Local ís Lekker! Gatswaai om ʼn resiesbaan

manskap,oval racing,tygerberg raceway,cape town,kaapstad,willem van zyl
Willem van Zyl (regs) saam met 'Paps', sy mechanic. Foto: Charlen Raymond

Nie so lank terug nie was motorsport in Suid-Afrika op almal se lippe. Manne soos Sarel van der Merwe en Deon Joubert het renbane aan die brand gejaag en het ren op ren, kampioenskap op kampioenskap, gewen. Dit was die dae toe jy die tv op ʼn Saterdag- of Sondagmiddag kon aanskakel en sien hoe hierdie renjaers soos die wind om draaie jaag en die skare op hul voete is.

Mens kan amper nie glo dat dit bietjie meer as 20 jaar terug was nie, maar die dalende belangstelling in plaaslike motorsport het gemaak dat hierdie sportsoort, wat vir lank ons Saterdae uitgemaak het, nou gebuk gaan onder druk om toeskouers by renbane te kry. En dan praat ons nie eens van borge nie; vir beide renne én deelnemers.

Die afname in getalle word grootliks daaraan toegeskryf dat die belangstelling nie meer daar is nie. Iewers langs die pad het ons, as ʼn nasie wat so lief is vir Formule 1 en ander globale sporte, dit reggekry om ons eie mense agtertoe te plaas en hulle aan hul eie genade oor te laat. Daar is nog wel getroue aanhangers wat in hul getalle na ʼn ren kom, en gelukkig is daar hoop dat die getalle wéér sal klim.

Oval Racing by Tygerberg Raceway – 2 Februarie 2019

Ons het die naweek fantastiese Oval Racing by Tygerberg Raceway bygewoon. Baie aksie en baie harde klanke🏁#ManskapSA #motorsport #ovalracing

Posted by Manskap on Monday, 4 February 2019

Bitter naby

Op die naweek van 2 Februarie het ek ʼn Oval Race by Tygerberg Raceway net buite Kaapstad, bygewoon. Die ry karre wat gewag het om by die hekke in te gaan het by die minuut langer geword, en binne het die kommentators geskerts oor wat ons op te wagte kan wees. Oral om was mense en sommige was nog besig om hul weg uit die parkeer terrein te baan.

Ek het die ren as gas van Willem van Zyl bygewoon; ʼn 21-jarige wat in die V8 klas ry. Dis maar net sy tweede seisoen in hierdie klas, maar hy het al reeds gewys dat ʼn natuurlike anvoeling vir dit het. Aan die einde van die 2018 seisoen het die jaar in die algehele tweede plek voltooi, maar ook net omdat hy sy finale landbou eksamen moes aflê en in die proses die finale ren van die seisoen moes mis. Maar hier is hy nou by die eerste ren van die 2019 seisoen; die eerste van tien rondtes.

Voor die ren wys Van Zyl my sy kar en verduidelik hoe alles werk. Hy verduidelik hoe die motor opgestel word, die ure wat hulle insit om die motor te bou, en hoe hy 350kW in ʼn motor wat skaars 1000kg weeg moet kan hanteer. Dis ʼn ervaring wat nie baie aanhangers sal kan beleef nie, maar die gevoel om so nay aan so ʼn motor te wees is onbeskryflik.

“Jy lus om om die parade lap saam met my te doen?” vra hy my en beduie dat ek in moet klim: een been in die kar en die ander been buite. “Hou vas!” is die laaste woorde wat hy aan my sê voordat die V8 enjin met ʼn gebrul aangeskakel word. Op die baan is ons met horde ander renmotors omring wat vir die toeskouers iets gee om oor opgewonde te raak. ʼn Paar spanlede van ander jaers hang ook by ander motors uit en waai vir die skare. By elk van die baan se twee draaie sal Van Zyl ʼn bietjie petrol gee sodat die motor se gat kan uitswaai. En al wat ek moet doen is om vas te hou.

manskap,oval racing,tygerberg raceway,cape town,kaapstad,willem van zyl
Foto: Abri de Bruin / Tygerberg Raceway

En… ry!

Verskillende motors uit verskillende klasse maak deel van die ren uit en baklei vir die top posisie. Onder dié is midgets, die voorafgenoemde V8s, Citi Golfs, en wat hulle noem die ‘late models’. In elk van die klasse ry die jaers ten minste twee om die baan, teen ʼn baie bedeesde spoed, en wag dan vir die sein om mielies te gooi. Sodra hulle die sein het, kom daar ʼn lawaai van lieflike klanke van die baan af soos jaers die versnellers trap en dan oop ketels tot in die eerste draai jaag.

Motors gly rond, jaers draai net genoeg om met genoeg momentum en beheer om ʼn draai te gly, en almal soek die bes moontlike posisie. En dit gebeur ook dat iemand wat om die voorste posisie meeding uit die ren gestamp kan word. Die manne wat agter is, wat weet dat hulle nie sal wen nie, ry eerder om die skare se plesier met oorbodige bewegings en vlamme wat by die uitlaatpype uit spuug.

In die donker blink en skitter al die motors en is die reuk van petrol ʼn oorbodigheid vir jou sintuie. Na ʼn uur se gejaag is jy al so doof, jy gee nie om om jou frustrasie en opgewondenheid aan die toeskouer langs jou te beduie nie. Dis absoluut goud werd!

manskap,oval racing,tygerberg raceway,cape town,kaapstad,willem van zyl
Die ‘midgets’. Foto: Charlen Raymond

Hoe lyk jou verf?

Hoe Oval Racing werk is dat deelnemers neem aan twee uitdunne deel, maar in elk van dit verander die posisie waarin jy begin. Bedoelende, as jy die eerste uitdun iewers in die onderste helfte van die veld begin, dan begin jy die tweede uitdun in die boonste helfte. Jou posisie in die derde, en belangrikste ren, word uitgewerk op waar jy die eerste twee renne voltooi het. In Van Zyl se geval was hy in albei uitdunne van die baan gejaag terwyl hy om die voortou meeding en het hy die derde ren – wat vir punte tel – in die laaste plek begin.

Amper onmiddellik toe die ren begin, het Van Zyl begin om ander jaers verby te steek op pad na die voorbokke toe. Beide sy agterwiele was in albei uitdunne beskadig en kon sy span dit gelukkig vervang, maar die jongman met die breë glimlag het aanhou ry asof sy lewe daarvan afhang; besig om op te maak vir die drama vroeër die aand.

“Ek het ʼn k*k ren,” het hy met frustrasie in sy stem aan my na afloop van die tweede uitdun gesê, maar in die derde ren het hy alles op sy kop gekeer en vir almal gewys wat in hom steek. Van Zyl het vir ʼn vale gejaag en bietjie verf geskuur met jaers wat té naby aan hom sou kom. Maar hy het aanhou veg en sodoende die ren in die eerste plek klaargemaak. Van laaste tot eerste, soos dit ʼn kampioen betaam.

Die moeite werd?

Hier in Kaapstad word daar gereeld renne by Tygerberg Raceway en Killarney International Raceway gehou en kan toeskouers hierdie tipe high octane racing ervaar. As ons, as breër gemeenskap, onder die indruk is dat kaartjies duur is, moet ons onsself met die feite vergewis.

Plaaslike motorsport is ʼn uitlaapklep vir beide jaers en toeskouers weg van die alledaagse gewoel en roetine, waar jy vir een aand met vriende en vreemdelinge kan kuier.

Die atmosfeer is onbeskryflik lekker en die lug word gevul met die reuk van bande, petrol, en braaivleis. Hierdie trots Suid-Afrikaanse oomblikke en spanne doen hul bes om motorsport in Suid-Afrika lewendig te hou. Dalk is dit tyd dat ons as toeskouers dieselfde begin doen.

manskap,oval racing,tygerberg raceway,cape town,kaapstad,willem van zyl
Die ‘late models’. Foto: Charlen Raymond