʼn mooi SUV hierdie en die innemendheid word in die binneruim voortgesit.

Die leer sitplekke is, tipies Lexus, bitter gemaklik en kwaliteit-aandag is aan elke raakplek van die binneruim geskenk. Die opvallendste moet sekerlik die middel konsole wees wat lyk of dit vorentoe skiet. Die skerp hoeke mag in sommige se oë steek, maar dit sit die SUV se ontwerpstaal voort. Byna elke tegnologie word vanuit hierdie konsole beheer en is dit ʼn lekker verandering van dit wat ons aan gewoont is. Maar die probleem met hierdie rigting wat Lexus ingeslaan het is dat sommige knoppies en lesings maar klein is en mens moet jou oë van die pad afhaal om te sien waar jy druk. Die raakskerm verg soms ʼn harde druk vir dit om die opdrag te registreer, en selfs die oppervlakte waarop mens jou vinger beweeg is by tye hiper sensitief.

Ongeag daarvan is die NX 300 F Sport se binneruim ʼn lekker plekkie om te wees; gemaklik en funksioneel.

lexus nx 300 f sport,manskap,lexus,nx 300
Foto: Charlen Raymond

Soek die ‘Sport’

Lexus het ʼn turboaangejaagde 2.0-liter enjin voor in die NX 300 F Sport se neus gedruk en bemark dus die motor as die sportiewe model in die reeks. En die kragvlakke van 175kW en 350Nm moet dit reflekteer. Maar ongelukkig doen dit nie. Daar is sekere kriteria wat ʼn sportiewe SUV aan moet voldoen en die NX 300 F Sport haal nie die paal nie. Kriteria soos die outomatiese ratkas wat met mening moet reageer elke keer wanneer mens, in sport modus, van ratte verwissel; en dit nie doen nie. Jy kan ook die self ratte verander, maar plant die versneller en kom die CVT-tendense baie sterk deur (hou vas aan die toere). Maar laat die ratkas aan sy eie genade oor, sonder om die sport te jag, en dis nie te versmaai nie.

Lexus voer ook aan dat die SUV van 0-100km/h sal hardloop in 7.1 sekondes en vir ʼn SUV van 1.8 ton is dit nie sleg nie. Natuurlik sal dit nie blits vinnig wees nie, maar dis vinnig genoeg in hierdie pakket. Top snelheid word as 200km/h aangegee.

Waar die NX 300 F Sport nou regtig uitblink is met die ritgehalte. Lexus is bekend daarvoor dat sy motors oor die pad sweef en hierdie SUV sit daardie tradisie voort. Die vering is baie sag en gly die wa oor spoedwalle en enige hobbelrigheid. Dis lekker en maak dit enige rit die moeite werd. Die vering is net nie lekker ferm wanneer mens die kar se dinamiese vermoëns werklik op die proef stel nie en is daar heelwat rol op die SUV se lyf, maar dit bly ʼn lekker rit. Ongeag. Selfs daardie 18-duim wiele dra tot die rit by.

O ja, voor ek vergeet. Die elektroniese handrem deaktiveer nie outomaties nie en moet mens dit elke keer met die hand afskakel.

Slotsom

Om te sê dat hierdie NX 300 F Sport ʼn sportiewe SUV is is dalk ʼn kleine bietjie vergesog. Ja, dit lyk goed en die ritgehalte is tops, maar die gevoel van agter die stuur dra dit net nie oor nie. As ʼn alledaagse motor voldoen dit aan die basiese vereistes en bied dit méér as genoeg tegno-truuks, selfs al trek dit swaar aan petrolverbruik (gemiddelde verbruik was oor die 12 l/100km). Afgesien hiervan sal eienaars hulself nie hieraan verknies nie en sal die goeie bestuursondervinding beloning genoeg wees.

Prys: R797 500

lexus nx 300 f sport,manskap,lexus,nx 300
Foto: Charlen Raymond