Mazda torring aan MX-5 se wenresep

Manskap,mazda,mx-5,mazda mx-5,cape town,roadster,miata,mazda miata,
Foto: Warren Wilson

Sonder huiwer kan mens sê dat die Mazda MX-5 die wêreld se gunsteling oopdak motor is. Nie omdat dit ougat lyk nie, maar omdat die verkope daarvan getuig. Miljoene is oor die laaste paar dekades verkoop en smag petrolkoppe na hierdie besonderse kar. Of dit nou ʼn tweedehandse model is of uit die boks, die MX-5 wil gehê wees.

Wat die MX-5 nog altyd ʼn lekker kar gemaak het was die feit dat dit lig is en krag na die agterwiele via ʼn handratkas stuur. Daarby saam is ʼn byna perfekte gewigsverspreiding oor die voor- en agterste asse, en ʼn enjin wat die kar soos ʼn handskoen pas. Vra vir dié wat ken en jy sal moet sit en luister oor presies waarom dit die waarheid is.

Mazda het dit reggekry om een van die lekkerste motors te bou wat jou nie ʼn arm en ʼn been sal kos nie. Ingevolge die motor se natuur is dit nie baie prakties nie, maar jy gee nie om nie. Jy weet wat jy jouself voor in laat en jy leef met die tekortkominge. As jy kroosloos is, sal die kar jou pas. As jy nie baie bagasie op ʼn naweek weg neem nie, dan sal die kar jou pas. As dit net jy en jou partner is wat wil wegbreek… die MX-5 sal die libido laat oorloop.

Manskap,mazda,mx-5,mazda mx-5,cape town,roadster,miata,mazda miata,
Foto: Warren Wilson

Slegs een model

Mazda het in 2017 die besluit geneem om die lapdak-weergawe van dié kar van die mark te haal en slegs ʼn RF model in 2018 die mark in te stuur. Die Retractable Fastback. Hierdie kar het ʼn harde dak ipv die lapdak van die vorige model en ook ʼn ses-spoed outomatiese ratkas instede van die vorige ses-spoed handratkas. Dit klink dalk na klein verskille, maar dit maak ʼn helse verskil aan die motor se algehele gevoel.

Gelukkig het Mazda die motor se ontwerp behou en nie veel aan dit getorring nie en kan mens dit steeds uitken as die MX-5. Die lang neus, die kort gat, die kajuit wat mens sommer van buite af kan sien is knap. Dis nog al die pad MX-5 hierdie en dit maak mens opgewonde om in te klim.

En die in klim is vir jou ʼn storie! Jy val so in jou sitplek in en voel amper net so naby aan die grond soos die mens aan die Here se genade. Onfikse kreature (soos ek) skep met elke in en uitklim asem en die kleinste teken van ʼn boepie bult uit verligting vorentoe. Dis nie speletjies nie, mense, maar in dié kar wil jy wees. Dis knap hier binne – amper beknop – maar jy weet jy wil in.

Manskap,mazda,mx-5,mazda mx-5,cape town,roadster,miata,mazda miata,
Foto: Warren Wilson

Hy draai so lekker!

ʼn Groot deel van die MX-5 se wenresep is sy stuur; die manier hoe die klein sportskar om ʼn draai kleef is soos ʼn vlieg aan konfyt. Dit sit vas en kan mens met vertroue op die volgende draai af peil. Dit was veral nog duidelik met die vorige MX-5, die een met die lapdak en handratkas, en kon mens soveel pret uit die kar haal. Jy kon net traksiebeheer afskakel en tussen die eerste twee ratte speel om die gat lekker uit te kry. Die enigste ander kar wat soveel pret vir die prys kan ontlok is die Toyota 86.

Hierdie nuwe MX-5… wel, daar is baie van daardie karakter verlore. Die outomatiese ratkas reageer nie met dieselfde speelsheid wanneer traksiebeheer af is nie en is dit nie meer ʼn maklike taak om die gat uit te kry nie. In die vorige model kon mens nog met die 2.0-liter se 118kW en 200Nm woel, maar hier, met dieselfde kragvlakke, kan jy dit nie so maklik doen nie. Die koppelaar van die vorige model het darem gesorg dat jy skuins kon gaan, maar die outomatiese ratkas met sy stadige oorskakelings boet jou baie in.

Lees: Onthou jy nog die Mazda3, meneer?

Jy kan natuurlik die ritmodus in Sport sit en ratte met die spane agter die stuurwiel verander, maar dis net nie dieselfde nie. Die MX-5 móét met ʼn handratkas beskikbaar wees.

Manskap,mazda,mx-5,mazda mx-5,cape town,roadster,miata,mazda miata,
Foto: Warren Wilson

Slotsom

Dis altyd lekker om weer met die wêreld se gewildste oopdak herenig te word. Die kar is enig in sy soort en bring dit altyd ʼn glimlag navore; selfs met die veranderinge wat aangebring is. Min karre doen dit. Maar mens kan nie weg kyk van die feit dat die kar verander het nie. Dis sagter, meer bedees, meer… ingeperk.

Mazda het nou wel die mark dopgehou en die kar volgens tendense aangepas, maar die groepie mense wat maandeliks ʼn MX-5 koop is ʼn uitgelese groep. Mazda weet dit tog, maar steeds het hulle die motor vir ʼn anderse teikenmark aangepas. Was dit verkeerd van Mazda om dit te doen? Seker nie, solank verkope dit regverdig.

Maar die MX-5 is nou, in sy wese, ʼn ander kar. En daar, aldus my, is Mazda verkeerd.

Prys: R538 200

Manskap,mazda,mx-5,mazda mx-5,cape town,roadster,miata,mazda miata,
Foto: Warren Wilson